Sylvia, Sylvia Draghoender – Deur Marinda Swanepoel
Sylvia knyp ‘n bietjie mentol snuif uit die houertjie in haar hand en laat dit bietjie vir bietjie vry in haar neusgate. Sy was gestres oorlat Poplap haar vanoggend plat geslaat het met die vreemde versoek, en nou is sy al halfpad deur die nuwe boksie neus-twak wat haar ‘n hele week moet hou.
Ek wil Fransman lat uitvat, so gou as moontlik!
Verder het Sylvia nie ‘n woord gehoor wat uit haar vriendin se mond gekom het nie. Haar gedagtes het ver terug gekruip, na haar jong dae toe sy in die fifty-eight gang was. Skollies, het die ouer mense hul toegesnou in die verbygang, en dan agter hulle op die grond gespoeg wanneer hulle nie gekyk het nie
Poplap is naderhand daar weg, en Sylvia is nie eers seker of sy haar gegroet het nie. Vir wat sou Fransman nou moet uitgevat word? Hy was dan ‘n goeie pa, en het ‘n vaste werk gehad. Nie soos sy eie broers wat op piece jobs en shoplifting probeer oorleef nie.
En as daar dan geen ander uitweg was nie, hoe sou dit moes plaasvind? Hy sal nie net kan gif inkry nie. Deesdae se dienders volg die spoor van die lyk af na die winkels toe, en aangesien meeste winkels nou kameras het, sal hulle mos kan sien dat sy, Sylvia, die culprit was. Kar-ongeluk waar die briekkabels geknip word is buite die kwessie. Dit sou ideaal gewees het as Fransman ‘n blêddie kar gehad het. Mooi skoon job daai.
Of dalk…
“Nee magtig Sylvia, hier is dan niks kos oppie stoof nie!” skel Sakkie haar toe hy by die deur inloop. “En dis al ses uur!”
Sylvia vat nog ‘n knypie snuif, maar sê niks.
“Hei, is jy siek?” Sakkie trek die velle onder Sylvia se oë af tot langs haar neus om te sien of hy kan uitmaak wat haar makeer, maar hy word niks wys nie. Hy trek sy skouers op, en mompel “dit werk altyd op die skape…” toe Sylvia vies na sy hande klap.
“Kan jy praat? Gros! Stroke! Jy het ‘n stroke gehad!” mompel hy in Sylvia se gesig.
“Jou asem stink, man. Staan agtertoe. Ek makeer bôggerôl. Dis Poplap…”
Sakkie gee ‘n lang fluit. “Poplap het ‘n stroke gehad? Maar sy het pas veertig gewôrre!”
“Jimmel, jy kan partykeer stjoepit wees! Poplap makeer ook niks.” Sy klap die dekseltjie styf toe oor die snuif en druk dit voor in haar bra.
“Ja, maar jy het nou net gesê…”
“Dêmmit Sakkie, Poplap wil vir Fransman laat uitvat!” fluister Sylvia drifting.
Sakkie steier terug en gaan sit op die een bank. Sy mond maak oop en dan weer toe.
“Hoe dink jy weet sy dat ons jare terug gangsters was? Niemand hier rond ken ons verlede nie,” sug Sylvia.
“Ek hoop jy het nee gesê,” sê Sakkie bewerig. “Ons is klaar met daai soort goeters.”
“Sy is my beste vriendin. Sy help ons altyd. Hoe kan ek dit dan nou weier. As ons groceries nodig het, dan bring sy. As Tinkie boyfriend trawwel het, dan sort sy dit uit.” Sylvia pluk weer die snuif uit. “Sakkie, ons is gefok!”
“Tiensie, hy is al een wat ons dalk sal kan help,” sê Sakkie skor. “Maar jy weet hy soek altyd iets terug. Niks vir niks, en ‘n bietjie vir ‘n tiekie, dis wat hy altyd sê. Het jy nog sy nommer?”
“Ja, op die ou foon onder Vader Krismis.”
Sakkie lig sy wenkbroue. “Vader Krismis?”
“Jy wil tog seker nie hê ek moes dit save as Tiensie Laksman nie? Dis mos te obvious!”
“Gmf! En Vader Krismis is alledaags?” Hy steek sy hand uit. “Gee my die ou foon. Ek sal hom es-em-es.”
Nie baie later nie is die boodskap gestuur, en nou is dit die groot wag. Tiensie sal reply wanneer Tiensie wil. Mens nag hom nie vir iets nie… Jy kom dalk net iets ongevraagd oor.
Vir twee baie lang dae sukkel Sylvia met maagwerkings en sy kan nie ‘n druppel kos oor haar lippe kry nie. “Dink jy hy het die es-em-es gekry, Sakkie?” vra sy bewerig uit die badkamer.
Sakkie steek sy kop om die badkamerdeur en trek dit vinnig terug. “Jy vrot van binne! En toela nou oor jy weet wat, ons het mense,” sis hy.
Sylvia wil dood toe sy in die sitkamer kom. Poplap en Fransman sit voor die tiewie, elk met ‘n beker koffie in die hand.
“Jô, vriendin, jy lyk terrible!” roep Poplap en vlieg op uit haar stoel. “Wat makeer?”
“Hierdie nuwe maagvirus wat rondgaan,” lieg Sakkie vinnig.
“Maar neem jy iets vir dit? Fransman, ry gou apteek toe en haal iets,” bevel Poplap.
“N-nee, nee, dis oukei, ek is nou oor die ergste. Regtig,” lieg Sylvia saam en kyk met bejammering in haar oë na Fransman. Sjym…
“Hoor ek ‘n foon iewers lui?” vra Fransman toe Sylvia gaan sit.
“N-nee, dis seker langsaan,” sê Sakkie vinnig.
“Ek dink nie so nie, dit klink of dit uit Lientjie se ou kamer kom,” sê Poplap.
“Dalk een van haar ou tjommies wat op haar ou foon bel, Sakkie,” beduie Sylvia met haar kop en oë vir hom. “Gaan antwoord en gee vir hulle Lien se nuwe nommer,” sê Sylvia in ‘n hoë stemtoon.
Poplap staar na haar vriendin. “Is jy seker jy is oukei? Jy tree baie vreemd op.”
“Dis seker oor my suiker laag is. Ek eet reeds vir twee dae niks,” prewel Sylvia en fladder haar ooglede in die hoop dat sy swak lyk.
Sakkie was skaars terug in die sitkamer, of hy hardloop badkamer toe om op te gooi.
“Nee mense, ek en Fransman loop nou dadelik. Ons willie kry wat julle hettie!”
Baie later kom Sakkie uit die badkamer.
“Hy sê hy sal dit doen. Laat dit lyk soos ‘n sjebien robbery. Vir twee duisend rand, of vier skape.” Sakkie maak sy oë toe. “Hy sê hy het ‘n lekker skerp panga en een kap sal die job doen…”
“Panga is goed, is dit nie? Dis nie soos ‘n gun wat die dienders kan trace nie. En dit behoort vinnig te wees.”
“Hy sê hy wag vir die geld of die skape voor hy sy nuwe kap-byl inwy.”
Sylvia maak ‘n kreungeluid. Dié ding sal veroorsaak dat sy ‘n koronêr kry. Arme Fransman. Sy kinders is nog so jonk!
Sakkie beding ‘n transaksie met die eienaar op die plaas waar hy werk om vier skape te koop en af te betaal. Hy mag ‘n tyd-deel moordenaar wees, maar steel sal hy nooit nie.
Al familie wat ‘n bakkie het, is arme Fransman, en so gebeur dit dat die man sy eie doodsvonnis-betaling help vang én aanry na Tiensie toe.
Tiensie grinnik terwyl Sakkie en Fransman die vier skape aflaai.
Sakkie skud die Laksman se hand haastig en beduie dat hulle moet ry.
“Betaal hy nie vir die skape nie, Sakkie?” vra Fransman verergd.
Maaind jou eie biesnies, wil Sakkie hap, maar hy forseer ‘n laggie. “Nee, ek skuld hom al jare, so nou betaal ek hom met die skape.”
“Vir wat sal jy die skollie skuld?” wil Fransman agterdogtig weet.
“Dis toe ons nog jonk was,” lieg Sakkie. “Dit was daai tyd een skaap, maar met rente is vier nou die prys.”
“O.” Dis al wat Fransman sê, maar jy kan hoor hy glo nie ‘n woord wat Sakkie kwytraak nie.
Poplap daag intussen by Sylvia op. Sy lyk baie vrolik, en het ‘n pragtige rok aan.
“O Sylvia, jy sal nie glo hoe die universe vir my sorg nie!”
“Is jy gesuip, Poplap?” vra Sylvia agterdogtig.
“Nee vriendin! Ek het goeie nuus! Onhou jy ek het jou nou die dag gesê ek wil Fransman laat uitvat?”
Sylvia spoeg haar koffie met so ‘n boog oor haar eie skoot. “Sorrie, ek verstik deesdae so maklik…”
“Wel, die rede daarvoor is dat ek swanger is,” sê Poplap opgewonde. “En dis ‘n meisie! Ons twee seuns is al in die hoërskool, en nou gaan ons ons eie poppie hê. Groot skok, aan die begin, maar nou kan ek nie wag om Fransman te sê nie!”
“Fô-kit, Poplap, hoekom die arme man dan laat uitvat?” gil Sylvia.
“My plan is foolproof, liewe vriendin. Iemand moet Fransman nooi vir ‘n bier of iets, by ‘n fênsie plek, maar ons gaan natuurlik daar wegkruip, ek en die twee seuns, en dan skreeu ons surpraais as hy daar aankom. Dan gaan ek vir hom die scan wys en ‘n stel pienk baba boetees vir hom saam gee. Jy weet…”
Sylvia weet niks. Sy kap net daar om, en toe sy weer bykom is Sakkie en Fransman terug.
“Ek sit die ketel aan,” sê Poplap toe die mans inloop. “Sakkie, jy moet jou vrou by ‘n dokter kry. Sy makeer iets ernstigs…”
“N-nee! Jy kan nie die ketel kook nie. Dit het vanoggend gekalf!” Sy rol haar oë vir Sakkie en probeer iets beduie, maar hy snap niks.
“Sien? Ek sê jou sy is siek. Kyk hoe rol haar oë!” beduie Poplap.
“Sakkie, sy is reg. Jy moet my dadelik hospitaal toe vat… Ma? Is dit mammie?” yl Sylvia kamma. Sy tas in die lug voor haar asof sy muggies probeer vang.
“Ek sal haar kar toe help, Sakkie, bring jy haar trui,” bevel Poplap. “Ons sal gou weer kom kuier, sodra jy beter is hoor,” praat sy met Sylvia asof dié van haar sinne beroof is.
Sakkie trek met ‘n spoed weg toe Sylvia met stywe lippe sis: “Ry, dêmmit! Ry!”
“Wat gaan met jou aan?” bulder hy toe hulle op die hoofpad kom.
Sylvia huil soos ‘n klein baba. Sy vertel tussen neus afvee vir Sakkie van die twak wat hulle op hande het.
“M-maar ek het reeds die skape afgelaai…”
“Juis, en nou gaan Fransman ‘n lyk wees voordat sy dogter arriveer… Ons moet dit keer,” snik sy.
Sakkie trek van die pad af, en bel Tiensie met stywe vingers.
“Yes, Isak Draghoender,” antwoord Tiensie. “Die job sal vanaand gedoen word. My woord is my eer…”
“Dis nou juis die ding,” begin Sakkie. “Ek het gehoor dat Freek Vingers ‘n hit op jou het, so jy sal moet laag lê. En hou maar die vier skape. Fransman het vandag sy skuld by my kom betaal, so ons is nou kiets. Nee, nee, dis vir ons vriendskap al die jare, ek dring daarop aan. So, ek stel voor jy kuier dalk vir ‘n ruk by jou neef in Mosambiek… Ek is bly jy dink dis ‘n goeie plan, Tiensie. Mooi bly.”
Sakkie druk die foon dood.
“Jinne, Sakkie, as Poplap maar net geweet het watse vriende ons twee vir haar is… Ons het pas haar man se lewe gered,” hik Sylvia. “Kom, ons gaan kook daai ketel wat nie werk nie. Ek het ‘n knertsie wat ons by die koffie kan gooi…”