Sonnette Lombaard
Liefde in sy vele vorme sal ons nooit ophou betower nie. Dis veral die romantiese liefde tussen twee mense wat van die vroegste tye verliefdes aanpor om dit buitengewoon te besing en te vereer. want ware liefde is sterker as meeste weerstand en oorskry alle grense. Dít laat die mens tydloos kreatief daaraan uiting gee in onder meer woorde, kuns, musiek en argitektuur.
Dink maar aan die beroemde, majestieuse Taj Mahal in Indië. Dié meesterstuk wat beteken die “Kroon van die Paleis” is ‘n ivoorwit marmer-mausoleum met kosbare juweelstene aan die oewer van die Yamuna-rivier in Agra, Uttar Pradesh. Dis in 1631 deur die vyfde Mughal-keiser, Shah Jahan, laat oprig as graf vir sy vrou, Mumtaz Mahal, en hyself rus ook daarin. Sy wens dat dit tydloos sy liefde vir haar moes uitdra, het gerealiseer want tot agt miljoen Aardlinge besoek die wonderskone Taj jaarliks om die Shah se indrukwekkende ode aan liefde gade te slaan.
In nog só kleiner maar ewe besondere, openbare liefdesverklaring geset in klip, “knoei” die groter magte en misterie saam om aan dit ‘n rare emosionele diepte te gee. Dís dan juis die krag van die liefde – waar die mens te kort skiet, neem die natuur en onsigbare magte dikwels oor. Hierdie magiese simbool van liefde is weggesteek van die massa-oë in ‘n hoekie in ‘n klein Europese koninkryk.
In die historiese Cimetière de Laeken in die Belgiese hoofstad Brussel, is ’n mausoleum wat een keer per jaar vir ’n merkwaardige “vertoning” sorg. Gebou in 1920 vir Léonce Evrard en sy vrou, Louise Flignot, bevat die graf ‘n sombere beeldhouwerk van ‘n treurende figuur, arm treffend uitgestrek na ‘n leë muur.
Jaarliks met die Noorde se somer-sonstilstand, wanneer die son op sy hoogste punt is, word die mausoleum se ware magie geopenbaar. Presies op die middag van 21 Junie dring sonlig deur ‘n opening in die dak en skep ’n hartvormige straal van lig. Hierdie eteriese gloed vorm kortstondig, en net bokant die treurfiguur se hand – bykans asof dit na hierdie simboliese hart van lig uitreik!
Die verskynsel duur slegs sowat 15 minute, maar dit betower besoekers jaar in en uit. Baie sien hierdie hart van lig, wat op die langste dag van die jaar verskyn, as ‘n romantiese bewys van ewigdurende liefde.
Maar ‘n mens hoef nie ‘n vet bankbalans te hê om die liefde só baldadig en glorieryk in die openbaar te vier nie. Nog gewilde plekke waar mense kreatief die liefde in watter vorm ookal, uniek salueer, is:
Die Muur van Liefde in die Franse hoofstad Parys. Ontwerp deur twee kunstenaars as ‘n monument vir liefde en blywende aanbidding, dra die Muur van Liefde in Montmartre hierdie woorde: “Ek is lief vir jou”, meer as 1 000 keer in 300 tale. Geskep as ‘n plek vir paartjies om oor die liefde te besin, dek die indrukwekkende kunsinstallasie 612 teëls, gemaak van geëmailleerde lawa. Die fragmente van die rooi kleur wat deur die werk versprei is, verteenwoordig glo ‘n gebroke hart wat die kunsstuk probeer “herstel”.
Juliet se Balkon in Verona, Italië. Jaarliks lok ‘n 14de eeuse huis in die middel van Verona duisende besoekers, alles danksy ‘n genie genaamd William Shakespeare. Dié balkon, geleë in Casa di Giulietta, het glo aan die Capulet-familie behoort in sy beroemde boek met die fiktiewe en tragiese romanse van Romeo en Juliet. Die balkon, waarop Juliet glo geroep het na haar verbode minnaar, kyk uit oor ‘n klein binnehof waarin verliefde toeriste tekens, graffiti en handgeskrewe note los in die hoop dat hul liefdeslewe sal floreer.
Die Lennon Muur in die Tsjeggiese hoofstad Praag. Sedert die 1980s is dié muur bedek met beide beelde en lirieke van John Lennon en The Beatles. ‘n Groot muurskildery van Lennon self is oor jare bedek met boodskappe van vrede en liefde. Die muur bly ‘n veranderende doek vir besoekers van regoor die wêreld om liefde uit te druk. In 2014 het kunsstudente die muur heeltemal wit geverf, met net die boodskap “Wall is Over” as huldeblyk aan een van Lennon se bekendste werke. Maar kort voor lank, was dit weer met skilderye en inspirerende boodskappe bedek.
Liefdesslotte. Hierdie hedendaagse slottonele word nou wêreldwyd gevind in o.a Venesië, Seoel, New York, Moskou, Tel Aviv en Dublin. In 2006 is Federico Moccia se tiener-roman I Want You vrygestel. Dié verhaal het ‘n jong paartjie uitgebeeld wat ‘n hangslot aan die Milvian-brug in Rome vasmaak om hul ewige liefde te simboliseer. Dít het ‘n nuwe generasie romantiese boekliefhebbers geïnspireer om dieselfde te doen, en brûe wêreldwyd word sedertdien oorlaai met hangslotte. Slotverkopers staan op brûe in Italië, Frankryk en Spanje, sodat jy nie eers jou eie slot hoef saam te bring nie!
Muntbome. Soos die liefdesslotte, word sulke muntbome op verskeie plekke regoor die Verenigde Koninkryk gevind, veral in Skotland, Cumbria en die Mere-distrik. Munt- of wensbome is al geruime tyd gewild en volg ‘n ou tradisie na. Jong mans probeer om met een hou ‘n spyker in ‘n meidoornboom in te slaan. Was hulle suksesvol, was die dapper verliefde jongeling verseker van ‘n soen van sy geliefde! Nou het muntbome herleef en word boomstamme gevind met duisende munte wat in hul bas ingeslaan is.
Die Kougommuur in Seattle in die Verenigde State. ‘n Meer omstrede liefdesmuur, hoewel ouer Afrikaanse generasies sal onthou hoe kougom inderdaad deel was van “jonk en verlief wees”. Seattle se kougommuur naby die Pike Place-mark is ‘n gewilde toeristeaantreklikheid. Besoekers aan die muur los hulle gekoude bydraes in ‘n wilde verskeidenheid van kleure, vorms en groottes daarteen, en sommige voeg persoonlike aantekeninge en snuisterye by vir pret. Hoewel die kougom twee keer in die 1990s verwyder is, laat stadsamptenare dit nou met rus en erken dit as ‘n toeriste-hotspot. Liefdespaartjies het al selfs troues voor die muur gehou, in die geloof dat hul liefde – soos die kougom – deur enigiets saam kan kleef.