Skip to main content

Sonnette Lombaard

Ek blaas vir jou ‘n lentewens

Met koning leeu se towertand

Want die wind is wys

En jy is gelys

Die wind fluister

Jy moet luister …

Is die perdeblom ’n onkruid, gewas of blom? Die regte antwoord is al drie, want soos meeste dinge in die lewe, hang dit van jou perspektief af of hoe jy daarna kyk en dit wil gebruik. Maar moenie hierdie nederige veldgewas met die mooi bottergeel blomme en later donsfyn wit saaddrade se groot waarde vir die mens en diere onderskat nie.

In Afrikaans word dandelions perdeblomme genoem hoewel dit in omgangstaal hier ook soms na die Nederlandse paardebloemen geroep word. Die naam dandelion kom van die Franse woord dent de lion, wat leeu se tand beteken, en verwys na die plant se growwe, getande blare.

Die perdeblomme in Suid-Afrika is ‘n verskillende en meer harige weergawe van die Europese spesies. Die plante, vermoedelik inheems aan die Middellandse See, was goed bekend by die antieke Grieke, Romeine en Egiptenare. Elke deel van die perdeblom is nuttig: wortel, blare, blom. Dit kan gebruik word vir kos, medisyne en kleurstof.

Tot in die 1800’s het mense selfs gras uit hulle grasperke getrek om plek te maak vir perdeblomme en ander nuttige “onkruide” soos kamille en klawer. Die maak van kleurstof vind ook baat by perdeblomme – liggeel kom uit die sonnige geel blomme en ’n pers tint uit die blare se binneste are.

In die noordelike halfrond gebruik mense sedert die 10de eeu dandelions vir genesingsoeleindes. Vandag weet ons dis ‘n ryk bron van vitamiene A, B-kompleks en C, minerale soos yster, kalium en sink en dit bevat kragtige antioksidante, wat inflammasie help beveg en dalk vorentoe bloedglukosevlakke kan reguleer. Wetenskaplikes bestudeer geruime tyd perdeblomme se doeltreffendheid vir die behandeling van cholesterol, asook kanker.

Die perdeblom is die enigste blom wat die drie hemelliggame van die son, maan, en sterre verteenwoordig: Die helder geel blom herinner aan die son, die donsige wit saadbal lyk soos die maan, en die verspreidende sade laat jou dink aan ons sterreruim.

Die perdeblom se blom maak in die oggend oop om die dag te groet en maak in die aand weer toe om te slaap. Die blomsade word dikwels deur ‘n windvlaag weggewaai en reis soos klein valskerms. Die sade kan tot 8km ver waai.

Perdeblomme is moontlik die suksesvolste plante wat bestaan. Hulle is meesters van oorlewing regoor die wêreld en pas baie goed by hulle omgewings aan. Hulle is dikwels bestand teen onkruiddoders en groei in verskillende soorte grond. Perdeblomme het een van die langste blomseisoene van enige plant. Hulle blomme hoef nie bestuif te word om sade te vorm nie.

Perdeblomme lok bye en ander insekte – stap jy op ‘n warm somersdag deur ‘n veld vol goudgeel perdeblomme, hoor jy die gezoem van bye wat nektar daarin versamel. Ander insekte, voëls en skoenlappers eet ook die nektar of sade. Heuning van bye wat perdeblomme bestuif, is van die lekkerstes op markte die wêreld oor.

Boonop is perdeblomme gesonde voer vir diere en deel van beesweiding. Ideale weiding vir beeste is ‘n “slaaibak” vol grasse en peulgewasse. Plante wat mense as onkruid op hul grasperke beskou, soos perdeblome of klawer, is baie voedsaam vir diere wat dit verslind.

Die medisinale waarde van perdeblomme is vroeg deur genesers geeïen wat dit al minstens ‘n duisend jaar as ‘n “kosbare onkruid” gebruik. Die Indiese, tradisionele Chinese en Europese kruiedokters het dit vir lewer- en galblaasondersteuning en teen infeksies en maagkwale ingespan. Die wortels en blare moes gifstowwe uit die bloedstroom verwyder, en die funksie van die spysverteringstelsel verbeter.

Het jy geweet dat perdeblomme ewe nuttig vir kos en drankies is? Dit kan as slaaigroen gebruik word in soppe, wyn en tee. Die gedroogde of vars wortels word gebruik vir kruietee met baie gesondheidsvoordele, ook as ‘n waterpil om ekstra vloeistof en sout uit jou liggaam te kry.

Die perdeblomplant is verwant aan sigorei, en die wortels word gemaal tot ‘n kafeïenvrye plaasvervanger vir koffie. In die VSA word dandelions gebruik om wyn te maak, wyl die Britte dit ook vir bier inspan.

As ‘n oerouplant dra die perdeblom ryk simboliek in verskillende kulture. Een gewilde legende het dit dat daai ragfyn saaddrade selfs liefdeskrag dra! Kan jy met ‘n enkele asem al die sade van ‘n knop afblaas, sal die mens vir wie jy lief is, jou ook liefhê. Is daar nog saadjies oor, kan jou geliefde twyfel oor gevoelens vir jou.

In perdeblomme skuil positiewe simboliese betekenisse. Hulle verteenwoordig deursettingsvermoë en uithouvermoë vir die uitdagings wat ons in die lewe moet oorwin. Hierdie goudgeel blomme is dus meer as sg. “lastige onkruide” op goedversorgde grasperke of in blomtuine – eerder skone, kannidoders met waardevolle gebruike en betekenisse vir mens, dier en natuur!

Leave a Reply

error: Content is protected !!