Sonnette Lombaard
Then I walked across the street / And caught the Sunday smell of someone’s fryin’ chicken / And Lord, it took me back to somethin’ that I’d lost / Somewhere, somehow along the way / On a Sunday mornin’ sidewalk / I’m wishin’, Lord, that I was stoned / ‘Cause there’s somethin’ in a Sunday / That makes a body feel alone / And there’s nothin’ short a’ dyin’ / That’s half as lonesome as the sound / Of the sleepin’ city sidewalk / And Sunday mornin’ comin’ down
‘n Geslag of twee gelede, het dié rou lirieke oor ‘n menssiel se stryd om die smal weg te bewandel wyd oor Moeder Aarde opgeklink. Wie onthou nie die melancholiese roerkrete van Kris Kristofferson se Sunday Mornin’ Comin’ Down nie? Wat ook in ontelbare Afrikaanse gesinne, veral op Sondae, bittersoet bloeddinge en ander onlekker gegewes kon losruk en terselfdertyd sou sus, die wete dat nog ‘n siel elders kleitrap.
Kristofferson se trefliedjie, wat hy gepen en later self gesing het, was oorspronklik bo-aan die Billboard trefferparade, gesing deur countryreus Johnny Cash. ‘n Jaar later sou die wilde rockeva Janis Joplin eweneens Kristofferson se Me and Bobby McGee so verewig. Nog treffers uit sy pen vir kustenaars van Elvis Presley tot Gladys Knight met liedjies soos For the Good Times en Help Me Make It Through the Night sou volg.
Geprys vir die rou, kwesbare en gefolterde inhoud en literêre vakmanskap het Kristofferson se musikale skeppings eens dekades lank country-trefferslyste oorheers. Wat getuig van die bebaarde superster se sonderlinge talente waarmee hy kreatief geploeg het om sy lywige musieknalatenskap tydloos te verewig.
Ses dekades lank het hierdie gul gawes en Kristofferson se sjarmante, soms astrante omgaan met leef, bly betower. Hy was musiekbegaafd en movieheld tegelyk, ‘n minsame mens en geliefde man, sag op die oog met ‘n welbedeelde brein. Maar op sy Aardse tog ook lank ‘n kollig-stryder teen verleidelike versoekings, veral mooi vroue en drank en dwelms se duiwels.
En nou is ons blou planeet ‘n ware superster armer. ‘n Mens wie sy emosionele kwesbaarheid en gestoei met demone suksesvol in sy vakmanskap kon laat uitvloei. Wat uitgekring het na sy aanhangers wie met sy pyn kon vereenselwig. Kristofferson het Saterdag in die ouderdom van 88 jaar sonder ophef gegroet.
Omring deur die palms en blou oseaan by sy huis op een van die eilande van Hawaii, en in die teenwoordigheid van sy derde vrou Lisa, agt kinders en sewe kleinkinders. Eindelik vredig ná ‘n omgekrapte lewe vol hoogtepunte en laagtepunte, wat profeties in die onstuimige 1960s sou vlam vat.
Dit was ‘n lang en veelbesproke reis vir die leninge liedjieskrywer/sanger/akteur van die Lone Star staat in die Amerikaanse suide tot by sy eindbestemming in die Noorde. Een waarop roem en struikel saam sou kronkel, maar waartydens opgee nooit ‘n opsie was nie. Het hy vasgeval, kon Kristofferson telkens weer herrys en sy produktiewe loopbaan met nuwe vuur hervat.
Kristoffer Kristofferson is ‘n Texas-boorling. Sy aankoms was in die vooroorlogse jare op 22 Junie 1936 in Brownsville. Hy het ná hoërskool in Kalifornië in die letterkunde studeer omdat hy ‘n romanskrywer wou word. ‘n Akademiese uitblinker, studeer hy met ‘n gesogte Rhodes-beurs, ‘n internasionale nagraadse toekenning, aan die Britte se roemryke Oxford. In die gees van die opkomende rock-‘n-roll-musiektoneel oraloor, begin hy reeds as student daar musiek maak.
Hy sit dit voort tydens sy diensplig in die Amerikaanse weermag, kwalifiseer tussendeur as ‘n helikoptervlieënier, ‘n vaardigheid wat in sy musiekloopbaan vir ‘n deurbraak sou sorg. Hy verhuis na die country-hartland van Nashville en werk as ‘n kroegman en skoonmaker by Columbia Recording Studios met die droom van ‘n eie loopbaan daar.
In die tweede helfte van die 1960s word van sy liedjies deur o.a. Jerry Lee Lewis opgeneem maar sy musiekdrome kort woema. Hy gebruik sy blink breinstof en land met ‘n weermag-helikopter in Johnny Cash se agterplaas. Oorhandig self sy liedjies aan die legende. Kristofferson het later laggend gemaan sy “inbreuk op privaatheid” kan nie aanbeveel word nie.
Nietemin bewonder Cash Sunday Mornin’ Comin’ Down, en sy opname daarvan word die Liedjie van die Jaar in 1970. Met nuwe moed, neem Kristofferson die eerste van sy loopbaan se 18 ateljee-albums op.
Ná ‘n kortstondige romanse met Janis Joplin, trou hy met sy skoolliefde Fran Beer en twee kinders word uit die huwelik gebore. Hulle skei en toe hy tydens ‘n vlug oë lê op die beeldskone countrysangeres Rita Coolidge lei dit hom weer na die kansel in 1973. Die mooi en hiper-talentvolle duo sing ook saam en was inderwaarheid die vermaakarena se heel eerste magspaartjie. Hulle huweliksboot vaar egter onstuimig en was weldra die voer van skindernuus. Nadat hulle paaie in 1980 skei, beskuldig Coolidge, saam met wie hy ‘n dogter het, hom o.a. van vroue-mishandeling.
Kristofferson se stryd teen drank en dwelms was toe al intens. Boonop vry Hollywood tussendeur na die aantreklike Kristofferson en hy maak in 1972 sy buiging voor die kameras. Kristofferson het saam met meesterregisseurs soos Martin Scorsese gewerk. Hy word veral onthou vir A Star is Born (1976) saam met Barbra Streisand, waarvoor hy ‘n Golden Globe-toekenning as beste akteur gewen het.
Hy was ook te sien in Alice Doesn’t Live Here Anymore (1974), Convoy (1978), saam met Burt Reynolds in Semi-Tough (1977), Lone Star (1996), en die Blade-trilogie (1998-2004). In 1998 kon hy sy danstalent uitstal in die bekoorlike romantiese fliek Dance with me. Sy laaste filmrol was in die Ethan Hawke se drama Blaze (2018).
In 1979 het hy en Willie Nelson se paaie gekruis, en in 1982 werk hulle saam met Dolly Parton. Kristofferson vind in die middel 1980s nogeens ‘n nuwe weg om vars te bly vermaak. Hy en Nelson snoer kragte met hulle ewe beroemde country-kollegas Waylon Jennings en Johnny Cash en stig die groep The Highwaymen.
Die kwartet was baanbrekers van die outlaw country-musiekbeweging, Dit was uit protes teen tradisionele Nashville-countrymusiek en het onafhanklike liedjieskryf en produksie voorgestaan. Dikwels die “Mount Rushmore van countrymusiek” genoem, was The Highwaymen Amerikaanse countrymusiek se eerste bona fide supergroep. Met ‘n Grammy-bekroon, was hulle tussen 1985-1995 aktief, het drie albums opgeneem, wêreldwyd getoer en in die rolprent Stagecoach (1986) opgetree. Kristofferson is in 2004 in die Country Music Hall of Fame opgeneem en het in 2014 die Grammy Lifetime Achievement Award ontvang.
Ná ses dekades se voorste woel in die breër vermaakarena, het Kristofferson in 2021 uitgetree. ‘n Oorlewende van die dekadente 1960s waartydens musiek die winde van verandering aangevuur het. Wat genoeg van dié dekade se groot geeste ingesluk het. Kris Kristofferson het dikwels deurgeskuur. Gelukkig vir ons, kon hy sy vaardige vakmanskapkuns tot in sy agtste dekade loslaat. Nou kan hy rus, sy onfeilbare erfenisskat sal sintuie koervas bly behaag.
Kristofferson word oorleef deur sy derde vrou, Lisa Meyers, met wie hy in 1983 getrou het en by wie hy vyf kinders het. Sy familie het ná sy dood sy miljoene aanhangers só bedank. “Dankie dat jy hom al hierdie jare liefgehad het. Wanneer jy ‘n reënboog sien, weet dat hy oor ons almal glimlag.”