Sonnette Lombaard
In oploop tot sy 70ste verjaardag gaan die internasionaal-gevierde Suid-Afrikaanse kunstenaar en ere-akademikus, William Kentridge, nog ‘n pluimpie van die globale kunsgemeenskap kry. As een van die prominente kontemporêre kunstenaars in ons moderne era, ontvang hy aanstaande maand die gesogte Internasionale Folkwang-prys in Duitsland.
Die Folkwang-Museum ken sedert 2010 dié prys met prysgeld van 10 000 Euro toe aan kunstenaars vir uitmuntende bydraes tot die bevordering en kommunikasie van kuns in die gees van die museum se stigter, Karl Ernst Osthaus (1874–1921). Die prys sal op 4 November in Essen aan Kentridge oorhandig word. Ter viering van sy 70ste verjaardag in die herfs van 2025, bied Kentridge saam met die museum en die Staatliche Kunstsammlungen ook ‘n uitstalling vandeesmaand in Essen en Dresden aan.
Kentridge werk in die mediums van drukkuns, tekening, skryfwerk, film, musiek en teater en skep kunswerke gegrond in die politiek, wetenskap, literatuur en geskiedenis. Sy animasie-fliekkuns fokus op politieke en sosiale temas vanuit ‘n persoonlike, en soms outobiografiese oogpunt – die skrywer se selfportret verskyn in baie van sy werke.
Bekend daarvoor dat sy aktiwiteite in die uitvoerende kunste onafskeidbaar van sy visuele kuns is, het Kentridge stukke vir marionetteater ontwikkel en produksies in die wêreld se grootste operahuise geregisseer. Hy ontwikkel ook sy eie kamer-operas in genre-oorkruisende samewerking met komponiste, musikante, kunstenaars en stelontwerpers. In 2023 het Kentridge die Laurence Olivier-toekenning vir Uitmuntende Prestasie in Opera ontvang vir sy produksie van Sybil in Londen.
Volgens ‘n verklaring van die Folkwang-museum kombineer Kentridge kuns en lewe en oorskry sodoende die grense tussen die visuele en uitvoerende kunste. “Vir William Kentridge is die kommunikasie van die inhoud van kuns aan die publiek boonop ’n integrale deel van sy werk, veral met uitgebreide, vervaardigde videowerke wat die kreatiewe prosesse in sy ateljee visualiseer. Hy bevorder ook jong kreatiewe talent in sy tuisland en maak ‘n belangrike bydrae tot die internasionale erkenning en kommunikasie van artistieke standpunte vanuit die Afrika-kontinent.”
Die Suid-Afrikaner se spogwerk oor die breë kuns-spektrum van skilder, beeldhouer, tapisserie tot fliek en operas oor meer as vier dekades is al wyd vereer. Sy flieks is vroeër vanjaar by die beroemde Cannes Filmfees gewys.
Uit ‘n voorste Joodse anti-apartheidsgesin – beide sy ouers was advokate – was die gebore en getoë Johannesburger reeds as jongeling politiesbewus en het artistieke belofte getoon. Kentridge se roemryke loopbaan is in 2022 vereer met ‘n uitstalling van sy werk in die uitgelese Royal Academy of Arts in Londen. Dit het hom op die hoogtepunt van sy kreatiewe kragte afgewys, met sy kernwerke vanaf die 1980s tot die hede, soos houtskooltekeninge, geanimeerde films, ‘n meganiese teater, beeldhouwerke, tapisserieë en uitvoerende kunswerke, boeiend saam gehark.
Geliefd vir sy grootskaalse kunsproduksies, is Kentridge se werk dikwels outobiografies, maar hy gebruik ook die geskiedenis om die ongeregtighede, wreedhede en absurditeite van die breër moderne wêreld te beklemtoon. Die kunstenaar se groot blomtekeninge en kenmerkende boomtekeninge bly ewe gewild.
Kentridge zoem graag in op die Europese kolonisasie en die voortgesette post-koloniale nalatenskap op die Afrika-vasteland. Herinnering is deurgaans ‘n kritieke komponent van sy werk om die diep wonde van rasse-ongelykheid, gekombineer met ongeregtighede, uit te beeld. Terselfdertyd dien dit as ‘n wekroep oor hoeveel die mensdom steeds moet doen om ongelykhede in die samelewing hok te slaan.
Kentridge werk al lank nou saam met ‘n groep kreatiewe medewerkers, insluitend komponiste, dansers, verhoogontwerpers, poppespelers, wewers, drukkers en metaalwerkers. Dié breë verskeidenheid vennote weerspieël deurgaans die inklusiewe en samewerkende aard van sy werk.
Sy Black Box (2005) is ‘n meganiese teaterstuk met poppe en projeksies, wat die grusame slagting van die Herero-mense in Namibië, beskou as die eerste volksmoord van die 20ste eeu, belig. Ubu Tells the Truth (1997) is weer ‘n kritiese animasiefliek oor die brutaliteit van die apartheidstelsel in Suid-Afrika, wyl Notes Towards a Model Opera (2015) die moderne Chinese geskiedenis en Mao se kulturele rewolusie reflekteer.
Aspekte van sosiale onreg in Suid-Afrika, is lank kanonvoer vir Kentridge se werke. Sy Casspirs Full of Love pryk in die Metropolitan Museum of Art in die VSA. Van sy meer onlangse werke is ‘n reeks grootskaalse tapisserieë, spesiaal geskep vir die Royal Academy-galerye en gemaak in die Stephens Tapestry Studio in Diepsloot, Johannesburg.
Kentridge het internasionaal bekend geword in die 1990s met geanimeerde kortfilms gebaseer op houtskooltekeninge wat die geskiedenis van Suid-Afrika in die 20ste eeu uitbeeld. Tekeninge bly die grondslag van sy veelsydige oeuvre wat ‘n sterk standpunt vir menseregte en menswaardigheid inneem.
Kentridge se artistieke ondersoek is durend in sy tapisserieë wat in 2001 begin het. Dit spruit uit ‘n reeks tekeninge met skaduryke figure uit geskeurde konstruksiepapier – hy het ‘n collage van hierdie figure gemaak met die agtergrond van atlaskaarte uit die 19de eeu.
In 2009 het Kentridge, in vennootskap met Gerhard Marx, ‘n 10m-hoë beeldhouwerk vir sy geboortestad Johannesburg geskep, getiteld Fire Walker. In 2016, op die herdenking van Rome se legendariese stigting in 753 vC, het Kentridge Triumphs and Laments onthul, ‘n monumentale muurskildery langs die regteroewer van die Tiberrivier. Dis Kentridge se grootste openbare werk tot nou. Hy het saam met sy jarelange medewerker, die komponis Philip Miller, ‘n reeks optredes geskep met lewendige skaduspel en musikante om die bekendstelling daarvan te vier.
Sy reeks handgetekende geanimeerde flieks wat hy in die 1990s vervaardig het, is gemaak deur ‘n tekening te verfilm, dit uit te vee en veranderinge aan te bring, en weer te verfilm. Hy herhaal hierdie proses noukeurig, en gee elke verandering aan die tekening kortstondige skermtyd. Hy stal die palimpses-agtige tekeninge saam met die flieks as voltooide kunswerke uit.
Kentridge skep ook kunswerke as deel van die ontwerp van teaterproduksies, beide toneelstukke en operas. Hy het al gedien as kunsdirekteur en algehele regisseur van talle produksies, en saamgewerk met ander kunstenaars en poppespelers om produksies te skep wat tekeninge en multimedia-kombinasies integreer.
Kentridge het kuns aan Wits en in Parys mime en teater studeer. Hy wou oorspronklik akteur word, maar mettertyd gewis kunstenaar is sy ding. Nogtans het hy eens as akteur en regisseur gewerk en was ook kunsregisseur van plaaslike televisieflieks en reekse in die 1980s.
Kentridge, getroud met rumatoloog Anne Stanwix en pa van drie kinders, is ‘n derdegenerasie Suid-Afrikaner van Litau-Joodse herkoms. Hy glo sy etniese Joodse agtergrond maak hom ‘n unieke derdeparty-waarnemer in Suid-Afrika. “My werk begin nie met ‘n ‘mooi merk’ nie. Dis ‘n merk van iets daar buite in die wêreld, nie ‘n perfekte tekening nie, maar dit moet staan vir ‘n waarneming, nie iets wat abstrak is, soos ‘n emosie nie,” het hy al verduidelik.