Skip to main content

Ridder Donki-got, die man van Calitzdorp – Deur Koos Roets

‘n Verhaal geïnspireer deur een van die grootste helde in wêreldliteratuur.

Op ‘n reguit stuk grondpad tussen Klaarstroom en Willowmore, trek iets ongewoons Donki-got en Sancho se aandag. Donki-got bring Rocinante met knarsende remme tot stilstand. Bewend van opgewondenheid skop hy die Harley op sy staander en wys. “Vriend Sancho, lyk my hier kan ons weer ons arms tot by ons elmboë in ‘n nuwe avontuur steek.”

Sancho sug. “’Seblief tog, meneer het gesien wat met die windpompe gebeur het. Dink in hemelsnaam net eers voor meneer weer aanja.”

Donki-got slaan sy gesigskerm op en bekyk ‘n aankomende prosessie met skrefiesoë. Voor in die begrafnisstoet loop die oorgewig pastoor Archibald Jafta in sy swart pak, Bybel onder die arm met sy twee swetende diakens, Freek Jantjies en Tollie Williams, kort agter hom. ‘n Drieman koperblaasorkessie volg, daarna die twee donkiekarre in enkelgelid. Op die voorste donkiekar is ’n doodskis met Karoobos-kransies, die donkiekardrywer sowel as die wenende weduwee en die verwese moeder van die afgestorwene op die sitbankie onder ‘n sambreel. Van die begrafnisgangers is op die tweede donkiekar ingebondel, terwyl die res al wenend en singend agterna tou.

Donki-got beduie opgewonde. “Luister hier Sancho, al sien jy dat ek vandag in die grootste gevaar op aarde verkeer, moet jy my nie kom verdedig nie.” 

Sancho is verward. “Nou verstaan ek glad nie die besigheid nie. By daai windpompe het meneer my lelik uitgedinges oor ek nie saam geveg het nie, en nou …“                                                            

Donki-got val hom geïrriteerd in die rede. “Die wette van ridderskap verbied jou om my tot hulp te snel voordat jy nie self tot ridder geslaan is nie, Sancho. En in jou geval meen ek sal dit meer as net ‘n rukkie neem. Intussen is jy maar net nog die agterryer van ‘n ridder.”

Sancho is verlig, hy wys dankbaar met sy vuil duim na bo. “Sharp, dan’s ek bly ons verstaan mekaar!” Hy wys na sy geskeurde broekspyp. “Dalk kan meneer hier vir my ‘n broek buit. As ek my eiland sou kry, sal dit mos nou nie goed lyk as ek só lyk nie. Ek sal my dan nogal skaam.” 

“Ek is nie verantwoordelik vir jou geestestoestand of die toestand van jou broek nie, Sancho; in ‘n geval soos hierdie sal jy vir jouself moet sorg.”

Donki-got trek sy ou verkyker uit sy saalsak en bespied die optog. “Tensy ek my sleg misgis, is daardie donker gedaantes wat voor loop, towenaars wat besig is om daai twee beeldskone prinsesse in die voorste koets te ontvoer.”

“Dis ‘n begrafnisstoet en daai is twee blêddie donkiekarre, Meneer!” kom dit moedeloos.

Donki-got hoor niks. Hy skop die Harley in rat, storm wild vorentoe, slaan op die laaste oomblik remme aan en neem uitdagend in die middel van die pad stelling in.

Die verskrikte orkes blaas ‘n paar vals note en raak dan stil.

Pastoor Jafta steek vas en gaap die verskynsel voor hom oopmond aan.                           

“Is iets verkeerd, Meneer?”                                                                                                                  

“Stel dadelik die prinsesse vry of maak gereed om op die plek te sterf!” gebied Donkie-got. 

Die pastoor is uit die veld geslaan. “Na waffer prinsesse verwys u, Meneer?”

Donki-got se hand gly dreigend na sy swaard. “Moenie nou met allerhande storietjies by my kom nie, ek ken julle soort, verfoeilike skurke!”

Op die voorste donkiekar draai die wenende weduwee na haar skoonma. “Is ons op candid camera of wat?”                                                                                                                               

Skoonma kyk rond op soek na versteekte kameras. “Ek sweer dis weer daai Leon Schuster wat ‘n moewie maak en ons traai uitvang.”

Die wenende weduwee skud haar kop. “Ek dink nie dis hy nie, Ma … Schuster is deesdae baie dik.”

Donki-got stap tot by die donkiekar en maak ‘n diep kniebuiging voor hulle.”Ek verseker u hierdie is nie iets ligsinnig soos ‘n rolprent nie, skone prinsesse, maar die naakte waarheid.”

Die pastoor se geduld raak op. Hier staan hy in sy swartpak in die Karoo-son, die sweet loop hom af en die vent verwys na ou Susara Booysens en haar skoondogter as prinsesse. Hy sug. “Ek’s pastoor Jafta en dis diakens Williams en Jantjies. Wat wil u van ons hê, Meneer?”

Donki-got trek sy swaard uit sy skede en gee ‘n tree nader aan die pastoor. “Ek beveel u om daardie twee prinsesse onmiddellik vry te stel.”                                                         

Die pastoor draai na sy diakens. “Het die son die man dalk bygekom of is daar dalk ‘n botteltjie of twee betrokke?”                                                                                                                               

Die ander lag. Jafta leun vorentoe en ruik met ‘n dramatiese gebaar aan Donki-got. Hy skud sy kop. “Ek ruik nie drank nie, Meneer, so jy moet gek wees. Gee nou asseblief pad.”

 Donki-got gee nog ‘n tree nader aan Jafta en klap die blikskerm van sy helmet toe. “So u weier om hulle te laat gaan?”                                                                                    

Die pastoor, nou vas oortuig dat die man van lotjie getik is, ignoreer hom en begin aanstap.

Vir ‘n oomblik is Donki-got gegooi, maar hy pluk homself bymekaar, gluur na die pastoor … en storm dan dreigend met sy swaard al swaaiende omhoog, op die man af. “Santiago y cierra, España!” bulder hy sy gevegskreet.                                                                                                                

Sancho skop sy Vespa op sy staander. “Agge nee, hier gaan ons alweer! Nee Meneer! Los die man!”

Donki-got slaan na die pastoor wie se brawade nou soos mis voor die son verdwyn het.                                                                                                                               

“Hardloop julle, die vent ís van sy kop af!” Die verskrikte man smyt sy Bybel eenkant en maak gillend gatskoon, die veld in.

Donki-got steek vas. “Ja hardloop jy maar, jou lafaard! Ek sal jou aanstons in die hande kry en dan gaan jou kop rol!”                                                                                                                  

Toe diaken Jantjies sien hoe Pastoor gatskoonmaak, vererg hy hom. ”Hei jy! Kyk nou wat het jy nou daai godsman laat doen, jou idioot!”                                                                                          

Donki-got draai stadig om. “Praat jy altemit met my?”                                                           

“Ja, jy! Ek praat met jou,” kom die astrante antwoord.                                                   

Vir Donki-got is dit beslis nie die wyse waarop ‘n dolende ridder aangespreek behoort te word nie. “Jou ongeskikte skepsel!” Die arme vent kry sonder versuim ‘n woeste hou oor die kop wat hom soos ‘n slagvark in die stof laat neerplof. Diaken Williams besef dat ‘n mal mens van die gevaarlikste goed op aarde is en kies koers die Karoovlaktes in. Die donkies raak onrustig; die donkiekarryers klou verbete aan die leisels.

Sancho sien sy kans, storm op die verslane pastoor Jantjies af en begin sy broek uittrek. ”Ek het hom, Meneer!”

Donki-got ignoreer sy agterryer; hy kom staan ewe galant voor die twee verdwaasde ‘skone dames’ en maak ‘n stywerige, verspotte kniebuiging. “Nou kan u edele dames doen wat u welgeval. U is van daai bose towenaars bevry.”

Maar in plaas van dat die ridder, soos gepas, vir sy heldedaad bedank word, wys die wenende moeder ontsteld na Sancho wat wild aan Jantjies se broek pluk. “Kyk wat doen daai verdomde vent met Pastoor! Toe julle klomp slapgatte, help bietjie daar!”

‘n Skraal brawe roubeklaer op die agterste donkiekar voeg daad by die woord. Hy spring af en storm vorentoe, gryp vir Sancho en probeer om hom van die gevalle pastoor aftrek. “Wat de donner dink jy doen jy?” wil hy weet.

“Los my uit, ek vat net my share van die buit!” skree Sancho.

Die broek glip skielik oor die pastoor se boude. Sancho verloor sy balans en kom op sy agterstewe te lande. Twee lede van die orkes smyt hulle blaasinstrumente neer, storm op hom af en begin die agterryer genadeloos skop. Maar Sancho bly klou verbete aan die broek. “Help Meneer! Help my!” kom dit benoud.

Donki-got maak weer ‘n diep kniebuiging voor die twee dames. ”Verskoon my net ‘n oomblik asseblief, daar is ‘n ander probleempie wat op die oomblik dringend my aandag verg.” Hy storm op die twee musikante af, die swaard al swaaiende bo sy kop. “Santiago y cierra España!” 

Die trompetspeler sien die aanstormende ridder. “O shit, hier kom daai mal ene!”

Beide hou op skop en kies, nes Pastoor en diaken Williams, koers die Karoo-veld in.

“Skaamtelose lafaards!” Donki-got draai waardig terug na die twee dames en maak weer sy sjarmante kniebuiging. Hulle is verbaas en verstom deur die ridder se absurde vermetelheid.

“Wie de hel is jy?” wil die weduwee ergerlik weet.

Donki-got stoot sy bors trots uit. “U bevryder is Donki-got, die man van Calitzdorp, dolende ridder, avonturier en slaaf van die weergalose, beeldskone Dulsie.” Die skoonma van die weduwee draai na Elvin wat verbete aan die leisels klou. “Toe jy, Elvin! Help ‘n bietjie met die man, my magtig!”

“Ek? Wat moet ek maak, Antie? Ek hou die donkies vas.”

Sy beduie na die swaard. “Gee die leisels hier en gryp daai verdomde ding voor die idioot iemand seermaak!”

Die skoonma gryp die leisels, en Elvin gryp ‘n graaf van die donkiekar af. “As jy nie nou end kry met jou stront nie, donner ek jou ander tande ook uit!” kom dit dreigend. Hy tree versigtig nader en probeer om die swaard by Donki-got af te neem, maar Elvin ken nie die ridder Donki-got nie!

Hy gee ‘n vinnige two-step vorentoe en stamp Elvin uitdagend met die platkant van die swaard teen die bors. “Jou armsalige skepsel, ons sal sien wie slaan wie se tande uit!”

Die twee sirkel soos wafferse vegters om mekaar. Dan spring Donki-got vorentoe en storm verwoed op Elvin af. “Santiago y cierra, España!” klink die nou reeds bekende aanvalskreet op.

Maar die uitgeslape Elvin is ‘n flink en gesoute straatvegter. Hy duik onder Donki-got se woeste geswaai in en kom die ridder met ‘n helse hou van die graaf by.

Die swaard vlieg uit Donki-got se swetende hand en skuif oor die klipperige pad. Met ongeloof sien hy hoe Elvin dit met minagting in die bossies langs die pad skop. Hy gooi sy hande in ‘n smeekgebed ten hemele. “Dulsie, blom van skoonheid! In jou gebede, snel tog jou ridder om hulp!”

Maar Elvin is nog nie klaar nie, nie in die minste nie! Dié keer kom die graaf hard op Donki-got se agterkop neer, die helmet met skerm, groen lintjies en al, spat uitmekaar en val in stukke op die grond.

Donki-got, half deurmekaar van die helse hou, kyk verstar en verslae na die helmet. Hy kan nie glo wat nou-net gebeur het nie. Weer ‘n keer hef hy sy hande al smekende omhoog. “En nou Dulsie, my geliefde? Wat het jy nou gemaak? Dis tog om jou ontwil dat ek hier in doodsgevaar verkeer en om my lewe veg!”                                                                                                                     

Elvin skop die stuk oorblywende helmet uit die pad. “Nou toe! Waar’s jou groot bek nou? Gee jy oor, jou ou mal donner?”                                                                       

Donki-got rek hom tot by sy volle ses voet-een-duim uit. “Nooit! Ek sal met my kaal hande veg voor ek vir ‘n luis soos jy oorgee!”

Elvin kap na Donki-got met die skerp kant van die graaf. Dit tref, bloed spat en ‘n stuk van die ridderlike oor bly in die slag. Dit ontketen hernude woede by ons held. Hy skarrel handeviervoet tussen die bossies in, raap die swaard met albei sy hande op en skreeu. “Nou sterf jy, jou ellendeling!” Hy storm en kap blindelings na die donkiekardrywer.

‘n Gelukskoot tref, Elvin steier, tol dronk-dronk in die rondte en slaan dan neer.

Donki-got spring rats nader en druk die punt van sy swaard tussen die man se oë. “Gee jy oor of wil jy jou kop in die stof sien rol?”                                                                                                                           

“Jou moer, Oupa,” kom dit parmantig.                                                                              

Donkie-got druk ‘n aks harder en ‘n druppel bloed loop teen Elvin se neus af. “Volgens die wette van die ridderskap het ek nou die volste reg om jou kop af te kap!”

Dis net die weduwee se gil wat die arme man se gatvelle red. “Los vir Elvin, jou blêddie boelie!”

Donki-got lig die swaard, draai na haar en maak ‘n sierlike kniebuiging. “Sekerlik skone dame. U begeerte is my bevel.”

Sancho wat intussen Jantjies se broek uitgetrek het, val op sy knieë voor Donki-got neer. Hy gryp die ridder se hand en soen dit soos hy Prince Valiant dit in die Sondagkoerante se komieks sien doen het.

“Welgedaan Meneer!” Donki-got vervies hom en ruk sy hand weg. ”Wat se kruiperigheid is dit met jou, Sancho?”                                                                                                                        

“Kan ek seblief nou my eiland kry, Meneer? Ek’t eerbaar baklei en ek’s reg om goewerneur te word.” Hy hou die broek trots vir Donki-got om te sien.

Donki-got voel-voel aan sy stukkende oor, skud dan sy kop. “Kyk Sancho, gevegte soos dié is nie avonture oor eilande nie, maar avonture van kruis[aaie.”

Sancho staan brommend op en skud die stof van sy broek se bokknieë af. “As beloftes vlerke was, was meneer lankal ‘n vlermuis!”                                                                                                           

“Wat? Wat sê jy daar Sancho?”                                                                                              

Die agterryer het nie gedink die ridder hoor nie, veral nie met die verflenterde oor nie. “Ek sê … uh …”

“Ek’t gehoor wat jy gesê  het, jou ondankbare vent!”

Met ‘n swaar sug sit Donki-got die verflenterde, gebuigde helmet op sy kop, druk die gebreekte gesigskerm in sy saalsak en draai dan ewe galant na die twee oorblufte vroue op die donkiekar. “Tot wedersiens, skone dames. U is weliswaar vry om te gaan waar u ookal wil.”

Hulle kyk oopmond hoe die ridder en sy agterryer doodluiters op hulle rygoed klim en vertrek. En soos in Howard Hawks se legendariese cowboy fliek Rio Lobo, sak die son in ‘n bloedrooi bal oor die kronkelende grondpad voor hulle weg.

Vir ‘n rukkie voel Sancho ‘n bietjie soos ou John Wayne.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!