Skip to main content

SA RUGBY

Die voormalige Springbok-seweskaptein Philip Snyman is as hoofafrigter van die Blitsbokke aangestel nadat hy die laaste ses maande in waarnemende hoedanigheid vir die span gesorg het, het SA Rugby Donderdag bevestig.

Snyman het in Maart oorgeneem as tussentydse afrigter, na ‘n reeks swak uitslae in HSBC SVNS, en onder sy leiding het die Blitsbokke die Wêreldrugby Sewes Herhalingstoernooi in Monaco gewen om toegang te verkry tot die Olimpiese Spele in Parys, waar hulle weggestap het met die bronsmedalje.

Rian Oberholzer, uitvoerende hoof van SA Rugby, het gesê die bevestiging van Snyman se nuwe rol – tot die volgende Olimpiese Spele in Los Angeles in 2028 – was deel van die beheerliggaam se huidige hoëprestasie-herstruktureringsproses.

“Die manier waarop Philip die lot van die Blitsbokke in ‘n kort tyd omgedraai het, was merkwaardig en spreek boekdele van sy vermoëns as afrigter,” het Oberholzer gesê.

“Hul vertonings in Monaco en Parys het gewys dat hy die Blitsbokke kan terugkry na hul eertydse glorie en ons is bly om hom aan boord te hê.

“As ‘n voormalige kaptein bring Philip diep institusionele kennis van die Springbok-sewes saam met hom, nadat hy in 62 wêreldreeksbyeenkomste, twee Rugbywêreldbeker-sewestoernooie en in ‘n Statebondspele gespeel het waar die span goud verower het.

“Philip is ook die enigste persoon in die spel wat medaljes as speler en afrigter by die Olimpiese Spele gewen het.”

Snyman, wat vorige ondervinding as hoofafrigter in Uganda en Duitsland het voor sy aanstelling as Blitsbok-hulpafrigter in 2023, het SA Rugby vir hul geloof bedank.

“Dit is ‘n groot eer om as voltydse hoofafrigter aangestel te word, ‘n pos wat die beste eis van wat die Blitsbokke kan wees en ‘n pos wat ek ook altyd nagestrewe het toe ek ‘n afrigter geword het,” sê Snyman.

“Daar is baie werk om te doen, ten spyte van ons onlangse resultate. Ons is nog ver weg daarvan om ‘n top drie-span te wees en ons sal hard werk om terug te keer na daardie posisie.

“Ek kan nie wag om aan die gang te kom nie. Ons het ’n stewige kern van spelers, en ek sal na maniere kyk om ons spelersbasis en diepte in so ’n mate te versterk dat ons gereeld sal meeding om titels en medaljes.”

Leave a Reply

error: Content is protected !!