SA RUGBY
Die Springbok-stut Ox Nche het gesê die span se tema vir die week in die stelskoppe voor hul voorlaaste Castle Lager Rugbykampioenskap-kragmeting Saterdag teen Argentinië in Santiago del Estero was om “die onverwagte te verwag” terwyl hulle hulself gereed maak vir ‘n epiese ontmoeting by Estadio Unico Madre Ciudades in hul voorlaaste wedstryd van die kompetisie.
Albei spanne is steeds in die wedloop om die titel. ‘n Oorwinning vir die Springbokke sal egter sorg dat hulle vir die eerste keer sedert 2019 hierdie titel sal verower voor die slotwedstryd van die toernooi in die Mbombela-stadion in Nelspruit volgende week Saterdag.
’n Nederlaag vir Suid-Afrika sal egter daartoe lei dat volgende week se toets in ’n toernooi-eindstryd verander – die Bokke hou tans ’n voorsprong van agt punte bo Argentinië op die puntelys.
“Die tema vir ons wanneer dit by hul stelskoppe kom, is om die onverwagte te verwag,” het Nche gesê.
“Hulle het beslis gegroei in hul voorspelerspel, en hulle probeer nuwe dinge in die lynstane, waar hulle voor en agter kan speel, en hulle losgeskille is ook goed, so hulle is ‘n afgeronde span. Ons weet dit gaan ’n massiewe uitdaging wees.”
Die Springbok-slot Ruan Nortje, wat in die enjinkamer langs die kaptein Salmaan Moerat sal wegspring, het ook ‘n massiewe voorspelerstryd verwag en hy het beklemtoon hoe belangrik dit is om fisiek by die gashere aan te pas.
“Hulle is soortgelyk aan die Springbokke aangesien hulle ook trots is op hul liggaamlike sterkte, so ons weet hulle gaan nie wegdeins daarvoor in die wedstryd nie,” sê Nortje. “Maar ons het hierdie week goed voorberei en ons is opgewonde oor die uitdaging.”
Op 26 is Nortje dalk een van die jonger spelers in die span, maar hy geniet die uitdaging om die lynstane in hierdie deurslaggewende ontmoeting te hanteer.
“Om die lynstane te roep kom met sy eie druk, maar ek geniet dit,” sê Nortje.
“Ons ken die gehalte van die groep waarteen ons te staan kom en die standaard van hul spel in die algemeen, maar die stelsels wat ons in plek het sorg vir wat ons wil doen, so dit is noodsaaklik dat ons Saterdag by ons strukture hou.”
Op die vraag of hy geweet het wat om hierdie naweek van die tuisskare te verwag, gegewe al die praatjies oor die vyandige omgewing by die Argentynse stadions, het Nortje gesê: “Die meer senior ouens het ons beslis voorberei op wat om te verwag, so dit is belangrik om ons ingesteldheid reg te kry vir ’n vyandige omgewing en een van die moeilikste wedstryde wat ’n mens kan speel.”
Met die Castle Lager Rugbykampioenskap-titel op die spel, het Nche gesê dit sal spesiaal wees as hulle met ‘n oorwinning wegkom én met die titel die naweek wegloop.
“Dit sal regtig baie vir die span beteken,” het Nche gesê. “Dit sal meer krediet gee aan wat die span oor die laaste paar jaar opgebou het.
“Baie spanne het soms ’n neiging om inkonsekwent te wees, maar nadat ons die Wêreldbeker-rugbytoernooi gewen het, voel ons ons word beter en strawwer as ’n eenheid, en om die kompetisie te wen, sal versterk wat ons as ’n span wil bereik.”
Die wedstryd skop om 23h00 (SA tyd) af en sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.