Skip to main content

WES-KAAP – ‘n Gesamentlike misdaadbekampingsoperasie as deel van die Interprovinsiale Oorgrens-operasie, wat daarop gemik was om die verspreiding van vervalste goedere in die Tuinroete-distrik te stuit, het ‘n uitstekende uitkoms opgelewer met die konfiskering van goedere wat op R1 miljoen geraam is. week. Die bedrywighede tussen die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Noord-Kaap en Vrystaat het verlede Maandag begin en is op Vrydag, 20 September 2024 afgehandel.

Lede verbonde aan die Wes-Kaapse polisiëringspan vir vervalsing en onwettige goedere, die polisie vir openbare orde, misdaadbekampingspan in die Tuinroete-distrik en handelsmerkbeskermers het op ‘n perseel by Hiberniastraat, George, toegeslaan. Die lede het beslag gelê op huishoudelike goedere soos tandepasta, deodorant, skoenpolitoer en verskeie selfoontoebehore met ‘n geraamde waarde van R95 000. Drie ongedokumenteerde persone van tussen 21 en 29 jaar oud, wat op die perseel gevind is, is in hegtenis geneem.

Verder het die span op verskeie winkels in die sentrale sakegebiede van Knysna en Plettenbergbaai toegesak. Die polisie het beslag gelê op verskeie huishoudelike goedere en selfoontoebehore ter waarde van sowat R510 000. Drie Pakistanse burgers, tussen 20 en 25 jaar oud, is in hegtenis geneem vir oortredings van die Immigrasiewet.

Intussen is soortgelyke operasies by Oudtshoorn en Mosselbaai uitgevoer wat gelei het tot die konfiskering van meer as 5000 vervalste goedere vir die hele week.

Almal wat in hegtenis geneem is, sal in die verskillende howe verskyn sodra hulle aangekla word.

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!