Sonnette Lombaard
Die mens het reeds vroeg swem as ontspanningsverdryf ontdek en deel van sy aktiwiteite gemaak. Bewyse hiervan reeds in prehistoriese tye is al gevind, met van die vroegste bewyse wat terugdateer na Steentydperk-skilderye van ongeveer 10 000 jaar gelede. Geskrewe verwysings dateer uit 2000 vC, met van die vroegste aantekeninge oor swem wat in die Ilias, die Odusseia, die Bybel, Beowulf, en die Koran voorkom.
Een só besondere bewys word ook in Afrika se reuse Sahara-woestyn gevind, waar 9 000-jaar oue rotskuns in ‘n grot ontdek is wat mense uitbeeld wat toentertyd daar swem. Wat natuurlik bevestig dat waar vandag dorre woestyn is, dit eens met water moes gebruis het. Die Sahara wat oor tien lande regdeur Noord-Afrika strek, is met ‘n oppervlak van 9 200 000 vierkante kilometers die grootste warm woestyn ter wêreld.
Dié besondere rotskuns bekend as Grot van Swemmers is ‘n reeks skilderye, wat bykans ‘n eeu gelede binne grotte in die Sahara gevind is. Dit wys ‘n groep swemmers in water, met twee wat deur die water “roei”. Die rotskuns is hoofsaaklik in Egipte se westelike deel van die Sahara-woestyn gevind. Argeoloë en volkekundiges meen dis tussen 6 000 en 9 000 jaar gelede geskep.
Volgens ‘n nuwe artikel in die aanlyn-wetenskapwebwerf livescience.com verklap hierdie rotskuns veel oor ons verlede. Soos dat die allemintige Sahara-woestyn duisende jare gelede nié die droë, sanderige landskap is soos ons dit vandag ken nie. Trouens, dit was toe ‘n welige, groen oase!
Die sandsteenryke Gilf Kebir-plato, wat strek vanaf suidwestelike Egipte tot in suidoostelike Libië, waar die swem-rotskuns gevind is, bied verdere bewyse dat hierdie stuk landskap eens toeganklik was vir wateraktiwiteite en dus nie altyd ‘n barre woestyn kon wees nie.
In 1926 het die Europese kartograaf László Almásy dié afgeleë gebied gekarteer en op twee vlak grotte langs mekaar afgekom. Dit is versier met honderde rotskuns-skilderye van diere en mense, insluitend handafdrukke wat geskep is deur iemand wat “pigment oor oop vingers op die rotsoppervlak geblaas het,” het ‘n woordvoerder van die Britse Museum aan die aanlynpublikasie gesê.
Een stel tekeninge wat daar gevind is, het vir navorsers bly uitstaan: ‘n paar mense met hul arms en bene in die water uitgesprei, asof hulle swem. Baie navorsers meen die skilderye bied ‘n blik op hoe die daaglikse lewe destyds daar uitgesien het, en voordat die streek ‘n woestyn geword het. Ander dink egter die uitbeeldings op die rotskuns is meer metafories van aard.
Die rotskunswerke het oor tyd wyer aandag getrek en popkultuurstatus bereik toe daarna verwys is in skrywer Michael Ondaatje se bekroonde boek The English Patient (1992). Dié meesleurende liefdes-oorlogstorie is in 1996 ook grootdoek toe onder die gelyknamige naam. Met Ralph Fiennes, Kristin Scott Thomas en Juliette Binoche in die hoofrolle was dit ‘n wegholtreffer wêreldwyd.