Kan jy Die Waarheid hanteer?

Welkom by Die Waarheid, ‘n splinternuwe inligtingsdiens in Afrikaans vir almal wat na meer kennis hunker.

As jy deur ons aanbiedinge blaai, sal jy agterkom dat dit om nuus, leefstyl-artikels, kultuurkwessies, opinies en sport draai.

Anders as baie bestaande nuusdienste, probeer ons jou nie met brekende nuus toegooi nie. Nuus kom uit alle oorde by ons as moderne mense uit. Soggens as jy die radio aanskakel, kry jy die varsste nuusstories. As jy na jou selfoon kyk, voer Google jou met nuus. Jy kry dit in jou motor op pad werk toe op die lamppale… Selfs as jy inkopies gaan doen, blêr die supermark se luidsprekers dit uit.

As mens hierdie nuusoorlading in aanmerking neem, kan ons baie goed verstaan dat mense nie nóg nuus soek nie, daarom gee ons jou net ‘n keur van die belangrikste nuusgebeure wat Afrikaanssprekendes raak.

Dit is vir ons veel belangriker om aan ons gaste konteks te gee oor dit wat in die nuus gebeur. Om opinies te deel, selfs al is dit soms opinies waarmee nie almal saamstem nie. Om ons kultuur te bevorder in die taal waarin dit floreer.

Benewens ‘n keur van die belangrike nuusstories van die dag en opinies daaroor, bring ons ook nuus oor die nuutste verwikkelinge op die Afrikaanse musiektoneel. Ons vertel jou van die nuutste boeke in jou taal, sowel as van Engelse boeke waarvan mens kennis kan neem. Ons bring gesondheidsnuus, deel medisynenuus en gee gesondheidswenke en boererate.

Daar sal ook heelwat vir jonger lesers wees. Goed soos die musiek waarna hulle graag luister en indrukke van die jongste videospeletjies, selfone, rekenaars en ander katoeters.

Dan is daar ook die effe vreemder stories wat soms met ‘n tong in die kies aangebied word, want hoewel ons die eksentrisiteit daarvan met ope arms aangryp, vergeet ons nooit dat ons in ‘n gek wêreld leef nie.

En nee, ons is nie ‘n regse blad nie. Inteendeel, ons benader die deel van inligting en kennis uit ‘n klassieke liberale hoek.

Ja, ons weet liberalisme het ‘n vloekwoord onder Afrikaanssprekendes geword. En met goeie reg – daar is ‘n spul mense wat hulleself liberaal noem en die vervloeking van ‘cancel culture’ goedpraat, wat dink dis ‘n skande om ryk te wees as daar armes in die land is, wat nes wafferse Apartheidsdissipels sekere rasgroepe as goed en ander as sleg afmaak. Mense wat hulleself liberaal noem, maar glo mense

van sekere kleure het minder reg op veiligheid, gesondheidsorg, geleenthede, opvoeding en werksgeleenthede as ander.

Ons is nie daardie soort liberaliste nie. Ons glo in die vryheid van die individu en deregulering. As jy glo die regering behoort vir jou te kan vertel wie jy mag aanstel en wat jy met jou swaarverdiende geld moet maak, is jy nie ‘n liberalis nie – jy is ‘n bleddie sosialis in ‘n pienk pakkie en basta!

Die woord liberalisme kom van die Franse word liberté, wat vryheid beteken. En dit is waarvoor ons staan. Vryheid, soos wat dit in die grondwet beskerm word. Vryheid om te kan werk en ‘n bestaan te maak sonder dat jy werksgeleenthede of bevordering op grond van velkleur geweier word. Dat jou kinders vry kan wees om die kursus van hulle keuse kan gaan studeer as hulle punte goed genoeg is – nie net as hulle ras gewens is nie. En dat jou kinders ook die Vryheid mag proe om te kan werk en ‘n inkomste te kan maak.

Ons glo daar is plekke waar ‘n regering sy hande moet tuis hou. Om goed te regeer, is om min te regeer, en ons regering kry dit nie reg om goed of min te regeer nie.

Wat dink ander mense van dit wat in die land gebeur? Wat is die nuutste tendense in Afrikaanse musiek? Wat gebeur agter die skerms? Hou Die Waarheid dop. Ons gee jou ‘n blik op ons gemeenskap op ‘n manier wat geen koerant of webwerf dit doen nie. Want ons gló in Die Waarheid.