Skip to main content

Sonnette Lombaard

Braaivleis is so deel van ons kultuur soos biltong en koeksisters. Maar braai is helaas nie eksklusief ‘n Boeretradisie nie. Daarom is vandag se Erfenisdag juis met die koms van volle demokrasie in die 1990s ingestel as ‘n gebaar om Suid-Afrika se vele verskillende volke en kulture met ‘n gedeelde tradisie te verenig en op een dag van die jaar agter die kole saam te snoer.

Eie aan ons nasie sorg juis dit nou, drie dekades later, soms steeds vir die opskiet van lastige gekleurde vonke. Pas het ‘n vroeë Erfenisdagviering in die Kaap opslae gemaak toe ons nie-amptelike nasionale braaimeester bekend as Jan Braai van rassisme beskuldig is.

‘n Video wat wys hoe dié Kapenaar wie se regte naam Jan Scannell is, van sy kerriewors-rolle gratis by ‘n winkelsentrum uitdeel en ‘n naderstaanende bruinman telkens ignoreer, maak opslae op sosiale media.

Dit het die Foodlover’s Market in Willowbridge genoop om vandag ‘n verklaring uit te reik met nuwe CCTV-videomatariaal uit ‘n ander hoek wat wys dat die bruinman in ‘n sweetpak wel eindelik ook sy gratis Boerie gekry het. Scannell se eksklusiewe boerewors, insluitende die kerriewors word landwyd by Foodlover’s-winkels verkoop en kliënte by Willowbridge is vooraf ingelig dat hulle vandeesweek in die gees van Erfenisdag daar gratis Boeries van Jan Braai self sou kry. “Ons hoop hierdie CCTV-opname stel gerus dat ons niemand uitgesluit of uitgesonder het in wat ‘n viering van almal se erfenis was nie,” lui die verklaring.

Van die ongelukkiges is die bekende Kaapse bruin rapper, digter en sanger Churchil Meneer Naudé. Volgens hom is dit onrusbarend dat die omstaanders duidelik sien hoe Jan Braai telkens die bruin man ignoreer en oorgeslaan het, maar niks daaraan doen nie. Hy het ‘n foto-plakkaat van Erfenisdag op sy Facebook gepos met die woorde: Proudly South African, but still reserved for whites.

Daarop het Ikeraam Korana geantwoord dat “Braaidag een van die mees manipulerende dae in die geskiedenis van Suid-Afrika is. Dit word gebruik om ‘n narratief van Suid-Afrika te wys wat nie regtig bestaan nie, om die werklikheid te verberg.”

Diegene wat Jan Braai oor die kole haal op sosiale media wys ook op die omstrede geskiedenis wat hom tot nasionale, wel, braai- ikoon sou verewig. Hulle verwys o.a. na Pieter du Toit se topverkoperboek, The Stellenbosch Mafia (2019) wat die storie agter Jan Braai openbaar.

“Nasionale Braaidag is ‘n projek wat bestuur word deur Jan Scannell, wie se pogings deur die Millennium Trust befonds word. Hierdie Trust, na alle berigte ‘n miljard rand of meer sterk, word deur Michiel Le Roux, een van die stigters van Capitec, vanuit Stellenbosch bestuur.

Scannell, of Jan Braai, wie se pa die uitvoerende hoof van Distell was, is getroud met die dogter van Chris Daun, een van die dryfkragte agter Steinhoff. Jan Braai word betaal om braais en sosiale media-veldtogte te organiseer om Erfenisdag te vervang ten gunste van Braaidag.

Nie ‘n slegte bestaan nie, veral as dit so luuks befonds word soos hierdie een. Nou, dit is nie verbasend wanneer jy na ons gemeenskappe kyk nie – ons sien mense braai, wyn en bier deel, maar nie ter viering van Erfenis nie, wat ‘n Nasionale Vieringsdag is op die 24ste September …”

Die ontstokenes meen die gebeure by Willowbridge lei suksesvol die aandag af van die historiese belang van erfenis in Suid-Afrika. “Wat dus by Food Lovers Market gebeur het, is geen verrassing nie … dit is immers in oploop na Erfenisdag.”

“Die vriendelike en vreugdevolle gratis uitdeel van worsrolletjies aan SOMMIGES is ‘n leidraad oor wie die dag gaan want die boodskap van Jan Braai is duidelik … en dis ‘n SKANDE!”

As ‘n land met 11 nasionale tale, ‘n nasionale vlag wat ons koloniale verlede en demokratiese hede erken, en ‘n nasionale volkslied wat drie verskillende dialekte insluit – het Suid-Afrika diep wortels in die geskiedenis en tradisie. Erfenisdag erken hierdie gedeelde verskille wat ons inherent Suid-Afrikaans maak.

Interessant het die ontstaan van Erfenisdag, ook bekend as Braaidag, as ‘n Openbare Vakansiedag amper in die Zoeloe-koninkryk in KwaZulu-Natal gesneuwel. Dié dag is ook stewig geanker in die geskiedenis en tradisies van KZN.

Die provinsie van KwaZulu-Natal het ‘n belangrike rol gespeel in die erkenning van hierdie dag in Suid-Afrika se geskiedenis. Voor 1994, is 24 September jaarliks in KZN herdenk as Koning Shaka-dag – ‘n provinsiale vakansiedag ter ere van die legendariese Zoeloe-koning.

In die vroeë 1990s, toe die regering van nasionale eenheid begin werk het aan wat later ons Grondwet sou word, is dié dag nie ingesluit vir oorweging in die Openbare Vakansiedag-wetsontwerp nie. Die oorwegend Zoeloe Inkatha Vryheidsparty (IVP) het geweier om die wetsontwerp te onderteken tensy die dag ingesluit en erken word as ‘n nasionale vakansiedag.

Ter wille van kompromie, is 24 September hernoem na Erfenisdag en in die wetsontwerp ingesluit, met die regering se doel om eenheid in diversiteit te bevorder. Volgens die Nasionale Braaidag-missie is die doel om “alle Suid-Afrikaners aan te moedig om rondom vure te verenig, ons erfenis te deel en ons vlag te waai op 24 September elke jaar.”

Koning Shaka-dag word ook steeds jaarliks deur die Zoeloes in die provinsie by sy graf in KwaDukuza (noord van Durban) gevier waar die Zoeloe-kryger in 1828 begrawe is nadat hy deur sy halfbroers Dingane en Mhlangana vermoor is.

Erfenisdag dien as ‘n belangrike herinnering aan ons verlede, waar ons vandaan kom as individue en as ‘n kultuur-diverse nasie. En ondanks ons verskille en wankelende demokrasie 30 jaar later, kan ons steeds hoop vir ons omstrede land put uit Madiba se Efenisdag-toespraak in 1986: “Ons het Erfenisdag een van ons nasionale dae gemaak omdat ons geweet het ons ryk en diverse kulturele erfenis het ‘n diepgaande krag om te help om ons nuwe nasie te bou.”

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!