Skip to main content

Sonnette Lombaard

Suid-Afrikaners kan solank voor die kleinkassie begin regskuif want ons land se splinternuwe laekoste-lugredery gaan binnekort jou lagspiere na ongekende, nuwe hoogtes voer.

Agter die stuur van dié bekostigbare lugredery, Banana Air, is ons ervare volkskomediekoning Willie Esterhuizen wat geen bekendstelling nodig het nie. Willie weet hoe om met sy eie volk fyn te spot én nie-so-fyn-nie, afhangend waar jy staan. Tydloos-gewilde TV-sitkoms soos Orkney snork nie en Vetkoekpaleis is ware Afrikaanse Africana. Wend Willie hom na die groot skerm is sy flieks soos Poena is koning met Robbie Wessels ook gewaarborgde volksvermaak.

Deel van Willie se suksesverhaal is sy regterhand agter die skerms, broer Pieter. Banana Air word vervaardig deur die broers Esterhuizen se Westel Produksies, wat ook vir reekse soos Molly & Wors, Hester en Ester Bester, Poena en Huis Lelieveld verantwoordelik is.

Pieter is weer op sy pos langs Willie met die splinternuwe sitkom Banana Air wat einde vandeesmaand op kykNET afskop. Voeg daarby oudergewoonte die inspan van Willie se vertroueling-spelers voor die kamera en jy weet Banana Air kan kommerloos opstyg … vir veilige landing in Suid-Afrikaners en veral Afrikaanses se sitkamers en harte.

Volgens Willie broei die idee van ‘n komedie oor ‘n laekostelugredery en die mense daaragter – in die nuwe reeks die vlieëniers, eksentrieke vlugkelners en lugwaardinne en ’n senuwee-wrak van ’n bestuurder, saam met sy persoonlike assistent – al lank in sy kop.

“Ek sit al vir jare met die idee om ’n reeks te maak oor lugwaardinne en vlieëniers. Mense het onmiddellik ’n klomp vrae wanneer iemand sê hulle is ’n lugwaardin of vlieënier. Ons almal wil dadelik meer weet van daai mense en hulle leefstyl wat so drasties anders is as ons gewone mense s’n,” vertel Willie.

Inderdaad. Banana Air volg die persoonlike en professionele verhoudings van die lugdiens se lugwaardinne en vlieëniers, en elke episode is gelaai met absurde penaries en onverwagse wendings. Hierdie span kry dit reg om op een of ander manier hulself gereeld in prettige situasies te laat beland.

Dis ‘n ervare en volksgeliefde span plaaslike akteurs wat in elkeen van die 13 episodes vir ’n plesiervlug met hope vermaak en skreeusnaakse oomblikke gaan sorg. Kykers kan uitsien daarna om uit te vind wat hierdie klomp kleurvolle karakters alles in die lug en op tussenstoppe aanvang.

Volgens Willie is die reeks heeltemal anders as enige van die sitkoms wat tans uitgesaai word. “’n Sitkom se doel is tog om mense te laat lag en te vermaak. Hierdie karakters gaan dit doen en vir ’n halfuur een keer ’n week die kyker laat vergeet van eie probleme,” aldus Willie.

Een van ons mees veelsydige akteurs Kaz McFadden is in die rol van Brand, ’n nuwe vlieënier wat by die lugredery aansluit, en wie se verhoudingstatus sy kollegas laat gons. Die trio blonde lugwaardinne wat kykers gaan laat skaterlag, is Koekie (Lara Lourens), ’n energieke lugwaardin en flirt wat gretig flikkers gooi vir Brand en  Barbie Benadie (Danielle Retief), altyd op die uitkyk vir ’n lekker en volgende jolbestemming.

Die ouer Hester (ou komediegunsteling Liane Heyl) is hulle meer ernstige en mededingende kollega. Haar verhouding met Piston (Markus Muller), Banana Air se gesoute vlieënier, gee haar kopsere, veral wanneer sy ontdek dat hy dalk nie so getrou is as wat sy gedink het nie – dit sorg vir vuurwerke in die lug.

Die redery se gestresde baas, Rodney Reddy (Jai’prakash Sewram), sukkel om orde te handhaaf terwyl sy werknemers in verskeie skandale verstrengel raak, insluitend aanlyn dobbel, geheime liefdesverhoudings en hoogs onprofessionele gedrag op vlugte. Sakkie (Matt Stern) is ’n vlieënier en Rodney se persoonlike assistent. Ná sy egskeiding begewe hy homself in nuwe romantiese verwikkelinge.

In die proses leer die span lewenslesse uit die dikwels uiteenlopende en soms rampspoedige situasies waarin hulle hulself bevind. Dit veroorsaak ook dat sosiale media oorloop met video’s en foto’s as getuienis van hul jolige pret en plesier.

  • Banana Air word vanaf 30 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op DStv Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!