Nierontvanger Kenneth Naidoo en longontvanger Dale Steyn is dankbaar vir die lewensreddende bydrae van geregistreerde orgaanskenkers.
Die kosbare geskenk van die lewe is in jou hande
Die seldsame en wonderbaarlike moontlikheid van ‘n tweede kans op lewe hang in die weegskaal vir die duisende Suid-Afrikaners wat tans op die waglys vir lewensreddende oorplantings is, aangesien minder as 0,2% van die publiek geregistreerde orgaanskenkers is.
“Mense met defektiewe harte, longe en niere spandeer angstige jare op die waglys vir die moontlikheid dat ooreenstemmende weefselskenkerorgane beskikbaar kan wees,” sê sr Simangele Ndima, Netcare-oorplantingskoördineerder.
“Gewoonlik dink die meeste mense nie eintlik daaraan om as ’n orgaanskenker te registreer nie. As jy sien hoe een mens se tragiese heengaan nuwe lewe aan tot sewe mense kan gee en die gebede van soveel gesinne kan beantwoord, maak dit regtig jou oë oop vir die groot krag wat ons elkeen het om goed te doen – selfs nadat ons hierdie lewe verlaat het,” sê sy.
Onlangs het Netcare Olivedale Hospitaal ‘n bewusmakingsdag saam met die Orgaanskenkerstigting aangebied. Dale Steyn, ‘n ontvangsdame by die hospitaal, het haar lewe te danke aan ‘n persoon wat as ‘n orgaanskenker geregistreer het en sowat 20 jaar gelede oorlede is.
“Ek het sistiese fibrose en chroniese obstruktiewe longsiekte [COPD] gehad, wat beteken het dat ek net 20% longkapasiteit gehad het. Ek was vir ses maande op suurstof aangewese en was elke dag vir vyf maande op die waglys en het gesukkel om asem te haal. Teen die einde van 2003 het ‘n bypassende skenkerlong beskikbaar geword, en ek is dadelik ingeneem vir die oorplantingsoperasie wat my lewe gered het en my teruggebring het tot 80% kapasiteit in die regterlong,” sê Steyn.
“Ek het destyds ‘n tienerseun gehad, en ek is elke dag uiters dankbaar vir die persoon wat genoeg omgegee het gedurende hul lewe om as ‘n orgaanskenker te registreer om my hierdie tweede kans te gee om my seun te sien grootword, vir kwaliteit tyd saam met my man en die mense vir wie ek lief is, en selfs terug te keer werk toe.
“Wanneer ek die Orgaanskenker-plakker op iemand se identiteitsdokument sien, voel ek ‘n gevoel van konneksie, want ek weet eerstehands die belangrikheid van die kosbare geskenk wat dit beteken. Twintig jaar ná my oorplanting het ek hard gewerk om na my gesondheid om te sien en ondergaan steeds gereelde ondersoeke – ek is in beter gesondheid op 61 as wat ek op 40 was, danksy my skenker en hul familie.”
Mnr Kenneth Naidoo is ‘n vrywilliger by die Orgaanskenkerstigting wat ook direkte ondervinding het met die kragtige impak van orgaanoorplanting, nadat hy in 2005 ‘n nier ontvang het.
Nierontvanger Kenneth Naidoo en sy vrou Val is vrywilligers by die Orgaanskenkerstigting. Hulle is op die foto saam met Netcare-oorplanting-koördineerder sr Simangele Ndima, CTE-weefsel-koördineerder sr Lia Jorge en sr Pam Tsoagong.
“Niersiekte kom ongelukkig in my familie voor: my pa is aan nierversaking dood, sy jongste broer is ook in sy 20’s dood aan die toestand, en ek was vir vyf jaar op dialise aangewese vir oorlewing terwyl ek op die waglys was vir ’n bypassende skenkernier.
“Danksy die gebede van my kerk het ’n bypassende nier beskikbaar geword. Ons dogter was toe net sewe jaar oud, en ek is so dankbaar vir nog ‘n kans op die lewe saam met haar en my vrou.
“Die verskil wat dit aan my lewenskwaliteit gemaak het – om nie 15 uur per week aan dialise hoef te spandeer nie en nie so beperk te wees in terme van wat ek kon eet en drink nie – was ongelooflik. Met nierversaking is daar ten minste dialise om jou aan die lewe te hou, maar vir mense wie se ander lewensbelangrike organe misluk, is oorplanting hul enigste hoop op oorlewing.
“Toe ons afgetree het, het ek en my vrou besluit om vrywilligers by die Orgaanskenkerstigting te word om mense bewus te maak van die verskil wat elkeen van ons kan maak deur as skenker te registreer en hierdie wense bekend te maak aan ons gesinne, wat die finale toestemming sal moet gee. Een tragedie kan hoop bring en ’n ouer vir hul kinders teruggee as ons net daaraan dink gedurende ons tyd op aarde,” sê Naidoo.
Registreer as ‘n orgaanskenker om ‘die gawe van lewe’ aan ander te gee
Elke orgaanskenker het die potensiaal om tot sewe lewens na hul eie dood te red, aangesien die hart, lewer, pankreas, niere en longe ander kan help wat orgaanoorplantings benodig. Onthou dat wanneer jy as orgaanskenker registreer, jy kan besluit watter organe of weefsels jy bereid is om te skenk.
Om as ‘n orgaanskenker te registreer of vir meer inligting kontak die Orgaanskenkerstigting by hul tolvrynommer, 0800 22 66 11, of besoek https://www.odf.org.za.
Registrasie as ‘n orgaanskenker is gratis, en die skenker en hul gesin het geen koste in die orgaanskenkingsproses nie. As jy jou organe wil skenk wanneer jy sterf, bespreek jou wense met jou familie, want hulle sal die finale toestemming moet gee – selfs al is jy ‘n geregistreerde orgaanskenker.
Die proses om skenkerorgane te verwyder kan eers begin nadat twee onafhanklike dokters die skenker breindood verklaar het. Die verwydering van organe word met die grootste sorg en respek gedoen, en die proses beïnvloed nie die voorkoms van die liggaam nie. Sodra die organe vir oorplanting verwyder is, word die skenker se liggaam aan hul familie terugbesorg vir begrafnis of verassing.