Ridder Donki-got, die man van Calitzdorp – Deur Koos Roets
‘n Verhaal geïnspireer deur een van die grootste helde in wêreldliteratuur.
Sonder om te klop, gooi Vinni sersant Jantjies se kantoordeur oop en storm vervaart binne.
Sersant kyk gestoord op. “Wat’s dit met julle mense? Het julle nooit geleer om te klop nie. Bars net eenvoudig soos barbare in! Almal is altyd te kwaad, te ontsteld, te haastig of te dit of te dat vir maniere!” Hy skud sy kop. “Middag, sou ek sê. Wat’s jou probleem, Vinni?
“Ek wil ‘n klag lê! Bedrog.”
“Teen wie nogal?” wil hy weet. “Dié tipe klagte is mos gewoonlik teen jóú.”
“Teen daai verdomde spul Jode. Goldberg, Ledwaba en Levin!”
”Hulle is mos op Oudtshoorn. Hoekom lê jy nie jou klag by die Oudtshoorn Polisie nie? Of het jy met daai manne ook moeilikheid opgetel?”
Vinni is duidelik ongemaklik oor Sersant se opmerking. “Daar’s te veel red tape en jy ken my mos van kleins af, Sersant.”
Sersant sug; natuurlik ken hy vir Vinni. “Juis, ja …”
Die klagteboek word nadergetrek. “Wat is jou klagte?”
“Ek was nou net by die lees van Mamma se testament en daai blêddie spul skelm Jode het voor haar dood met haar kop gesmokkel … ek dink daai verdomde Franki is ook in op dié ding.”
Die klagteboek word oopgeblaai. “Stadig nou, Vinni. Hoe dan so?”
Vinni beduie dramaties. “Ek kry zilch uit die verdomde trust voor ek nie eers vyf-en-blêrrie-sewentig jaar oud is nie en daai verdomde Harry kry alles! Net so!” Hy klap sy vingers. Sersant luister geamuseerd. “Seker maar ‘n rede daarvoor! En hoe dink jy pas Franki in die ding in?”
Vinni bly vir ‘n oomblik stil en kyk stip na sersant Jantjies. “Draai jy nou ook teen my, Sersant?”
Sersant klap die klagteboek toe. “Ek stel voor jy gaan sien ‘n goeie prokureur.”
“So, jy wil my nie help nie?”
“Vinni … Vinni kalmeer, dis nie wat ek gesê het nie.”
“Nou wat dan?”
“Jy gaan net gouer ‘n hengse ent verder kom as jy by die regte mens uitkom!”
Manie stoot ‘n dokument vir Boetie oor sy lessenaar. Piston het soos gewoonlik ‘n verwarde uitdrukking op sy gesig.
Boetie haal diep asem. “Presies hoeveel wil Snakes en sy spul cronies hê?”
Manie draai twee van sy vier waaiers eers ‘n kliek hoër voor hy antwoord. ”’n Raps oor die tweehonderd-en-twintig duisend rand … Klousule 5A.”
Piston lyk asof die aarde besig is om op hom in te tuimel.
“Hoe de hel het hulle by daai bedrag uitgekom?”
“Vyf-en-twintig skoliere teen tienduisend rand elk maak … ?” vra Manie op tipiese onderwysstyl.
“Ek kán optel en aftrek, dankie!”
“Ek sê maar net.”
“Ons het, dank die Vader, daai verdomde Ferguson terug,” gryp Boetie na die laaste grashalm.
Manie tik ritmies met sy pen op die lessenaar.
“Die probleem is uh … dat hulle nie meer in jou skool of jou onderwyser belangstel nie. Met die geld wat hulle van jou gaan eis, kan hulle mos aanstel wie hulle wil!”
**********************************************************************************************
Donki-got het Sancho die son, maan en sommer nog ‘n paar ekstra sterre ook belowe. Met sy splinternuwe naam en al het Sancho Punchie plegtig belowe om as getroue agterryer onse riddder tot die uiteindes van die aarde te volg, hom van morele en fisiese ondersteuning te wees en hom onder alle omstandighede in sy avonture by te staan. En so is die twee toe die wye wêreld in.
Donki-got kyk oor die pragtige vallei voor hom. “Darem maar ‘n mooi wêreld die Karoo, nê Sancho?”
”Ons is nou al ‘n hele blêddie week op pad,” kom dit van die suur agterryer.
“So?”
“Meneer skuld my nou al ‘n week se pay.”
”Moenie oorhaastig wees nie, Sancho. Lankmoedigheid is deel van ons mondering. Dit kan weldra gebeur dat ons in ‘n avontuur betrokke raak waardeur ons ‘n eiland verower en dan maak ek jou die goewerneur.”
”Is ‘n goewerneur se pay darem goed?”
”Baie goed my vriend, baie goed.”
Hiermee was Sancho voorlopig tevrede. Waar ‘n mens ‘n eiland in die dorre droë Karoo sou kry, het
Donki-got nie gesê nie.
“Tyd staan nie stil nie en avonture wag net om die draai. Laat ons vertrek.”
Donki-got klap sy gesigskerm toe, klim op die stowwerige Rocinante, skop dit aan die brand en trek haastig weg. Sancho volg.
Dit sou nie lank neem voor die eerste groot avontuur hom onverwags in die uitgestrekte landskap aanmeld nie. Terwyl hulle oor die hoeveelste Karoo-heuweltjie gery kom, verskyn ‘n groepie windpompe op die heuweltjie voor hulle. En soos die leser hom of haarself kan herinner, is dit juis dié gegewe waarmee die verhaal van Donki-got vroeër in ons storiereeks afgeskop het. Donki-got het met matelose entoesiasme daarna uitgesien om die vier reuse op die heuwel te verslaan; om die avontuur daadwerklik by die horings te pak. Hy sou hom geensins deur die skeptiese vreesagtige Sancho van stryk laat bring nie.
En so ontvou die verhaal nou verder…
(Word vervolg)