Jasmin Paris het Vrydag met bebloede bene by die wenstreep van die berugte Barkley-marathon aangekom en op die grond neergestort met net sowat negentig sekondes oor voor die afsnytyd.
Vir die meeste mense beteken die sin hier bo nie veel nie, maar die wat weet, sal besef dat ‘n vrou nog nooit hierdie uitmergelende wedloop in sy bestaan van 38 jaar kon voltooi nie. Nie dat mans eintlik beter vaar nie. Voor vanjaar se wedloop kon nog net 17 mans in byna 40 jaar klaarmaak.
Want die Barkley is die duiwel se eie wedloop – die moeilikste menslike uitdaging op aarde.
Hardlopers het 60 uur om die riller-wedloop van 160 km in Tennessee se Frozen Head State Park te voltooi. Sonder ‘n slapery, sonder GPS, sonder selfone.
Daar is vyf rondes van 32 km en jy boender voort deur die bosse met net versteekte boeke wat jy moet vind om jou met jou navigasie te help. Dag of nag, reën of sneeu, maak nie saak nie.
Dit was vanjaar ‘n jaar van historiese eerstes by die Barkley. Geen wedloop is meer berug onmoontlik om te voltooi nie. Oor die eerste 37 jaar het net 17 mense dit gedoen. ‘n Ongekende vyf hardlopers het vanjaar die wedloop voltooi.
Die wedloop is blykbaar twee jaar gelede ‘n rapsie “makliker” gemaak, maar dis steeds min of meer onmoontlik.
Die onmoontlikheid begin al met die inskrywing. Die wedloop word nie geadverteer nie. Die wegspringdatum en die vereistes word geheim gehou.
As jy wil deelneem, moet jy vir die stigter, die eksentrieke Lazarus ‘Laz’ Lake, ‘n opstel skryf oor hoekom jy wil hardloop. Net 35 deelnemers word jaarliks gekeur.
Groentjies moet, benewens die $1,60-inskrywingsgeld, ook ‘n nommerplaat van hulle tuisstaat/provinsie saamneem.
Deelnemers wat al die wedloop voltooi het, moet vir Laz ‘n pakkie Camel-sigarette neem.
Op die dag van die wegspring word daar enige tyd tussen middernag en die middaguur op ‘n reuse skulp geblaas. Dan weet jy jy moet oor ‘n uur aantree – en dan begin die “wedloop wat sy eie kleintjies vreet” as Laz ‘n sigaret opsteek.
Die 160km is reeds erg, maar die bulte is eenvoudig moordend. Dit is die ekwivalent van TWEE keer op en af by Everest te hardloop.
Die roete is glad nie uitgemerk nie en niemand kan jou help in die wedloop nie – net in die kamp by die geel hek by die wegspring. G’n wonder dat slegs die wêreld se heel beste ultra-atlete gekeur word, en dat 98% van hulle nooit klaarmaak nie.
Dit is sport se moeilikste, moordendste geleenthede, en tog het dit een van die berugste geword vanweë verskeie briljante dokumentêre films, insluitend The Barkley Marathons: The Race That Eats It’s Young en Where Dreams Go To Die, wat die wêreld vertel het van die monster-wedloop wat die wêreld se grootste ultrahardlopers vernietig.
Die wedloop vind jaarliks plaas sonder dat die wêreld kennis neem. Maar die wat weet, volg die lydingfees van ver af, danksy vae, ongereelde opdaterings deur ‘n man genaamd Keith op X.
Elke jaar laat Keith ons weet dat die skulp geblaas is en die sigaret aangesteek is. En dan breek die hel los…