Skip to main content

Sonnette Lombaard

Ek hou daarvan om mense goed te laat voel wanneer hulle na my skilderye kyk. Vir my is dit telkens kleur wat dit regkry. Om ‘n skildery te laat resoneer, moet jy kleur verstaan. Ek is geleer dat kleur ‘n taal met sy eie sielkunde en vibrasies is, dis genesende energie.” – Vanessa Cooper

Woorde so uit die hart van ‘n vrou wat waarlik weet hoe om haar verfkwas in te span. En hoewel sy haar kleurryke kuns ver van ons oor die water pleeg, kan ons gelukkig as millenniumburgers in ‘n grenslose bestaan dit enige plek en tyd saam waardeer.

Haar naam is Vanessa Cooper en indien jy nog nie dié Engelse roos se bekoorkuns onder oë gehad het nie, is hierdie jou kans. Dit waarborg ‘n glimlag op die gesig en huppel in jou lente-tred. Haar kleurvolle en dikwels kostelike huiskuns van mens, dier en natuur helder enige dag moeiteloos op en laat jou voos millennniumsiel behaaglik sug oor Moeder Aarde wie se hart wel nog reg klop.

Vanessa het die lewenslig in die hawestad Portsmouth in Engeland se suide aanskou. Gebore as een van sewe kinders in die middel 1960s, is sy deel van generasie X wat die Baby Boomers opgevolg het. As tiener, ontdek sy kuns en studeer dit aan die Universiteit van Portsmouth waar haar buitengewone talent gou oog vang. As student waag sy met haar eerste uitstalling in 1987 en begin daarna bou aan haar reputasie as ‘n dapper, verbeeldingryke kunstenaar met veral ‘n diep liefde vir kleur.

Sy werk hoofsaaklik in olieverf en haar inspirasie vloei uit haar persoonlike ervarings van die dinge wat haar inspireer en/of amuseer. Soos die wonders van die natuur en gebeure en dinge uit die alledaagse gesinslewe. Dit sluit in betowerende woude, tuine wat blomryk en welig lewe, geliefde troeteldiere en die onskuld van kinders.

Haar onwrikbare passie vir kleur is in elkeen van Vanessa se werke te sien. “Dit is die bekoring van kleur wat my nooit teleurstel nie,” verklaar sy self. Sy meen ook haar inspan van kleur is dekades later steeds basies. “Ek leer steeds … om bv. die skakerings wat die natuur self saamstel, reg waar te neem wanneer jy daar inspirasie soek. Die natuur is kragtig; dit kalmeer jou binneste en stel nooit teleur as  inspirasie nie,” voeg sy dankbaar by.

Kunskenners wys op haar vindingryke kleurkeuses wat bydra tot die hartverwarmende en weelderige kwaliteite wat uit al haar gesellige kunswerke vloei. “Dit laat kykers met ‘n oorweldigende gevoel van geluk en tevredenheid.” Die diep elemente van beide sensualiteit en humor daarin, gee dit die onmiskenbare lewenskragtigheid en versterk die aanklank daarvan by mense van alle ouderdomme.

Dikwels beskou as ‘n ware inheemse kunstenaar, gebruik Vanessa hoofsaaklik olieverf, tesame met ander mediums, en verfyn haar komposisies herhaaldelik totdat dit die ware essensie ontbloot. Volgens Vanessa is die weglaat van elemente in haar werke ‘n veel moeiliker taak as om ‘n menigte onderwerpe in te sluit. Haar neiging tot minimalisme dra ooglopend by tot die intrige en soort elegansie in haar speelse skeppings.

Haar nuwe tuisateljee in Bridport, Dorset, is ‘n bedrywige sentrum van kunsaktiwiteite. Vol van die tekstiele wat sy ontwerp, asook ‘n verskeidenheid kosbare voorwerpe wat oor die jare versamel is en dikwels in haar skilderye verskyn, gee dit ‘n gevoel van ‘n oorvloed van kreatiewe idees wat hier aaneen op mekaar inspeel en wedersyds voed.

As ‘n kunstenaar wie bly groei, ook as mens, ploeg Vanessa graag terug. Sy bied kunsklasse aan en deel vrygewig haar wysheid as ‘n onderwyser by ‘n nie-winsgewende instelling in Bridport wat artistieke uitnemendheid onder volwassenes met leerprobleme bevorder. “Dis ‘n omgewing wat ek erg waardeer, aangesien dit my die kans bied om my liefde vir en vreugdes van skilderkuns met ander te deel.”

Van Vanessa Cooper gaan ons bly hoor. Haar inheemse kuns, asook sosiale kommentaar, verras deurlopend en bly toeganklik. Sy waag graag, om ons verbeeldingryk te bly verras en uit te daag met haar kleurryke vasverf van die alledaagse sleur en beur. Haar prettige prentjies praat paraat!

Leave a Reply

error: Content is protected !!