Sonnette Lombaard
Dis ‘n oerouekuns wat ons oumagrootjies ook behending ingespan en deel van ons geskiedenis gemaak het. Onlangse argeologiese fossiel-vondse van swaar handgestikte en versierde klere, stewels en ‘n hoed, bevestig borduurwerk bestaan al vanaf 30 000 vC.
Ver oor die waters van hier, laat ‘n vlytige Yank-tekstielkunstenaar dié besondere kuns die afgelope dekade met woema internasionaal herleef. Want met lap en gare verken Michelle Kingdom geheime gedagtes, veral dié van vroue. Die Los Angeles-boorling met ‘n graad in beeldende kuns het ontpop as voorste multimediakunstenaar, wat in ingewikkelde borduurwerk spesialiseer. Haar beeldskone skilderye met gare vertel unieke stories en word internasionaale opgeraap.
Die 57-jarige Michelle se unieke kunsvlyt word geïnspireer deur mitologieë, simboliek, literêre fragmente en kunsgeskiedenisverwysings en ander allegoriese inhoud (stories, gedigte of prentjies met geheime betekenis, dikwels moreel of polities). Sy deel haar sonderlinge skeppings en ander prosesfoto’s op sosiale media met volgelinge wêreldwyd. Hier is sy in haar eie woorde.
“My werk verken sielkundige landskappe, klein wêreldjies in ragfyne draad wat ontwykende, maar aanhoudende innerlike stemme vasvang. Daarin bots herinneringe, geskiedenis en mitologie te midde van ‘n onderstroom van sosiale en politieke onstuimigheid. Deurmekaar verweef, verken dit mag, verhoudings, huislikheid en selfpersepsie. Met simboliek en allegorie probeer ek die teenstrydige dinamieke van strewe en beperking, verwagting en verlies, behoort en vervreemding, waarheid en illusie bloot te lê.”
Haar kleiner tonele word dig saamgepers in geborduurde komposisies. Terwyl dit die afkoms wat inherent is aan naaldwerk erken, is draad vir Michelle eerder ‘n sketsgereedskap wat beide die verlede eer én ondermyn. “My tradisionele steke gee toe aan die brose en ekspressiewe binne my stories, waar skoonheid parallel loop met weemoed.”
Volgens Michelle het sy haar artistieke stem gevind en haar tegniek ontwikkel as “’n reaksie op heersende kuns wat meestal nie met my gepraat het nie”. Sy het aan TextileArtist.org vertel sy is na tekstiele as ‘n medium aangetrek tydens haar studentjare in die vroeë 1990s. “Destyds het die kunswêreld eksklusief en geslote oorgekom. Ernstige werk was groot, ironies, konseptueel en slim. Ek het nooit gedink daar sou plek vir my wees nie wat in ‘n naaldwerkkultuur grootgeword het. Ek was aangetrokke tot kuns, maar ook tot die wêreld van tekstiele, wat ek op my eie ondersoek het.”
Sy het begin om met draad te teken en haarself borduurwerk geleer as ‘n manier om albei passies na te volg. “Borduurwerk het my eie private toevlug geword en ek het dit lank vir niemand gewys nie. Borduurwerk was byna anderwêrelds – dit het my verbeelding vasgevang as die perfekte manier om geheime gedagtes te verken.”
Sy was gou verlief op figuurlike borduurwerk omdat dit die innerlike dialoog in haar kop perfek weerspieël. Sy stem daar is ‘n inherente glans en erfenis in naaldwerk – dit is vir haar ‘n brose, onbeholpe skoonheid wat eerlik en rou voel. Die tasbaarheid daarvan voed nie net haar naaldwerksy nie, maar verbind haar ook met die herinneringe van en aan baie vroue wie se verhale sy in draad wil vasweef.
Dat soms ook neerhalend na borduurwerk verwys word en dit oorgesien word as bloot dekoratief, ouwêrelds, klein en ‘n skoolmeisiekuns, is juis wat Michelle daartoe aangetrek het. En wanneer ‘n eva ander evas se binnewêrelde weergee, verwag dinamiet beelde, bedrieglik mooi, onverskonend vroulik, tradisioneel en selfs naïef. “Dit fluister saggies, en net dié wat wil luister, kan dit hoor. My werk probeer donker idees vasvang wat in my kop broei, en figuurlike steke dra dit beter oor as ander mediums.”
Volgens Michelle beïnvloed literatuur haar skeppings. Veral Virginia Woolf, maar ook Leo Tolstoy, Emily Dickinson en sprokiemeester Hans Christian Andersen trek haar aan. Kunsgeskiedenis is nog ‘n bron van eindelose inspirasie – kunstenaars soos Van Gogh en Alice Neel, wyl Middeleeuse manuskripte en miniatuurkuns, antieke kuns, simbolisme en buitestanderkuns verder inspireer.
Binne die kontemporêre kunswêreld beskryf sy haar werk as ‘n verkenning van sielkundige landskappe. Dit vang knaende, innerlike stemme vas en verklap oor identiteit en verhoudings, en hoe ons persepsies, veral deur die lens van ons psige, ons werklikheid vorm. Die voortdurende spanninge van geleef kry, boei haar eindeloos.
Michelle werk vanuit haar huis. “Die belangrikste element is goeie lig, en ek maak die meeste van natuurlike daglig. In Los Angeles is dit gelukkig volop, aangesien kunsmatige ligbronne onvoldoende is.”
Sy het oor die jare haar eie styl ontwikkel, wat fokus op die gebruik van draad as ‘n tekenhulpmiddel. “Met die opkoms van sosiale media en aanlyn kunsgemeenskappe, verteenwoordig ek dalk ‘n soort kuns wat nie binne kode-bewegings hoef te pas nie.”
Sy skets vooraf haar prentjies vir ‘n aanvanklike visie en skeletraamwerk wat dan bly aanpas vir onverwagse ontdekkings tydens die proses. Ná die voltooiing van ‘n borduurwerk moet haar titel ook reg wees, aangesien dit integraal is tot die storie se voltooiing. Laastens word die borduurwerk gestrek, afgewerk en in ‘n raam gemonteer.
Michelle erken sy het amper nooit vooraf ‘n volledige beeld in haar kop nie. “Trouens, ek dink nie ek sou enigsins wou borduur as dit so was nie, want dis die proses wat my fassineer.” Mag haar fassinasie nog lank duur want Michelle Kingdom se passie en obsessie skep brawe kuns wat waag en uitdaag, nou meer nodig as ooit.