Skip to main content

Ridder Donki-got, die man van Calitzdorp – Deur Koos Roets

‘n Verhaal geïnspireer deur een van die grootste helde in wêreldliteratuur.

Jan-Karel, Geraldine, Miekie en George Tyrell sit om die tafel van die deftige raadsaal. Miekie beduie na Tyrell.

“George moet voor die einde van die week weet wat julle besluit het.”

Jan-Karel draai na George Tyrell. “Kan jy ons nie nog twee weke gee nie?”

Tyrell skud sy kop. “Ek moet ongelukkig teen Vrydag weet, dis ‘n besluit van my raad. Dit het glo iets met die mense op Keimoes te doen.”

“Dit gaan ‘n bietjie lol,“ kom dit van Geraldine.

“Wat presies is die aard van julle oponthoud?” wil Tyrell geïrriteerd weet.

Jan-Karel glimlag floutjies. “Daar’s nie ‘n probleem nie, Geraldine en ek moet nog net besluit of ons wil verkoop of nie.”

Miekie kyk hom suur aan. Tyrell staan op. “Nou laat my maar weet wat julle besluit, daar’s ander grond ook op Keimoes waarin ons belangstel.”

Hy groet en stap by die deur uit. Miekie is glad nie beïndruk nie. “Hy bluf nie, Jan-Karel! Jy beter jou agterend in rat kry!”

Jan-Karel gooi sy hande teatraal in die lug. “Wat de hel kan ek doen? Ek weet nie eers waar die ou fokker is nie! Iewers êrens, die vader weet waar, op die wye godverlate Karoo-vlaktes!”

Geraldine is nou die een wat haar vererg. “Jan-Karel! Is daai f-woord regtig nodig?”

Miekie is meer bekommerd oor die probleem op hande as die f-woord. ”Klim in daai helikopter waarmee julle so lekker geld mors en gaan soek die verdomde man!”

Alles was nie vir Geraldine en Jan-Karel verlore nie. Donki-got het nie rekening gehou met een van die naarste uitvindsels van die een-en-twintigste eeu nie; die grootste klad op die naam van die moderne tegnologie, ‘n tweesnydende swaard met ‘n verskriklike skerp kant – die selfoon.

Donki-got staan in ‘n ou sement plaasdam. Hy’t net sy long-johns en onderhemp aan en is besig om die bloed van sy geswelde gesig af te was. Langs die dam, half wegggesteek tussen die biesies, is Sancho met sy goedkoop selfoontjie in ‘n fluistergesprek met dominee De Wee. Die dryfveer agter hierdie verraderlike daad? ‘n Lekker vet fooitjie vir Sancho!

Donki-got kom agter dat Sancho met sy selfoon besig is. “Wat maak jy, Sancho?”

Sancho skrik hom oorhoeks en lyk skielik baie skuldig. “Ek hoor net gou hoe dit by die huis gaan, Meneer.”

“Jy sit op die daad daai vieslike ding weg! Ek wil dit nie weer sien nie!”

“Ja Meneer.”

“Verderflike goed soos daai hoort nie by die agterryer van ‘n ridder nie; veral nie as hy op op ‘n kruistog is nie.”

Sancho knik. “Nag my skat.”

Sancho druk die oproep dood. Dominee de Wee met sy derde glas wit Doringkraal verstaan nie mooi wat aan die gang is nie. Om die waarheid te sê – die man is heel verward. “Nag my skat …” wonder hy hardop .

Dominee se beneukte vrou Betsie gluur suspisieus na hom. “My skat, nogal? Wie is dié ‘my skat’?”

Dominee is omkant gevang. “Wat?”

”Ek vra  – wie is die ‘my ‘skat’ met wie jy so geselsies maak? En dit terwyl ek net hier naby jou is. Braaf nê!”

“Niemand nie, my skat. Dis ‘n enorme misverstand.”

“Moenie vir my lieg nie; wees ‘n man en erken ruiterlik dit is daai Maggie Schoeman vrou! Ek is nie stupid nie, jy weet!”

‘n Beneukte Jan-Karel kom die woonkamer binne waar Geraldine reeds met ‘n groot glas rooiwyn sit. Hy skink vir homself ‘n dubbel Johnnie Walker Blue en kom sit  langs haar. “Daai verskoning van ‘n dominee het my nou-net laat weet waar jou pa is.”

Geraldine knik moedeloos. ”Help ons nie veel nie; jy’t self gesien pa wil niks van ons weet nie.”

“Ons sal iets móét doen, Geraldine!  Ons kan nie net hier op ons gatte sit nie!”

Geraldine is in ‘n slegte bui; ‘n argument is aan’t broei. “Nou wat stel jy voor?”

”Maak vrede met die ou donner, spoil hom ‘n bietjie! Waarvan hou hy?”

Sy dink ‘n oomblik na. “Jellie.”

Jan-Karel se bek hang oop, dan grynslag hy. “Jellie?”

Sy knik. “Ja, pa is baie lief vir groen jellie.”

“I rest my case, die ou fokker is so mal soos ‘n haas!

Dominee de Wee lê langs Bettie in die dubbelbed en lees skelmpies Lady Chatterley’s Lover. Hy put ooglopend plesier uit die boek. Telkens is daar ‘n onbewaakte steun van genot. Betsie draai om en kyk vies na hom. “Watse gesteunery is dit met jou? Wat lees jy?”

Verskrik laat sak hy die boek. “Ek lees maar weer ‘n bietjie op oor die reise van Paulus … baie interessant …”

“Hou op so skaamteloos lieg. Klink vir my eerder na een of ander hygroman.”

“Wat?”

“Ek sê, dit klink asof jy een of ander vieslike vry-storie lees.”

Dominee de Wee is diep gekwets. “Ek weet jy speel net Betsie, maar ek hou regtig nie van dié soort grappies nie.”

Sy draai haar rug op hom en skakel die bedlampie af. ”Steun net ‘n bietjie sagter, ek wil slaap of loop lees daai boek in die badkamer.”

Hy druk die boek vies onder die matras in en skakel sy lig af.

************************************************************************************************

Die deur van Vinni se kantoor vlieg oop en Franki en twee van sy maters stoom Vinni se  kantoor ongenooid binne. Hy groet met verdagte jovialiteit. “Vinni!”

Vinni is nog dikbek oor die testament-besigheid. “Franki …”

Franki plak hom ongenooid neer. “Hoe het dit toe by die lesery van Mamma se testament gegaan?”

Vinni wys met sy hand. “So-so …”

Franki gryns. “Nie so goed nie, huh?”

“Ek sal dit nou nie so stel nie, ek moet net ‘n bietjie wag voor ek my geld kry.”

“Ja ek’t gehoor. Shame, dis eers oor vyf-en-dertig jaar of so iets, is dit nie?

Vinni kan nie glo wat hy nou net gehoor het nie. “Waar de hel hoor jy dit? Ek dog hierdie inligting is konfidensieël?”

Franki leun behaaglik agteroor in die gemakstoel. “O, by Hyme natuurlik. Ek’t vanoggend ‘n lekker geselsie met hom gehad.”

“Met Hyme?”

“Ja, net voor hy sy ongelukkie gehad het. Hy kon nie meer hulpvaardig gewees het nie.”

“Wat?”

“Kom ek stel dit so – hy kon eintlik nie ophou met praat nie!”

Vinni lyk skielik asof hy ‘n haarwurm ingesluk het. Franki beduie na die kantoor om hom. “Groot dag vandag, nê Vinni! Jou eerste paaiement!”

Vinni sluk droog, die wurm kriewel in sy keel. “Die Klub se inkomste is op die oomblik baie swak met daai

stupid ‘no strip’-klousule van Mamma, Franki! Daai ding gaan my sink!”

Franki maak ‘n ‘wat-kan-ek-nou-eintlik-daaraan-doen’ gebaar met sy hande terwyl hy sy skouers optrek.

Vinni begin pleit. “Jy sal my ‘n bietjie tyd moet gee … ek moet dinge eers weer herorganiseer.”

“Geen probleem nie, my ou maat … geen probleem nie …”

“Dankie … baie dankie, ek het geweet jy sal verstaan.”

Franki staan op en tel sy hoed op. “Altyd bly as ek kan help. Ek sal so …” Hy kyk op sy Rolex “… net so voor vyf vanmiddag weer hier langs kom. Gee dit jou genoeg tyd?”

“Goeie genade, Franki! Ek het ‘n paar weke bedoel …’n maand of so.”

Franki plak sy fedora windskeef op sy kop soos hy Joe Pesci dit in Goodfellas sien doen het. “Vyf-uur! Sien jou later.”

Hy stap uit. Vinni sleep homself tot by die deur en skree. “Rot … Rot!”

Rot kom verskrik binne. “Wassit? Is Meneer okei? ”

Vinni vee eers sy papnat geswete voorkop af voor hy antwoord. “Franki wil sy fokken geld voor vyf vanmiddag hê!”

“Sheesh.”

Vinni plof in die stoel neer. “Kan jy vinnig die kar swaai?”

Rot dink ‘n oomblik na. “Ek kan vir Honest Joe try. Hy sal nie te veel vrae vra nie.”

Vinni is nie juis beïndruk nie. “Daai vet ‘smuck’ in Langenhovenstraat? Hy sal nie eers die helfte van wat die ding werd is gee nie. Fokken skelm …”

Rot probeer sy bes. “Ek sal gou ‘n paar goed omruil, ‘n ou battery insit en so aan.”

Vinni het die tor nou wakker gemaak en die twee hou ‘n dinkskrum. “Ek dink dis tyd vir ‘n geselsie met boetie Harold Jones.“

“Harry? Hoekom Harry, Meneer?”

“Die lisensie is mos in sy naam … en die ou vrou het daai klomp geld vir hom gelos. Hy’s ons enigste hoop.”

Daar is ‘n klop aan die deur. “Ja? Wat’s dit?” kom dit geïrriteerd van Vinni.

Debbie die stripper, nou in tradisionele Voortrekkerdrag met kappie en al, kom die vertrek binne. “‘n Koerier het die pakkie vir meneer gelos toe meneer uit was. Ek moes hom driehonderd rand betaal.”

Vinni bekyk die kleinerige pakkie. “Driehonderd rand vir díé? Het die verdomde ding met die space shuttle gekom of wat?”

“‘Special delivery’, die ou het gesê dis glo refrigerated goods.”

Vinni sug, tel vir haar driehonderd rand af en neem die pakkie. “Nou toe, laat ons sien met hoeveel Honest Joe ons gaan bedonner.”

Rot bestuur terwyl Vinni die pakkie oopmaak. “‘n Refrigerated pakkie nogal. Hulle dink deesdae jou wragtag ook aan alles!”

Vinni trek die laaste stuk omhulsel van die pakkie af. Dan smyt hy dit neer asof daar ‘n slang in is. “Goeie fok!”

Rot skrik en slaan remme aan, die pakkie vlieg uit Vinni se hande en val op die vloer. Die Mercedes swaai gevaarlik, tref die agterkant van ‘n ander motor en kom op die sypaadjie tot stilstand. “Wat de hel maak jy, Meneer? Kyk nou net wat het meneer se geskree veroorsaak!

‘n Geskokte Rot klim uit om na die skade te kyk. Die ander bestuurder klim met swaaiende hande uit en peil op Rot af. “Is jy donnerswil retarded of blind of wat? Vir wat neuk jy in my vas?”

Rot gee hom die vinger. “Fokkof man!”

Intussen staar Vinni geskok en in afgryse na die inhoud van die pakkie wat op die vloer van die Mercedes te lande gekom het. “O my hel! Rot kom kyk hier!”

“Wat’s dit Meneer?”

“Kom kyk hier, my magtig man!”

Rot loer nuuskierig deur die venster. “Wat?”

“Ek dink dis ‘n  … ’n …”

Rot maak die deur oop en met die punt van sy skoen druk hy versigtig aan die inhoud van die pakkie. Hy gril. “Ek dink dit is … dit was iemand se peester.”

Die opgewerkte bestuurder van die ander motor kom nader. “Wat van my kar?”

Maar die grusame ontdekking is nou van groter belang vir Rot. “Fok jou kar!”

“Het julle insurance?”

Rot het nie nou tyd vir die man se gekarring nie. “Kan jy nie sien ons is besig nie! Wag net!”

Hy maak die deur van die Mercedes verder oop, buk en bekyk die besigheid van naderby. “Dis nie ‘n peester dié nie, dis ‘n toon, Meneer.”

“Wat?”

“Dis definitief iemand se groottoon dié.”

“Is dit ‘n regte een, Rot? Dis nie dalk een van daai rubber goed nie?”

“Lyk soos ‘n regte een vir my, Meneer!

Vinni sit beide sy voete op die sitplek en skuif so ver van die toon af weg as wat moontlik is.

Een ding is verseker. As Franki van der Merwe die dag jou pad kruis, weet jy nooit of jy uiteindelik met al jou tone, vingers, watsesnaam … of selfs met jou lewe daarvan gaan afkom nie.

EINDE KAROO BLUES: DEEL 2.

WORD VERVOLG.

Leave a Reply

error: Content is protected !!