Die Nasionale Kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), generaal Fannie Masemola, het misdadigers gewaarsku dat aanvalle op polisiebeamptes nie geduld sal word nie.
Dít ná ’n aanval op ’n lid van die Nasionale Intervensie-eenheid (NIU) by die basis van die eenheid in Mthatha in die Oos-Kaap wat bewerings van afpersing in die gebied ondersoek.
Masemola het tydens ‘n media-inligtingsessie ná ‘n besoek aan die NIU-basis in Mthatha Sondag gesê die polisie dra die plig om [mense] te beskerm.
“[Ons] gaan nie ons arms vou en ‘n situasie toelaat waar ons toegewyde en hardwerkende polisiebeamptes wat met die ondersoek en opsporing van geharde misdadigers toevertrou is, geteiken word nie.
“Ons sal nie aanvalle op ons mans en vroue in blou, wat alles in hul vermoë doen om voorvalle van afpersing en alle ander misdade stop te sit, duld nie. Ons moedig steeds ons lede aan om beslissend op te tree wanneer hulle voor gevaar te staan kom.
“Ons lede het ‘n plig om hulself te beskerm en ook die gemeenskappe wat hulle dien te beskerm,” het hy gesê.
Die Nasionale Kommissaris het kommer uitgespreek dat afpersingsake in die gebied “onder-gerapporteer” is, maar het bygevoeg dat minstens 38 sake aangemeld is sedert die oprigting van ‘n afpersingsblitslyn sowat twee weke gelede.
“Ons verseker gemeenskappe dat ‘n toegewyde span ondersoekers en lede van gespesialiseerde eenhede wat verbonde is aan die taakspan wat met afpersing werk, aan hierdie inligting werk met die doel om sake op te bou en diegene wat verantwoordelik is aan die pen te laat ry.
“[Vanaf] middel Augustus het ons bykomende lede ontplooi om die beskikbare vermoëns in hierdie provinsie te ondersteun en aan te vul om afpersing beslissend te hanteer. Tot op hede is baie werk ingesit deur intelligensie-insameling oor vermeende sindikate wat verband hou met afpersing en beskermingsfooie. Opsporingsoperasies, padblokkades, voertuigkontrolepunte en deursoeking van persone is uitgevoer.
“[Ons] stuur ‘n sterk boodskap daar buite aan diegene wat betrokke is by alle vorme van misdaad en veral die bendes, misdadigers en sindikate wat by afpersing betrokke is. Ons gaan beslis met jou te werk gaan. Ons sal nie huiwer om die gesag van die staat te laat geld waar nodig nie,” het Masemola beloof.