Die Israelse Weermag (IDF) het Donderdag gesê hulle “ondersoek” of Sinwar een van die Palestynse militante was wat in ‘n skermutseling op ‘n ongespesifiseerde plek dood is.
Israel Katz, DIE minister van buitelandse sake, het ook ‘n nota aan verskeie van sy kollegas regoor die wêreld uitgestuur wat Sinwar se dood bevestig, luidens ‘n amptelike verklaring.
Sinwar (62) is die politieke leier van Hamas in Gasa sedert vroeg in 2017. Hy het in Augustus volle leierskap van die groep aanvaar, nadat Ismail Haniyeh in Teheran vermoor is.
Saam met Mohammed Deif, hoof van die Ezzedeen al-Qassam Brigades (die militêre vleuel van Hamas), is Sinwar wyd beskou as die meesterbrein van die 7 Oktober 2023 aanval op suidelike Israel wat die voortslepende konflik ontketen het. Israel beweer dat hulle Deif vroeër vanjaar in ‘n lugaanval doodgemaak het, hoewel die groep sy dood ontken het.
Ongeverifieerde en uiters grafiese beelde wat Donderdag aanlyn gesirkuleer het, wys na bewering Sinwar se liggaam wat gedeeltelik in puin begrawe is. Die liggaam het tekens van veelvuldige ontploffingstrauma’s getoon, sowel as ‘n oënskynlike skietwond in die kop. Volgens mediaberigte is die liggaam deur die weermag na ‘n laboratorium geneem vir DNS-toetse.
Israel het verlede jaar oorlog teen Hamas verklaar, nadat sowat 1 100 mense in die suide van die land tydens die verrassingsaanval op 7 Oktober dood en sowat 250 mense ontvoer is. Swaar artillerie- en lugaanvalle, sowel as Israeliese grondoperasies, het in die jaar sedertdien wydverspreide vernietiging in Gasa veroorsaak. Sowat 42 000 mense, hoofsaaklik vroue en kinders, is volgens plaaslike gesondheidsowerhede in die Palestynse enklawe vermoor.