Skip to main content

POTCHEFSTROOM – Die oplettende gedrag van Stilfontein K9-eenheidlede op patrollie, het gelei tot die aankeer van ‘n verdagte, wat na bewering by vragmotorkapings betrokke is.

Aanvanklike berigte het aangedui dat die lede Saterdagmiddag gesien het hoe ‘n Isuzu-vragmotor besig was om sy vrag, wat uit ‘n verskeidenheid alkoholprodukte bestaan ​​het, te verloor.

Die vragmotor het in Davill Sreet in Walkerville, Klerksdorp, gery.

Lede het die vragmotor afgetrek, toe die bestuurder en passasier na bewering uitgespring en weggehardloop het. Die bestuurder van die vragmotor is gevang en daar is beslag gelê op twee vuurwapens, waarvan een ‘n speelgoedgeweer was. Hy is dadelik in hegtenis geneem aangesien hy nie ‘n lisensie gehad het om ‘n vuurwapen te besit nie. By verdere ondersoek is bloed in die bestuurder se kant van die vragmotor gevind en ander polisie-eenhede is in kennis gestel.

Lede van Potchefstroom Flying Squad het ‘n rukkie later ‘n beseerde man by ‘n plaaslike hospitaal in Klerksdorp gevind, wat in die bolyf geskiet is. Daar word beweer dat ‘n Uber-drywer, wat die beseerde man langs die pad in Manzil Park opgemerk het, met hom na die plaaslike hospitaal gehaas het.

Tydens ondervraging het die man beweer dat hy met ‘n Isuzu-vragmotor op die R30-pad tussen Klerksdorp en Ventersdorp gery het, toe hy na bewering deur verdagtes in twee voertuie sowat 15 km van Ventersdorp voorgekeer is. Hy het probeer ontsnap, maar is geskiet en agter in ‘n voertuig gesmyt en later in Manzil Park afgelaai.

Die verdagte, wat na raming in sy 30’s is, sal Maandag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie, poging tot moord en vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Polisie-ondersoeke duur voort en verbande met meer sake kan nie uitgesluit word nie.

Die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Sello Kwena, het lede gelukgewens vir hul oplettendheid en spanwerk, wat tot hierdie sukses gelei het. Hy het ook die Uber-drywer geprys vir die redding van die beseerde vragmotorbestuurder en gesê die polisie sal geen steen onaangeroer laat om te verseker dat die oortreders die volle mag van die wet in die gesig staar nie.

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!