Nomcebo Zuma, dogter van voormalige Suid-Afrikaanse president Jacob Zuma, het Maandag tydens ‘n jaarlikse Rietdans-seremonie haar verlowing aan koning Mswati III van Eswatini bevestig.
Die geleentheid by Ludzidzini Royal Village in Lobamba, suidoos van die hoofstad Mbabane, dien as ‘n tradisionele ritueel van vroulikheid. Die 56-jarige monarg, wat Eswatini sedert 1986 regeer, gebruik dikwels die Rietdans om ‘n nuwe vrou te kies, terwyl hy reeds met 15 vroue getroud is.
Nomceba Zuma (21) is formeel bekendgestel as die ‘liphovela’, wat koninklike verloofde of byvrou beteken, tydens die feesvieringe. Sy het aangesluit by ander vroue in kleurvolle tradisionele drag, sommige met nagemaakte swaarde en skilde, en gedans voor die koning en sy gevolg.
Mswati het kritiek gekry vir sy buitensporige leefstyl, terwyl byna 60% van Eswatini se bevolking van minder as R 35.00 ($1,90) per dag leef.
Poligamie in Eswatini is wettig, maar ongewoon weens die hoë koste verbonde aan bruidspryse. Die land bedryf ‘n dubbele regstelsel, wat bestaan uit die gemenereg, wat op Romeins-Hollandse beginsels gebaseer is, en tradisionele Swazi-reg, wat ongeskrewe is. Terwyl poligame huwelike oorwegend onder tradisionele wetgewing gevoer word, kan dit in sommige gevalle ook onder siviele reg plaasvind.