Sonnette Lombaard
“As jy weet hoe vinnig mense die dooies vergeet, sal jy ophou leef om mense te beïndruk.” – Christopher Walken
Lewenslesse is nie goedkoop of kom maklik nie. Die wat die hardste dawer en diepste wond bring helaas ook die helderste lesse. Wis enigeen wat bewustelik met die voorreg van leef omgaan. Só met lese van veteraan-akteur Christopher Walken se insig hierbo, wis ek nogeens dít is inderdaad een van die kernlesse wat ek self die laaste handvol jaar deeglik moes van kennis neem. ‘n Mens moenie illusies hê nie oor die moderne mens se oppervlakkige wees en wankelerige omgee, veral nadat jy gegroet het.
Ons lewe in ‘n ongekende, supersnelle samelewing waarin jy moet klou of jy duiwel af. Een waarin nuwe millennium-spelreëls geld van kitsvinnig-als en aanhou beweeg en geraas maak in ‘n klakkelose kloonkolonie. Van here today, gone tomorrow. Ja, doodgaan was nog altyd deel van elke geborene se padkaart, maar die ou spreekwoord “uit die oog, uit die hart” kom teen die 21ste eeu bittermooi in visier.
Soos die lewe dit wil hê, moes ek vier geliefdes en twee kollegas die laaste vier jaar groet. My geliefdes was met die uitsondering van Roberta (aan Covid) almal ervare journos of mediamense soos ek. Ronel Nel (orgaanversaking), Johan Jack Smith (trombose) en Ronelle Rademeyer (kanker) was deel van my hartskring en almal jonger as ek toe hulle Aardse tog tot ‘n einde gekom het. Hulle was geliefde siele met wye, uiteenlopende vriendekringe en hulle onderskeie afskeide was vir ons agtergeblewenes swaar en treurig.
En toe gaan die lewe weer blitsig fluks aan, en wil dit blyk, is hulle verstommend vinnig en al meer vergete soos die tyd aandraf. Huh? Wat het dan geword van treur wat ‘n ten diepste reis met verskillende stasies is, wat net oor tyd kan geskied om gesond te kan kom, genoegsaam te heel? Maar in ons moderne tjoef-tjaf bestaan is daar skynbaar g’n meer plek vir gebuk gaan onder ‘n hart wat steier ná onvervangbare mensverliese nie!
Let wel, ek praat nie van diegene wat kies om met elke “terugslag” met lang gesigte rond te loop en hulself te bejammer en ewig wil “ly” vir watter rede(s) ookal nie. Dié selfkoesterende slagoffer-spesie immer op soek na ‘n verskoning om bedremmeld te wees, pes ek paraat. Ek praat van werklike treur en rou waar jy, jou einahart en gekweste siel mank ná diepe verlies voortstrompel … dus van onverdunde lojaliteit wat deur dik en dun onwrikbaar bly staan.
Ja, ek kry dit dat dinge moet aangaan, dat ‘n mens nie onbepaald kan halt en/of huil nie, maar hoe het dit dan gekom dat ons so argeloos omgaan met mekaar, eintlik met áls? Is diepe vriendskapsbande en hartsliefdes, daadwerklike omgee en opregte treur as jy dit verloor, dan geweeg en te lig bewind vir die glansbehepte millenniumens se idee van sinvol geleef kry?
Oppad na Mars, weerklink ons Aardse siele sadly al armer en holler, gaan ons onverskrokke en onverskillig met onsself en als anders om. Hoe anders, dit word dan gevoed deur versugtinge van selfsug en nyd. Soos Václav Havel tereg gesê het, dobber die moderne mensdom – ons ruimte vir liefde, vriendskap, deernis, nederigheid en vergifnis het die vlakkant bereik. Ons gee om vir onsself en bôgger die res.
Teen sestig somers het jy hierdie hele relaas self beleef, dié soort onlekkertes aan eie lyf gevoel. Ook van die bodemlose boosheid van mense wat hedendaags grensloos vervuil. Om te moet koes vir die mensgif van agterbakse adders wat oraloor tussen ons seil, leer jou meer oor menswees as enige boek ooit kan. In kort, waar boosheid die algemene deler is, sal boosheid heers en als om dit besmet voor die inyokas (slange in swart Arika-tale) mekaar vermorsel. Genoeg gesê.
Terug by klarigheid. Op die lewensreis en ons gestoei vir ‘n bestaan om van onsself en als anders te probeer sin maak, is dít die een stasie waarby regdenkendes wíl aandoen. Die halte met belofte van vrede en groter verstaan wat hopelik heling kan baar. Die vrede wat alle verstand te bowe gaan, soos Paulus dit uit sy tronksel besing. Maar juis dít is toe nog een van Vader Tyd se verrassings op Moeder Aarde.
Klarigheid kry is ‘n wispelturige ding, kan soos kwiksilwer nie sommer vasgevat word nie. Dit glip verspot maklik en dikwels hardverworwe, kom klarigheid ook met geen waarborg van uiteindelike berusting nie. Net as jy dink jy het dit, tref ‘n fratsbrander uit ‘n onverwagse hoek en slaan jou weer genadeloos terug op jou plek. Soos skoonsus Reta uit die Bosveld skryf: in die strewe na klarigheid is dit asof jy jouself net nooit genoeg kan verskans teen die lewe se opslagwinde nie.
Terselfdertyd kruis iets van die briljante maar tragiese skrywer Virginia Woolf my aanlyn. “Om die lewe in die gesig te kan kyk, altyd, om die lewe in die gesig te kyk, en te weet hoe dit is … uiteindelik, om dit lief te hê vir wat dit is, en dan, om dit weg te sit … ” Dié Engelse roos het verstaan van fragiele gegewes en klarigheid se brose bedrading.
Tog, het die Amerikaanse digter Robert Frost ‘n punt beet met sy: “ In drie woorde kan ek alles opsom wat ek oor die lewe geleer het: dit gaan aan.” Teen ‘n stinkspoed dit is, ja. Maar ‘n mens hoef nie die pelgrimspad bitter en bleek te bereis nie. Jy moet net die sleg behendig omseil en bly skep uit die lewe se boepens vol vreugdes, goedheid en saligheid om jou sagkens enduit te begelei.