SA RUGBY
SA Rugby het ‘n dringende waarskuwing aan rugbyondersteuners gerig om op te pas vir aanlyn webwerwe wat beweer dat hulle kaartjies te koop het vir die Springbokke se laaste tuiswedstryd van die jaar, teen Argentinië by die Mbombela-stadion aan die einde van die maand.
Kaartjies wat by die amptelike kaartjieagent, Computicket, of die stadionkaartjiekantoor gekoop word, is feitlik heeltemal uitverkoop, en SA Rugby het gewaarsku dat enige ander webwerf wat kaartjies aanbied ‘n kroekspul is.
“Springbok-wedstrydkaartjies het baie gesog geword, en dit het bedrieërs wat probeer om vinnig geld te maak na vore gebring,” sê Rian Oberholzer, uitvoerende hoof van SA Rugby.
“Ons hoor te veel stories van mense wat aanlyn vir kaartjies soek en ver bo die prys betaal op die eerste bladsy waarop hulle beland – net om teleurgesteld te wees wanneer hulle hul geld verloor en nie hul kaartjies ontvang nie.
“Slegs kaartjies wat by Computicket of die stadionkaartjiekantoor verkry word, is die ware artikel vir die laaste Bok-tuiswedstryd van die jaar. Jy sal jou geld verloor as jy by aanlynherverkopers koop wat geen toegang tot kaartjies het nie.”
Aanlyn ‘herverkopers’ soos Viagogo en ander vra hoë pryse. Wanneer die geleentheid egter nader kom, word hulle tipies toenemend ontwykend oor wanneer kaartjie-invordering sal plaasvind. In sommige gevalle verdwyn die ‘maatskappy’ eenvoudig.
“Daar is ‘n lang lys mense wat teleurgesteld, kwaad en uit die sak gelaat is en dit is geweldig frustrerend om te sien dat dit elke seisoen herhaal word,” het Oberholzer gesê.
“Ons boodskap is hard, duidelik en baie eenvoudig – as jy nie [kaartjies] deur die amptelike kanale vir enige Springbok-toets of ander byeenkomste koop nie, gaan jy teleurgesteld wees.”
Die Castle Lager Rugbykampioenskap-trofee sal tydens die wedstryd aan óf die Springbokke óf die Pumas oorhandig word – die enigste spanne wat in die kompetisie oorbly met ‘n kans om dit te wen.