Drie mense is dood en 15 gewond in ‘n mesaanval by ‘n supermark in Sjanghai, het die polisie Dinsdag gesê. Die voorval het gebeur net voor China se weeklange nasionale vakansiedag.
Beamptes het Maandag om 21:47 opgedaag kort nadat hulle ‘n verslag van die voorval ontvang het. Die verdagte is in hegtenis geneem en geïdentifiseer as Lin Moumou, ‘n 37-jarige man, volgens die stadspolisie.
Agtien mense is na die hospitaal geneem, van wie drie aan hul beserings beswyk het. Die ander 15 se lewens is nie in gevaar nie, lui die polisieverslag. Volgens voorlopige bevindinge het Lin woedend geword weens “persoonlike finansiële redes”.
In CCTV-beeldmateriaal kan gesien word hoe ‘n man deur ‘n supermark stap met ‘n mes in elke hand, terwyl klante skree en probeer vlug.
China handhaaf ‘n streng verbod op burgerlike vuurwapens, so uitbarstings van dodelike geweld is geneig om messe te betrek.
Verlede maand is ‘n 10-jarige Japannese skoolseun buite ‘n skool in die Chinese stad Shenzhen doodgesteek.