Wêreldrugby het pas ‘n magdom riglyne vir 2023 aangekondig in ‘n poging om die spel vinniger en ‘n groter skouspel te maak. Dirk Lotriet bekyk die nuwe riglyne en gooi ‘n kat in die duiwehok oor wat regtig in rugby nodig is.
Die nuwe riglyne, wat kom na kritiek dat daar te veel onderbrekings in die spel is en dat die spel in sy huidige gedaante nie nuwe aanhangers lok nie, sluit in dat bestaande reëls strenger toegepas sal word. Dit sluit in dat die skopper ‘n doelskop binne 90 sekondes nadat die drie toegeken is moet uitvoer, dat strafskoppe binne 60 sekondes uitgevoer moet word, dat spelers nie toegelaat moet word om tyd te mors nie, dat lynstane sonder versuim gevorm moet word en dat skrums binne 30 sekondes nadat die merkie aangewys word, gevorm moet word.
Met die wêreldbeker in Frankryk net om die draai, kan mens nie verwag dat die reëls nou heeltemal gewysig moet word nie. Ek dink die nuwe riglyne is ‘n tree in die regte rigting, maar dit is beslis nie genoeg om die spel die skouspel te maak wat ek en baie ander sal wil sien nie.
Ek hou van die voorstel dat daardie reëls beter toegepas word. Dit grief my as ek langs ‘n skole-rugbyveld staan en sien hoe die span wat die bal in die lynstaan moet ingooi, se voorspelers eers vergadering hou en dan aandrentel lynstaan toe.
Of dat oorgewig, onfikse vaste voorspelers aangeslof kom skrum toe, hulle tyd vat om ‘n skrum te vorm, dat die skrum dan ineenstort, die skeidsregter op sy fluitjie blaas vir die een of ander tegniese oortreding, die skrum weer en weer gevorm word…
Maar daar is meer nodig om rugby die spel te maak wat hy vir toeskouers kan wees.
Die groot sondebokke is myns insiens stelskoppe en skrums.
Stelskoppers gebruik bitter baie tyd om aan te lê pale toe – veral as hulle span voor is en die einde van die wedstryd nader kom.
En die meeste van die tyd is skeidsregterbeslissings by skrums baie subjektief en enige span kon gestraf word. En wat dan gebeur, is dat die skeidsregter ‘n strafskop toeken, en dan word die stelskopper nader geroep, wat nog meer tyd opgebruik.
My voorstel rondom die skrums sou wees dat skrumskakels gedwing word om die bal reguit in te gooi, sodat hakers weer moet haak. Dit sal vaardighede dadelik weer bo brute krag plaas, ons sal meer vaskoppe sien en die spel sal interessanter raak.
Skrumskakels moet ook verhoed word om verby die bek van die skrum agter sy teenstander aan te beweeg. Laat die bal uitkom, laat dit agterlyn toe gaan…
As die skrum een keer val of opbreek, laat hy weer vorm, maar daarna kry die ingooi-span ‘n tikskoppie-vryskop.
Op die oomblik verloor ons omtrent ‘n kwartier van elke wedstryd weens ‘n gekarring met skrums – laat hulle eerder rugby speel!
Ons moet die spel ook vinniger maak en spoed en vaardigheid bo gewig en brute krag bevoordeel.
Op die oomblik laat die plaasvervanger-reëls toe dat daar agt plaasvervangers gebruik kan word, met die gevolg dat heelparty spelers oorgewig en onfiks is, omdat gewig meer tel as fiksheid en vaardigheid.
‘n Reus van 120 kg weet hy gaan net 50 minute speel, en oefen net daarvoor. En daarna word hy deur nog ‘n oorgewig reus vir ‘n halfuur se spel vervang. ‘n Kleiner, vaardiger, vinniger en fikser speler het in hierdie omstandighede nie ‘n kat se kans nie.
Rugby is ‘n spel vir 15 spelers en moet toeganklik wees vir alle liggaamstipes. Op die oomblik is dit nie. Dis nou ‘n spel vir 23 spelers en gewig en brute krag word bo enigiets anders bevoordeel. Ek weet Wêreldrugby is besig om beperkinge aan die plaasvervanger-reëls te ondersoek. Daar is ook eksperimente aan die gang om die getjommel met skrums hok te slaan en ek verwag veranderinge kort na die WB, maar ek vermoed dit gaan nie so beduidend soos my voorstelle wees nie. Tot nadeel van rugby.
Ons kort meer Malcolm Marx’e wat die veld kan volhardloop en werk soek, eerder as ‘n derde stut met ‘n nommer twee op sy rug. Ons soek Os Durandte wat kan duik en hardloop, nie dik stutte wat net skrum en iemand plattrek as hulle letterlik in hulle vasdraf nie.
Vinniger, fikser en beweeglike balspelers gaan net na vore begin tree as ons die plaasvervanger-reël verander. Doen weg met alle plaasvervangers, behalwe in die geval van beserings.
As ‘n afrigter steeds ‘n groot, oorgewig speler wil kies wat op slegs brute krag staatmaak, kan hy. Daardie bielie gaan in die vaste los en die skrums maak en breek soos hy wil – maar in die tweede helfte gaan hy nie byhou nie; die spel gaan baie meer taktiese moontlikhede oopmaak en daar gaan baie meer drieë in die laaste kwart van die wedstryd gedruk word – omdat fiksheid gaan saakmaak.
Rugby en die toeskouers gaan die groot wenners wees. As jy ‘n klomp vetties wil sien sweet en kreun, gaan kyk eerder sumo-stoei. In rugby het ons nodig om weer “Pale toe!” te kan sing.
Daar gaan meer plek vir kleiner, vernuftiger voorspelers wees. In moderne rugby sou jy eenvoudig nie ‘n Uli Schmidt of Jan Ellis – heng, selfs Groot Frik sou te klein wees – kon kies nie. ‘n Kleiner speler wat al vyftig minute se harde rugby agter die blad het, behoort eenvoudig nie teen ‘n vars reus te speel nie – dis ‘n resep vir ernstige beserings.
Ek is seker baie rugbyliefhebbers gaan nie met my saamstem nie. Daar is mense wat fynproewers is van die stryd tussen 14 voorspelers aan elke kant. En ek respekteer dit – ons het nie almal dieselfde voorkeure nie.
Ek het ‘n tydjie gelede met Derick Hougaard oor die oponthoude met skrums gesels. Sy antwoord was voorspelbaar vir ‘n kanonpoot wat baie jare agter die allesoorheersende Blou Bulle-skrum gespeel het: “Dis darem maar lekker as jou voorspelers drie skrum-strafskoppe kan afdwing en jy skop hulle oor. Dan is jy nege punte voor. In moderne rugby is nege punte ‘n groot klomp…”
Maar ek wil ‘n Cheslin Kolbe langs die kantlyn af sien suiker. Of ‘n Damian de Allende ‘n rolskoppie sien oppik. Nie kyk hoe Trevor Nyakane nie betyds by die losskrum kan opdaag nie.
Ek droom snags van ‘n Danie Gerber-breekslag, nie stampkarrugby waar dik, stadige agtstemanne weer en weer in die verdedigers vashardloop nie.
En ons gaan dit net kry as ons die skrumreëls vereenvoudig en van “taktiese” plaasvervangers ontslae raak.
Goeie opsomming van rugby. Stem saam dat die skrums vinniger moet gebeur asook lynstane die groot vergaderings opsie moet aangespreek word. Ek self n provinsiale afrigter en geniet die oorsig van die spel.