UPINGTON – Die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die ZF Mgcawu-distrik het inligting ontvang oor ‘n verdagte wat na bewering onwettig gevulde gasbottels aangery het om in die ZF Mgcawu-omgewing te verkoop.
Volgens inligting word beweer dat die gassilinders by ‘n ongeregistreerde hervulstasie gevul is. Die gas is ‘n substandaard gas en dus in stryd met die wet.
Verder is ontdek dat hulle geregistreerde handelsmerksilinders gebruik het om onwettig te hervul en te herseël.
Die vragmotor met ‘n sleepwa is buite Upington gestop, en 289 van hierdie gevulde gasbottels van verskillende groottes en handelsmerke is ontdek. Die handelsmerkhouers is gekontak vir bevestiging van die hervul van dei bottels, maar hulle het geen kennis daarvan gehad nie.
Daar is beslag gelê op die silinders ter waarde van R 273 260.00 asook die vragmotor met die sleepwa.
’n 49-jarige verdagte is aangehou vir die oortreding van die Wet op Verbruikersbeskerming sowel as die oortreding van die Wet op Vervalste Goedere.