Oom Konstantijn – Deur Karien Willemse
“Shakes!”
“Shaieeeeeks!” Die mollige, vaal vroutjie hier voor my se roep klink soos een van daardie huile wat die wolwe in Alaska gee wanneer hulle hul eie gebied patroleer. Sy gooi selfs haar kop so ver agtertoe dat dit lyk asof haar bolla enige oomblik met ‘n plof op die sementvloer hier by my voete gaan land. “Nugter alleen weet alleen wat hy elke dag heeldag daar maak, want g’n mens kan iets in hierdie barre grond aan’t groei kry nie.” Sy kyk my agterdogtig aan. “Ja-wel, jy kan nou nie die res van die middag op die voorstoep staan en borrels blaas nie. Kom in.” Ja-nee, hier slaan sy die kitaar.
Die oomblik wat ek oor die drumpel tree rys elke haartjie in my nek penorent. Daar hang ‘n geraamde swart en wit foto van ‘n man wat langs ‘n outydse voertuig staan, sy een hand besitlik op die enjinkap. Mens kan dit nie miskyk nie, want dit vertoon statig, reg in die ingangsportaal langs die voordeur. Ek staar na die man terwyl ek verbyloop, en is byna seker dat sy oë my volg.
“Sit,” sê sy. “Ek maak tee.”
“Koffie asseblief,” roep ek agterna. Tee en ek was nog nooit maatjies nie. Veral nie swart tee nie, want ek drink nie melk nie.
Eers sit ek by die venster, maar die ou man in die raam bly in my gedagtes, en ek voel verplig om op te staan en só te sit dat ek die foto kan sien. Koue rillings rol soos ‘n tsoenami oor my ruggraat. Die einste man leun nou teen die kar, sy arms oor sy bors gevou. Hy staan wragtig en grinnik. Ek weier om my oë te knip. Dalk het ek my verbeel.
“Suiker?”
Ek skrik myself byna in ‘n ander bloedgroep toe die vroutjie langs my praat. “Twee,” sê ek, “…dankie.” Byna vergeet ek my maniere, maar my oë bly op die foto. Sy sien waarna ek staar.
“Oom Konstantijn. Hy was my oupagrootjie se stinkryk broer. So te sê die eerste kar in die land besit, in ‘n moewiese huis gebly, nooit getrou nie. My pa het altyd loop vertel dat oom Konstantijn net op ‘n dag verdwyn het. Woeps! Net so. My oupa het blykbaar troppe speurders gehuur, vir jare na enige teken van hom gesoek. Verniet. Nog nooit eers ‘n graf iewers opgespoor nie. Daar was sprake van een of ander vrou van Bulgarye of iewers met wie hy deurmekaar was. Sy was glo ‘n heks of ‘n ding, maar niks kon bewys word nie. Wens ek kon uitvind wat van al sy geld geword het. Die bank was leeg getrek, en hy was gone. Woeps! Net so,” sê sy weer en stop my ‘n koppie swart koffie in die hand. “Ek ga’ Shakes soek.”
Ek hoor die voordeur toeslaan agter haar.
Oom Konstantijn wink my nader. “Ek droom,” prewel ek oor en oor, maar gehoorsaam die ou man. Hy draf flink tot agter sy outydse tjor en maak die ruim kattebak oop. Met ‘n groot gesukkel leun hy agteroor en haal ‘n groot bruin leertas uit. Die tas is so swaar dat dit hom oombliklik vorentoe ruk waar dit met ‘n ruk op die grond val. My neus is nou byna teen die foto om te sien waarmee hy nou besig was. Die tas se rits word oopgemaak en die flap afgegooi sodat ek kon sien wat daar in was.
Magtig! Krugerponde en goudstawe lê netjies in rye, in lappe toegedraai vir beskerming. So, dis wat van Oom Konstantijn se rykdom geword het. Hy praat maar ek kan nie ‘n woord hoor wat hy sê nie. Ek beduie na my ore en wys dat ek nie kan hoor nie.
Wag, beduie hy met sy hand. Hy buk in die motor en haal ‘n klein stukkie papier uit. Hy lek sy voorvinger nat, druk dit in die sand, en begin skryf.
Uiteindelik is hy klaar en staan nader, die papier na my toe gewys. Dis in Hollands, maar ek kan verstaan wat hy wil sê. Die papier lees: Help my! Stanislawa het my getoor. Vir ewig in hierdie foto geseël omdat ek nie geld wou deel. Sal alles met jou deel as jy my net hier uit kan kry. Dit verduidelik dan ook die storie van die heks.
“Hoe?” Ek weet boggerôl van toordery af nie. Ek doen navorsing oor Tourette Sindroom. Dis hoekom ek hier was. Shakes was ‘n erge geval van dié spesifieke siekte, en ek wou hom bestudeer.
Hy trek sy skouers op.
Die voordeur gaan oop.
“Shakes wil nie kom nie. Hy staan hier om die hoek. Gaan soontoe.” Sy beduie links om die huis terwyl haar asem swaar blaas.
Ek kyk na Oom Konstantijn. Hy leun nou weer teen die enjinkap, soos die eerste keer toe ek hom gesien het. Nou was ek nie meer seker of ek hom wel sien beweeg het nie. Hierdie plek was definitief getoor. Ek voel dit steeds aan my nekhare.
Ha! Die papier waarop hy vir my geskryf het, het by die voorwiel van die kar gelê. So, dan was dit nie my verbeelding nie.
“Shakes wag,” sê die vrou en stoot my by die voordeur uit.
Sy was reg. Shakes het om die hoekie gestaan, sy oë toe. Volstruismetode. As hy my nie kan sien nie, dink hy ek kan hom nie sien nie. Wat nou gemaak? Ek gaan staan langs hom teen die muur. Die sonnetjie bak ons lekker warm, maar hy bewe soos iemand wat lae bloedsuiker het. ‘n Lig gaan skielik vir my op. Vandaar sy naam. Shakes. Ek wou lag, maar beteuel myself net betyds. As jy vir Tourette-lyers lag, is daar groot moeilikheid. En dit was nie ‘n snaakse siekte nie.
“Weet jy van Oom Konstantijn?” vra ek skielik.
Shakes se oë gaan oop. Sy kop ruk-ruk en hy staar na my. “Hy… prrrrrriek! … beweeg in die foto. Magriet…” Sy kop ruk weer, en sy oë word styf toegeknyp. “Prrrrrriek! S-sy glo my nie.”
“Ek glo jou,” sê ek vasberade. Ons kon nie albei mal wees nie. “Hy sê hy is getoor. Stanislawa of iemand het hom getoor.”
“Prrrrrriek! S-sy was … prrrrrriek! … my groot-ouma…”
Aah. “Wie is Magriet?”
Daar leer ek toe met verbasing van Shakes se familieverbintenis met oom Konstantijn, hoe Magriet deur geskiedenis gedwing was om verantwoordelik te voel vir die welsyn van Shakes – ek sou later uitvind dat sy al die jare ‘n by-motief gehad het – en nie eers die fel strale van die laatwinterson kon die koue uit my liggaam verdryf nie. Skok.
Shakes het my aan my mou gegryp en agter hom aangesleep. Daar trap ons twee lande toe, al met ‘n nou paadjie langs totdat ons by ‘n hoë akkerboom kom. Shakes beduie boontoe. ‘n Boomhuis!
Hy glimlag net en sê met ‘n groot glimlag: prrrrrriek!
Die tou met die knope aan is nou nie die gemaklikste manier om tot redelik hoog in ‘n boom te klim nie, maar as ek wou sien wat daar binne in die netjiese houthuisie aangaan, moes ek maar die skawery aan my hande verduur.
Binne-in die boomhuis is ‘n matras en baie, baie boeke. Shakes beweeg sy een hand oor die boeke wat netjies in ‘n rak gesorteer is totdat dit op ‘n baie dik, en definitief ‘n baie ou boek stop. Hy haal dit met ‘n sug uit en oorhandig dit aan my.
Latyns. Ek kon nie ‘n woord uitmaak wat hierin staan nie. “Ek kan dit nie lees nie,” sê ek en gee dit terug.
“Prrrrrriek! Sit, ek lees.”
Ek was weer verbaas. Shakes kon Latyns lees!
Hy rammel so tussen die prrrrrrieke af wat in die indeks staan.
“Stop!” sê ek. “Lees daardie spel vir my.”
“Vir welvaart en huishoudelike kalmte” begin hy en lees die hele spel. (Snaaks genoeg prrrrrriek hy toe nie een keer terwyl hy ernstig uit die antieke boek begin voorlees nie…)
“Nee, dit sal nie vir Oom Konstantijn help nie. Lees nog uit die indeks,” beveel ek. Hy doen wat ek vra. “Stop. Lees nou daardie spel, laat ons hoor wat dit sê.”
“Om Towerkennis te Verkry, doen die volgende,” lees Shakes. “Jy moet ‘n Leshii roep.” Hy kyk op na my en lees deur die hele spel.
“Wat doen ‘n Leshii?” vra ek, versigtig om nie die man se voorouers in die gesig te vat nie, want ek is nou een wat nie aan toordery glo nie.
“Die Leshii uit Ivanits sal die kuns van towerkrag leer aan enigeen wat met hom bevriend raak.”
Mm, handig, dink ek. “Is hier sulke dennebome op die plaas?”
Shakes knik sy kop. Daar staan ons twee toe, en volg die spel woordeliks uit die boek. Twee mans wat deur hulle bene loer in ‘n oop stuk veld moet sekerlik skreeusnaaks lyk, maar oom Konstantijn moet gehelp word. Die groot vraag was of ek vir Shakes moes vertel van die rykdom in die foto se kattebak. Dit was sekerlik miljoene werd. Nee, dit sou my geheim bly, besluit ek. Ek is die een wat hierdie sending lei, en ek sou die een wees wat oom Konstantijn sou help om vrygelaat te word na een honderd jaar. Die goud en Krugermunte was myne. Shakes moes lankal iets gedoen het. Hy kon as hy regtig wou.
“Hoe lank voordat die Leshii sal opdaag?” Ek kon nie wag om my hande op die skat te lê nie.
“Oor twee prrrrrriek! … dae is dit prrrrrriek! … volmaan. Hy sal dan prrrrrriek! … kom.
Ek bel my kantoor en sê dat ek drie dae uitstedig sal wees. My verskoning om my hande op baie, baie geld te kry: navorsing vir my boek is moeiliker as wat ek gedink het. My sekretaresse sê sy sal die fort hou terwyl ek weg is.
Vir twee dae spandeer ek en Shakes elke moontlike oomblik saam bo in die boomhuis. Magriet pak vroeg-oggend toebroodjies en ‘n fles tee – Shakes mag nie koffie drink nie, want die kafeïn maak hom meer rusteloos – en dan is ons vort. Ek sou nou enigiets drink vir daardie tas vol goud.
Uiteindelik breek die dag van volmaan aan. Vanaand slaap ons in die boomhuis, lig Shakes vir Magriet in. Sy wou teëstribbel, maar toe Shakes haar iets in Latyn toesnou, pers sy haar dun lippe op mekaar en storm by die klein kombuisie uit. “Sy prrrrrriek! … sal daaroor kom.”
Teen donker is my senuwees gaar. Ek weet nie mooi wat om te verwag nie. Sê nou die ou toor my ook? Shakes skink tee en gee vir my ‘n beker aan. Later sou ek besef dat hy iets in my koppie gegooi het, want toe ek weer wakker word, was dit lig. Ek was alleen in die boomhuis. Waar sou hy wees?
Ek drafstap terug huis toe.
“Magriet?” Waar sou sy ook wees? Die foto! Ek storm na die ingangsportaal en breek byna my nek soos wat ek op die los mat oor die gepoleerde vloer gly.
Magriet is in die raam toegeseël. Haar mond is bitter en sy lyk asof sy familie kan wees van Daisy de Melker, moordgedagtes blitsend in haar grou oë terwyl sy langs die kar poseer. Die leë bruin tas lê een kant op die gras. Wat! Nou eers sien ek Shakes wat agter die stuurwiel sit. Trane loop oor sy grys wange.
“Die verdomde vrou het gedink dat sy haar pofferige kloue op my goud gaan lê,” praat ‘n stem in Hollands met ‘n lag daarin agter my. Altans, dis wat ek gedink het hy sê. Ek het nie mooi geluister nie. Shakes dan? Familie van die oorsaak van sy gevangenisskap, en dus ewe skuldig, verduidelik oom Konstantijn onmiddelik. Ek wonder of hy die teleurstelling op my gesig kan lees. Die goud…
Oom Konstantijn haak sy een arm deur myne. Op hoog Hollands word ek beveel om hom aan die hedendaagse wêreld te gaan voorstel. Teen ‘n vergoeding natuurlik, voeg hy vinnig by. Natuurlik, dink ek, niemand sal dit snaaks dink as daar nou skielik ‘n graf sou opdoem vir iemand wat al byna een eeu gelede moes gesterf het nie. Of hoe?
Ai, wat ‘n wonderlike sonskyndag, glimlag ek terwyl ons by die stoeptrappies afklim. Inderdaad, ‘n wonderlike, ryk sonskyndag wat wag…