Skip to main content

Sonnette Lombaard

‘n Kwarteeu gelede het ’n blonde Britse vrou fliekgangers oor alle grense oorrompel. Sy was iets anders: ’n kettingroker, Chardonnay-slurpende, selfhelp-behepte, effens lompe dertigerplusser van Londen. Haar dagboek verklap haar stryde, ook op soek na mnr. Reg, en het begin as gewilde koerantrubriek en toe oorgespoel in boekvorm en die grootskerm. Miljoene enkellopendes kon vereenselwig met Bridget Jones en sy was oornag ‘n kulturele ikoon en is in 2016 aangewys as een van sewe evas met die grootste invloed op vroue se lewens die afgelope 70 jaar.

Die Britse skrywer Helen Fielding se fiktiewe Bridget en haar vriende se liefde vir ‘n glasie wyn, alleen of saam, wyl hulle die lewe probeer uitpluis, het die sosiale drankie se gewildheid laat herleef. Volgens Fielding was haar rubriek fyn spot oor vroue en vrouetydskrifte se obsessie met liefde, huwelik en romanse.

‘n Kwarteeu later berig Britse koerante nou dat kurktrekkers uit die mode geraak het. Hulle meen voorts dat wyn drink by die huis ook uit behoort te wees. Die liberaalgesinde dagblad The Independent het die naweek berig oor ‘n nuwe verslag waarvolgens slegs 27 persent van jong mense in Brittanje teen nou nog ‘n kurktrekker besit.

Terselfdertyd besin een van hulle joernaliste Olivia Petter oor die redes waarom wyn drink tuis haar depressief gemaak en sy opgehou het. Dit het begin tydens die Covid-pandemie. “Ek sou my wyn saans voor die TV drink en jammer voel vir myself totdat ek begin dronk raak het. Dit klink dalk na ’n millenniël-droom, maar die werklikheid is dat jy dikwels effens hartseer voel – en later deurmekaar wanneer jy wil gaan slaap.”

Volgens Petter het sy gou in ‘n slegte patroon verval van haarself die volgende dag beloof om nie daardie aand weer te drink nie. Sy het haar belofte aan haarself telkens verbreek. “’n Paar jaar later het jy die hartseer, rokende vrou wie se wyn drink by die huis ‘n probleem geraak het.”

Gou was sy ‘n gereelde besoeker saans aan haar plaaslike wynwinkel. “Toe die somer aanbreek en die pandemiebeperkings verslap, was ons almal op voornaam-basis met die eienaar van die wynwinkel.”

Daarna was wyn die oplossing vir alles, soos ‘n moeilike dag by die werk, ’n rusie met ’n vriend of as sy baie down gevoel het. “My standaardreaksie was om ‘n lekker bottel wyn te gaan koop en dit in die eensaamheid van my eie huis te geniet (gewoonlik saam met ’n sigaret). Die romantiek daarvan was vir ‘n rukkie lekker,” gee sy toe.

Tog het sy geweet dis nie ‘n gesonde gewoonte nie, en dit het haar ook nie beter laat voel nie. “Inteendeel, dit het my eerder slegter laat voel, en verskeie leemtes in my lewe het voor my bly dans soos die gemis van ’n lewensmaat, en vriende om saam met my te drink, en iets dieper binne my wat ek net nie kon vul met wyn nie, maak nie saak hoe hard ek probeer het nie.”

Sy kon gelukkig eindelik ophou – en het ’n streng reël vir haarself ingestel dat sy nie meer by die huis mag drink nie. “Die enigste uitsondering is wanneer ek vriende oornooi, wat, terloops, iets is wat ook veel minder gebeur as vroeër.”

Petter skryf dat sy na dese weet tuis drink dui gewoonlik op ’n vorm van hartseer. “Dis ’n nederlaag. En as ek gaan aanhou om alkohol te drink, wil ek seker maak dis ’n vreugdevolle ervaring eerder as ’n depressiewe een. Dit beteken om dit daar buite in die wêreld te doen, omring deur vriende. Die Bridget Jones-prentjie wat ek vir myself geskep het, was toe nooit so romanties soos op die grootdoek nie; dit was eintlik net ’n bietjie treurig.”

Dié biegstorie en artikel oor die drink van wyn tuis wat in onguns verval, het tot lewendige debatte op sosiale media gelei. Petter is o.a. betigtig oor sy duidelik nie verstaan dat wyn en dronk raak nie noodwendig een begrip is nie. “Jy drink nie wyn om dronk te word nie, meisie! Jy geniet daardie EEN glas wyn saam met ‘n ete (soos die Italianers, Franse, Spaanse, Duitsers doen) of in geselskap met vriende en dit is dit,” het ‘n koerantleser laat weet. Nog een het raad gehad: “Jy drink nooit alleen wyn nie … dis wat my oorlede pa altyd gesê het. Dit is ‘n drankie wat jy altyd in geselskap drink,” meen Melissa Jones van Londen.

Suid-Afrikaners was ook nie skaam om hulle stywer in hierdie armbeurs te gooi nie. “Die berig se opskrif is ‘n perfekte voorbeeld van dit wat my deesdae irriteer oor mense. As jy verkies om nie alkohol tuis te drink nie, of glad nie, is dit goed vir jou. Maar hoekom verwag jy dat almal anders dieselfde moet doen?” wou Amanda Lottering van die Suid-Kaap op Facebook weet.

Volgens Lottering het sy oorgenoeg gehad van “hierdie moreel verhewe, skynheilige, beskermende toon wat soveel joernaliste, rubriekskrywers, beïnvloeders en pseudo-sielkundiges aanneem wanneer hulle vir die res van ons voorskryf hoe ons ons lewens moet leef. As ek tuis wil bly en drink, terwyl ek skyfies en spektoebroodjies eet en op die bank lê, is dit my besluit. Ek hoef nie toestemming te vra of myself aan enigiemand te verduidelik nie. My lewe is nie ‘n gemeenskapsprojek nie”.

Ek moes net toetree hier want ek is dit eens met haar. En ek is 41 jaar lank self ‘n joernalis en my spesie is helaas g’n engele nie en kan liederlik skynheilig wees. Beterwetig en gee nie om om mense met die mag van woorde te vernietig nie. Dit terwyl hulle dikwels self agter die deur staan betreffende die vergrype waaroor hulle so ruim berig.

Veels te veel joernaliste verwar die etiek van hulle professie wat fokus op objektiewe en billike verslaggewing ter wille van politiek-korrekwees en hulle drang om saam met die “koel liberales” te kan uithang. Nie dat jy nie eweveel skynheiligheid na die ander kant kry nie. Dit help om geen mense op trone te sit nie …

Voorts is ek self ewe gatvol vir ons moderne pseudo-alles-era … van predikers tot lewensafrigters wat jy nou agter elke bossie uitskop. Mense wat self sukkel om sin van hul eie lewens te maak, wat dikwels veel te wense oorlaat, en nou vir ander wil sê hoe om dinge sg. reg te doen … ek rol my oë op na die berge! En dan die vele vromes wat skuldig is aan elke Aartsonde (onmenslikheid veral) maar so bittergraag ongevraagd vir ander preek oor wat reg en verkeerd is. Deursigtig en boos!

Leave a Reply

error: Content is protected !!