Skip to main content

WES-KAAP – ‘n Egpaar van onderskeidelik 46 en 38 jaar oud is op 31 Oktober 2024 gearresteer op aanklagte van verkragting en mensehandel. Die arrestasie is bewerkstellig deur die multi-dissiplinêre span bestaande uit die Wes-Kaapse Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek, SAPD K9-eenheid, Melkbosstrand SAPD, departement van maatskaplike ontwikkeling en departement van gesondheid.

Gedurende Oktober 2024 is die Valke ingelig oor ‘n slagoffer van mensehandel wat daarin geslaag het om van haar handelaars te ontsnap. Die ondersoek het aan die lig gebring dat die slagoffer ‘n dienskontrak aangebied is om vir ‘n egpaar oorsee te werk, maar nie lank na haar aankoms nie, is sy na bewering deur haar werkgewers verkrag en seksueel uitgebuit. Verskeie rolspelers, insluitend ander staatsdepartemente en nie-regeringsorganisasies, was by die ondersoek van hierdie aangeleentheid betrokke. Die verdagtes se adres is daarna in Melkbosstrand geïdentifiseer. ‘n Soektog is uitgevoer en twee vermeende handelaars is in hegtenis geneem.

Die paartjies se twee jong kinders is verwyder en in die sorg van maatskaplike werkers van die departement van maatskaplike ontwikkeling geplaas en sal vir mediese ondersoeke geneem word.

Die verdagtes sal op Vrydag, 01 November 2024 hul eerste verskyning in die Atlantis-landdroshof maak.

Leave a Reply

error: Content is protected !!