Sonnette Lombaard
Suid-Afrikaners landwyd is droewig oor die skoknuus dat Alison Botha 30 jaar ná die wrede aanval op haar waartydens sy vermink, verkrag en bykans keel afgesny is, nou weer om haar lewe moes veg.
Dié dapper en mooi Kaapse vrou se bomenslike veggees en veral kophou om te bly leef ná die intense verrassingsaanval op haar in Port Elizabeth in 1994, het haar oornag bekend en volksgeliefd gemaak.
Sy sterk tans aan in ‘n neurologiese saal in ‘n Kaapse hospitaal ná erge breinbloeding onlangs waartydens sy weer by die dood omgedraai het.
Bekend vir haar buitengewone veggees, delf Alison weer sedert drie weke gelede diep nadat die aneurisme gebars en tot erge breinbloeding gelei het.
Alison wat nie tot ‘n mediese fonds behoort nie, is op 25 September na ‘n staatshopitaal op George gehaas nadat die aar in haar brein gebars het. Sy is eers drie dae later na ‘n neurologiese hospitaal in die Kaap oorgeplaas waar die breinbloeding met noodprosedures gestop kon word.
Die skade was egter toe reeds groot en waar sy destyds nog haar oë kon knip en arms gebruik ná die aanval, is sy nie nou daartoe in staat nie. Sy sukkel ook met haar spraak.
Alison sal waarskynlik nie weer heeltemal normaal kan funksioneer nie en ‘n lang rehabilitasiepad met uitgebreide terapie wag. Mediese kenners betrokke by haar, meen die nasleep van die diepe trauma met die destydse wrede aanval op haar lewe kon daartoe lei dat die aar drie dekades later in haar brein gebars het.
Spesifiek so, ná die skokvrylating laas jaar van haar twee aanvallers op parool nadat hulle lewenslank tronk toe gestuur is.
Theuns Kruger en Frans du Toit was albei 27 toe hulle Alison in die middernagtelike ure, ‘n week voor Kersfees, in 1994 voor haar Baaise woonstel in haar motor oorval en haar toe daarin ontvoer het.
Hulle het op die verlate Noordhoek-pad afgetrek en haar in die bosse wreed verniel deur haar brutaal te verkrag en byna haar keel af te sny. Met 30 steekwonde, ook aan haar maag, was haar ingewande buite haar liggaam, en is sy vir die dood agtergelaat.
Sy het nogtans die name van haar twee aanvallers in die sand geskryf voor sy haar hemp om haar buik gebind en bebloed stadig groot pad toe begin kruip het vir hulp.
Alison het later haar dapper storie in die trefboek I Have Life vertel. Dit het gelei tot ‘n grootdoek-dokkie in 2016 waarin Alison self verskyn het. Die jong Alison is deur Christia Visser gespeel.
‘n Veeartseny-tegnologiestudent wat destyds in PE vakansie gehou het, het op Alison afgekom en haar lewe gered. Dít sou daartoe lei dat hy sy loopbaanrigting daarna na medies verander het en hy en Alison het hegte vriende geraak.
Dr. Tiaan Eilerd van Pretoria het juis Alison in die Kaap gaan bystaan. Maroela Media berig Eilerd was geskok om haar te sien. Sy was ná haar breinoperasie eers in intensiewe sorg maar sterk nou in die neurologiese saal verder aan.
Volgens hom baklei sy oudergewoonte met alles in haar, maar omdat dit dié keer haar brein is wat seergekry het, is die herstelpad eiesoortig taf en lank.
Mense wat ’n bydra wil maak tot haar herstel, kan ‘n WhatsApp-boodskap stuur na 072 244 8262 of ‘n epos na GirlsonFire by girlsonfire@gosa.co.sa
- As self die oorlewende van ‘n breinaneurisme en massiewe breinbloeding en beroerte in 2019, het hierdie nuus my vanaand geskok. Ek het jare gelede ook Alison se boek gelees en was aangedaan deur haar buitengewone braafwees en nugtere oorlewingsdrang. Haar doelgerigte systap van die slagoffermentaliteit en beskeie menswees ondanks haar noue ontkoming en gepaardgaande diep emosionele en fisiese skade en permanente sielletsels is ‘n inspirerende triomftog. Dat sy daarna die lewe GEKIES en steeds positief daartoe wou bydra, het my verwonderd gelaat.
- Dis ‘n feit dat minder mense gelukkig is om ‘n breinaneurisme te oorleef. Internasionale statistieke wys ongeveer 50% van breinaneurisme-gevalle sterf wanneer die aar bars – nagenoeg15% van mense nog voordat hulle die hospitaal bereik. Nog sowat 25% kan sterf binne drie maande daarna weens komplikasies. Van diegene wat oorleef, ervaar ongeveer 66% permanente breinskade. Mense met traumatiese breinbeserings se lewe verander vir altyd en eis ingrypende aanpassings. Dit laat die slagoffer met verskeie, verlammende breinbeserings en gaan dikwels gepaard met ‘n beroerte wat die pasiënt aan een kant van die liggaam verlam. Tuisversorgers of gespesialiseerde inrigtings is dikwels nodig om sulke beseerdes te help versorg, aangesien hulle emosioneel met van depressie tot aggressie en balans sukkel en kognitief kan vasval. Uitgebreide rehabilitasie soos spraak-, arbeids- en fisioterapie is nodig. Tydens rehabilitasie word breinbeseerdes waar moontlik, geleer om nuwe roetes in hulle eina-breine te skep om weer te kan sluk, praat, loop, dink en doen. Hoewel groot vordering hiermee gemaak word, is almal nie ewe gelukkig nie en hang dit af waar die brein beseer is, terwyl ouderdom en die regte soort en tydige terapie ook deurslaggewend kan wees.