Skip to main content

NELSPRUIT – Vyf verdagtes sal na verwagting vandag voor die Ermelo-landdroshof verskyn omdat hulle na bewering geld afgepers het van twee individue wat by ‘n myn in Ermelo sake doen.

Volgens inligting het die verdagtes vir ‘n tydperk van vyf maande op ‘n onbehoorlike wyse byna R100 000 by twee individue ontvang.

Volgens inligting het een slagoffer meer as R30 000 verloor om hom by ‘n myn te laat besigheid doen. Die slagoffer is vir twee maande geviktimiseer, van Julie tot Augustus 2024.

Toe die verdagtes nog geld eis, het die slagoffer besluit om die saak gister by die polisie aan te meld.

Die tweede slagoffer is gedwing om meer as R55 000 as beskermingsfooi te betaal. Sy beproewing het van Mei tot Oktober 2024 vir vyf maande voortgeduur toe hy ook gister besluit het om die saak by die polisie aan te meld.

Volgens inligting het die verdagtes weer gister betalings geëis. Die slagoffers het besluit om by die polisie aan te meld aangesien hulle nie meer die geld kon bekostig nie en het dreigemente van die verdagtes in die gesig gestaar.

’n Reëling is getref waardeur die slagoffers ingestem het om die verdagtes in Breyten te ontmoet vir onderhandelinge. Daar word berig dat die slagoffers tydens die vergadering gyselaar gehou is.

Die polisie het reeds ondersoek begin instel wat hul gelei het tot die plek waar die slagoffers aangehou is.

Vier verdagtes is op die plek in hegtenis geneem. Voorlopige ondersoeke het die polisie na die myn gelei, waardeur die vyfde verdagte ook in hegtenis geneem is.

Die waarnemende provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga generaal-majoor (dr) Zeph Mkhwanazi het slagoffers van misdaad aangemoedig om met onmiddellike effek aan te meld sodat die wetstoepassers die misdaad kan hokslaan. “Ons is daartoe verbind om ‘n veiliger omgewing te skep vir almal, insluitend slagoffers van afpersingsverwante misdrywe,” het die Generaal gesê. Die Generaal het verder Ermelo Polisie geloof vir hul vinnige reaksie.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!