Ridder Donki-got, die man van Calitzdorp – Deur Koos Roets
‘n Verhaal geïnspireer deur een van die grootste helde in wêreldliteratuur.
“Is meneer op pappegaaislaai, of wat?”
Donki-got hoor nie die aantyging nie; al wat hy nou sien, is die vier enorme blink reuse op die heuwel.
”Ek gaan die laaste een doodmaak en die buit gaan ons help om ryk te word.”
Sancho verstaan nie mooi nie. “Hoekom wil meneer hulle doodmaak? Is reuse dan slegte goed?”
Donki-got verduidelik in ‘n dramatiese stemtoon. “Dis ‘n groot diens wat mens aan God bewys as jy dié nare gespuis van die aangesig van die aarde vee.”
”Maar hoekom? Wat het die arme goed meneer aangedoen. Is dit nie gewapende roof nie?”
Donki-got blits ‘n vuil kyk na Sancho. Hiervoor het Donki-got nie tyd of ‘n antwoord nie. Hy wys ergerlik met sy voorvinger. “As jy te lafhartig is, staan opsy en sê jou gebedjie.”
Donki-got laat sak sy helmet driftig, skop die Harley in rat, draai die petrol vol oop en trek met ‘n bulderende aanvalskreet weg. “Santiago y cierra, España!”
Sancho slaan die gebeure wat hier voor hom ontvou in skok en ongeloof gade. “O shit!”
Sancho spring op sy Vespa en sit die ridder agterna.
Donki-got bestorm die heuwel in volle vaart terwyl hy teen die wind skree. “Julle beter weghardloop terwyl julle nog kans het, verfoeilike lafaards! Dis ek Donki-got wat man-alleen teen julle opruk! Julle mag wel groter as Briareus wees, maar vandag gaan ek julle laat les opsê!”
Die windpompe bly roerloos staan. Hy hou ‘n entjie van hulle af stil, kniel by die agterwiel van die Harley en lê sy hand plegtig op sy bors.
”Ek dra my geheel aan u op, o skone Dulsie! Ek smeek u om my in hierdie uur van beproewing by te staan.”
Hy staan op en bekyk die naaste windpomp. Sancho hou met knarsende remme by hom stil. ”Meneer gaan meneer se gat afval as meneer so roekeloos oor die veld jaag! Daai bike van meneer is ‘n cruiser, nie ‘n offroader nie.”
“Sancho my vriend, dit wil vir my lyk of ‘n mens vir die goed se koppe moet gaan.”
Sancho pleit. “Los in hemelsnaam asseblief tog net die goed!”
Donki-got stap na die windpomp en begin haastig en onverskillig teen die windpomp se leer uitklim. ’n Desperate Sancho waarsku. “Meneer gaan daar afdonner!”
Hy gryp die ridder aan die been wat moerig na hom skop. “Los my, jou lafhartige ellendeling!”
Sancho laat los voor sy kop onder die ridder se woeste skoppe deurloop. Hy hou Donki-got, wat al hoër klim, benoud dop. Terwyl hy op die platvormpie reg onder die windpomp se kop staan, trek ons brawe ridder verwoed sy swaard uit die skede. “Net een kopslag vir jou, verfoeilike ellendeling!”
Donki-got lig sy swaard omhoog en met sy nou reeds bekende aanvalskreet kap hy na die wiel wat doodsgevaarlik net bo sy kop draai. “Santiago y cierra, España!”
Op daai ongelukkige oomblik draai die wind, die stert swaai om en klap Donki-got bo van die stellasie af. Die arme ridder trek soos ‘n gekweste voël deur die lug en val hom katswink op die grond.
‘n Geskokte Sancho storm nader. “Is meneer oukei?”
Maar ons dapper ridder is nie oukei nie! Hy roer nie, so uit soos ‘n kers met bloed wat uit sy mond loop. By nadere ondersoek sien Sancho dat daar ten minste ‘n tand of twee skort. Sancho se senu-ineenstorting loer om die draai. “Ag liewe jirretjie tog Meneer, ek’t mos gesê meneer moet dink en kyk voor meneer hierdie soortvan stront aanja!”
Donki-got se oë knip-knip stadig oop en hy prewel. “Stil, vriend Sancho.”
Sancho slaak ‘n sug van verligting. “Dankie tog. Meneer leef darem nog al is daar ‘n paar van meneer se voortande moer toe!”
Donki-got vee die bloed van sy lippe af en voel na die gat waar die tande eens was. “Ek dink dis dieselfde towenaar wat my van my boeke beroof het.”
”Wie?”
“Die towenaar wat daai reuse in windpompe verander het.”
“Ai Meneer …”
Met sy serp vee Sancho die bloed van Donki-got se gesig en mond af.
“Ai jirretjie tog Meneer, kyk hoe lyk meneer!”
Donki-got probeer opstaan, maar sy bene swik; hy steier en kom op sy sitvlak te lande. “Volgende keer tel jy jou swaard op en dan sit jy ‘n bietjie hand by, Sancho!”
Sancho skrik. “Wie? Ek?”
“Ja jy, jou lafaard! Maar dié keer is ek bereid om alle blaam op myself te neem.”
”Dis mos wat ek ôk sê!” stem die agterryer saam.
“Ek moes nie alleen teen die goed geveg het nie, want hulle is nie eerbare ridders soos ek nie.”
Sancho skud sy kop in ongeloof. “Ek’t meneer gewaarsku, maar meneer wou nie hoor nie! Neuk net aan!”
Donki-got hoor nie. “Ek dink dis dié dat die god van oorloë toegelaat het dat ek so gestraf word.”
Sancho druk aan die ridder se kakebeen. “Lyk vir my daar’s nog ‘n paar ander tande losgeval ook.”
Donki-got vererg hom. “Luister jy, Sancho?”
“Ja Meneer.”
“As ons weer teen sulke uitvaagsels veg, moet jy nie wag dat ek eers my swaard trek nie! Jy moet dadelik inspring en help veg!”
Hiervoor is Sancho nie te vinde nie. “Hel nee Meneer, ek’s ‘n vredeliewende outjie!”
Donki-got vervies hom liederlik. “Jy’s my agterryer en jy maak soos ek jou beveel, verstaan jy! Wat het van jou belofte van ewige trou geword?”
“Ek sê nou vir meneer ek veg nie teen Boer, ridder, Indiaan, Zoeloe, Palestyn, Jood of die odd reus nie! Glad nie! Dis uit soos koek vir die weeshuis!”
Donki-got kyk hom kopskuddend aan. “Luister hier, jou slegte mens! Ek wens ek’t op hierdie oomblik genoeg asem in my gehad om jou ‘n stewelvol op jou agterent te gee!”
“Ai, kan ‘n mens so hardegat wees?” kom dit in ongeloof van Sancho. Hy help die steunende ridder op sy voete.
“‘n Heerser in die geveg moet genoeg verstand hê om te verdedig of aan te val soos dit nodig is. Verstaan jy dit, Sancho?”
“Ja ek verstaan, maar meneer het pleisters nou meer nodig as wat ek ‘n preek nodig het.”
”Sê nou net die gelukswind wat nou so teen my waai, draai en dit stuur ons na een van die eilande wat ek aan jou belowe het? Wat dan?” wil Donki-got weet.
Sancho kry lewe. “’n Eiland, Meneer? Is daar dan eilande hier rond?”
“Hope!”
Sancho kyk om hom rond.
“Wat dink jy sal van jou word as ek jou oor so ‘n eiland aanstel. Sal jy ooit die ruggraat hê om daaroor te kan regeer?”
Sancho glimlag nou van oor tot oor. “Ai Meneer, so ‘n eilandjie van ‘n man se eie sal darem dêm lekker wees, hê Meneer?”
“Ja, ja, ja, Sancho,” kom dit ongeduldig.
“So ‘n goeweneur – dra hy ‘n uniform of ‘n pak klere of wat?” wil Sancho weet?
“Sommige goewerneurs en sommige diktators soos Mussollini het altyd uniforms gedra. Vir wat wil jy weet?”
Sancho beduie na sy broekspyp wat byna van bo tot onder oopgeskeur is. “Met Meneer se geneuk om op die windpomp te klim, het my broek aan die briek se slinger vasgehaak … en kyk hoe lyk hy nou!”
“Aardse goed, Sancho, aardse goed! Ek sal kyk of ons ‘n ‘n naald en gare êrens kan buit.”
Sancho is nie juis met dié antwoord tevrede nie en gaan al brommende voort om pleisters en verbande in Donki-got se saalsak te soek.
Word vervolg…