Sonnette Lombaard
“Al die mistieke werke stem dat die mens deur die donker nag van die siel moet gaan en sy self moet aflê om geestelik êrens te kom. Deur eeue het die mens se verhouding tot ’n goddelike orde nie verander nie – dit loop soos ’n draad deur al die wêreldgodsdienste. Jy kan nooit in die hoogste sin van die woord mens wees as jy nie die goddelike imperatief van selfloos word, nakom nie.” en “Geloof is irrasioneel. Dis ’n sprong in die duister, maar as jy God se hand voel, dan weet jy: Geloof begin met ’n eksperiment en eindig in ’n ervaring. Ja, ek glo soos ’n kind. Bekering is ’n langsame proses, ’n voortgesette stryd met die lewe en dié dinge wat vir elkeen persoonlik opduik. Eintlik is die lewe ’n spiraal wat ’n mens keer op keer klim. Soos jy klim, sien jy hoe die landskappe verskillende seisoene ondergaan.”
Só oortuigend mooi het die gevierde Afrikaanse skrywer, wyle Anna M Louw haar oor die lewe en haar interessante geloofspad uitgelaat. Nie dat haar Christenskap ooit ‘n maklike anker vir dié vrydenkende Afrikaanse gees en Karookind was nie. Soekend van aard, was sy vrou-en-al ‘n ware Boere-filosoof met ‘n rebelse streep, haar tyd ver vooruit. Het dit enduit gebly toe sy op 77 nog kans gesien het om saam met ‘n lugakrobaat deur die lug te klief.
Die lug het haar al kleintyd gefassineer, ook gedefinieer. Haar slyp Karookontrei beskryf sy só: “Die mens van Calvinia waar my eie wortels baie geslagte diep sit, is ’n lug-mens, ’n ver-kyk-mens, ’n mens met ’n liefde vir wonder, helde en legendes. Want waarna kyk jy as die aarde onder jou voete in ’n skyndood is, wanneer diere van hongerte bly lê en dit lyk of die tyd self gaan staan het? Jy kyk in die verte, jy kyk na die lug. Jou hoop is op die lug, jy leer die lug ken.”
Haar geliefdes onthou juis daardie einste “oop blou lug wat ook in haar oë bly lê het, jou vas kon aankyk en peil”.
Maar waar kom my fassinasie met Anna M Louw vandaan? Dié skrander Karoo-vrou wie in aanloop tot haar 90ste verjaarsdag sou groet. Haar Kroniek van Perdepoort (1975) is deur letterkundiges geprys as een van die grootste Afrikaanse romans nog en onder die beste moderne romans in wêreldliteratuur. Sy is wyd vereer vir haar bydrae tot die bevordering van die Afrikaanse letterkunde en geskiedenis, en het ’n eredoktorsgraad van die Potchefstroomse Universiteit ontvang en die Victoria-medalje – ’n Italiaanse toekenning aan vroue wat hulle gemeenskap uitstekend dien.
Ek het haar eers in my laat 20s in die biblioteek ontdek. Een van Anna se raakuitlatings oor die stand van die mens het my gemoed gepluk. Dit het kom daarop neer hoe treurig ons armsalige siele is, almal eensame drommels aan’t ronddwaal, wyl ons dors na mekaar. Haar skrywes en menswees het my pad, ook as vrou verlig. As ‘n vrydenkende volkheldin, was sy ‘n eiesoort-inspirasie in Moedertaal, ‘n trotse eva wie haar verstand ruim ingespan het, en enduit nuuskierig ondersoek en nuut bly dink het.
“Ek stel belang in die mens, biologies, en méér: daar skuil kragte binne ons waarvan ons skaars bewus is, ongetapte donker dele van die brein,” het sy vroeg verklaar. Met haar ontsluiting hiervan het sy deurgaans ‘n spieël vir haar volk opgehou, een wat steeds vandag, eintlik nou meer as ooit, van waarde vir die Afrikaner is.
Hoeveel ander Afrikaanse (en plattelandse) vroue ken jy wat in die 21ste eeu ons landskap só gemerk het? Wat voor 16 gematrikuleer het, wyd in die wêreld haar rustelose siel en Boere-filosofie gaan toets het, en wat met haar aweregse streep kerndinge ondersoek en gegewes uitgedaag het? Wie met pragprosa haar volk en land en ál sy mense soos min kon verwoord! Wat as Kaapse Kolonialer self op Paul Kruger se spore hier en oorsee gaan stap het vir haar twee lywige werke oor dié legendariese oudpresident van die Boererepublieke.
Met skrywersink dik in haar gene, is Anna Margaretha Louw op 31 Desember 1912 op Calvinia gebore. Haar pa was ’n skaapboer op die veeplaas Soetwater. Sy is ’n kleinniggie van WEG en NP Van Wyk Louw en in haar bloedlyn is ook skrywers soos George Louw, Peter Louw, Rona Rupert, Charles Fryer, Willem Steenkamp, Johnita le Roux en Nico Louw.
As Karookind het Anna graag alleen in die veld verdwaal. Haar Boerefilosofie oor die lewe en natuur is geslyp wanneer sy agter haar pa-hulle aangeloop het. Haar buitengewone skeppingsdrang, om te wil uiting gee aan alles, is in die Karoobossies losgewaai – dít was enduit die dryfkrag agter haar skryfwerk.
Op vyf begin sy skool, waar haar kennis vinnig uitbrei siende al die standerds een kamer moes deel. Teen twaalf is sy vir standard sewe na Calvinia se dorpskool. In ‘n onderhoud in Rooi Rose in 1991, onthou Anna haar ouers só: “Ek het die manier bewonder waarop my ma as plaasskoolonderwyseres jaar ná jaar in primitiewe omstandighede soggens die skoolklok gelui het. My pa het geboer, en in die droogtejare was my ma se salaris soms ons enigste inkomste. Sy was ’n godvresende vrou wat graag gedigte geskryf het, nogal in Engels.”
Haar ma was ook mentor oor vrouwees. “Sy het my Victoriaanse maniertjies geleer. Ek moes ’n kappie dra en het dit afgehaal sodra sy buite sig is. Nou is ek spyt – ek kon vandag ’n beter vel gehad het,” het sy later gebieg.
In 1932 vang sy haar BA graad in Stellenbosch. Sy begin werk by Sanlam en trou op 20-jarige ouderdom met dr. Lewis Hurst, later psigiatrie-professor. Op 25 is hulle na New York vir sy nagraadse studies. Die twee jaar daar was verrykend, sy woon klasse in joernalistiek en tekenkuns by en reis deur Amerika, Kanada en Mexiko.
Sy begin ook dagboek hou en dink aan ernstig skryf. Kinders grootmaak sou egter eers haar tyd opeis. Toe haar huwelik vou, kry haar verwaarloosde intellektuele gees weer koers. Aan Ikeys behaal sy die graad BSocSc in 1944. Sy vind hernieude hartsgeluk en trou met die ekonoom, dr. Gerhard Bassel. Uit haar huwelike is vyf kinders gebore: Wendy, Nicholas en Elizabeth en die tweeling Christina en Editha.
Anna se skrywersloopbaan skop met haar tweede huwelik af. Eers “ligte stof om den brode” wat pryse in kleiner letterkundige wedstryde wen. Haar eerste kortverhaal in die vroeë 1950s verskyn in Die Huisvrou. Oor ’n wit seun wat in ’n Kleurling-weeshuis grootword en in die witmans-wêreld sy plek soek. Audrey Blignaut, destyds redaktrise van Die Huisvrou, prys Anna en moedig haar aan. Hulle sou hegte vriendinne word.
In 1956 verskyn Anna se eerste roman Die onverdeelde uur. Tydens die skryf van Die koms van die komeet (1957) ondergaan sy ’n persoonlike religieuse bekering. Anna het al as kind mistieke ervaringe gehad. “Ek sou deur die veld loop en dit sou wees asof ’n gordyn skielik voor die alledaagse lewe weg trek. Daarna sou ek ’n gevoel van geweldige liefde ervaar.”
Haar Calvinistiese wortels het sy gereeld ondersoek. Sy was selfs later diaken in die Rondebosch NG-gemeente, gevolg deur ontnugtering. “As jy ouer word, besef jy die kleinheid van ons gelowe in die yslike kosmos rondom ons. Ek is nie ongelowig nie, maar kan die kerk se dogma nie meer sluk nie … miskien keer ek weer terug na die kraal.”
In ‘n onderhoud met LitNet, vertel Anna hoe sy haar skryfkuns met haar Christenskap versoen. “Dis nie maklik nie. En ek ís gelowig. Dis die X-faktor, daardie onbekende, onbestemde onderdeel van die skeppende gees wat die skrywer beetkry (noem dit inspirasie of verbeelding of ’n demoon) en wat die laaste woord wil spreek. As ek tussen my Christenskap en my skryfwerk moet kies, kies ek eersgenoemde. My lewe daarsonder sal sinloos wees, dis my stu-krag.”
In 1963 verskyn haar 20 days that autumn, 21st March – 9th April 1960, wat met die Olive Schreiner-prys bekroon is. Daarin neem sy die lewe van ’n blanke Afrikaner, ’n Engelssprekende, ’n Kleurling, en ’n swart man in oënskou in 1961 ná Sharpeville tydens die onluste in Nyanga en Langa by Kaapstad. Hoe hulle reageer op ’n krisis wat van hulle rekenskap vereis. Terselfdertyd konfronteer sy die leser oor die verbondenheid aan ras en ’n volk, merk resensente op.
Haar drie reisverhale, Agter my ’n albatros, Dié wat met die fluite loop en Die derde tempel gaan oor haar vele reise deur o.a. Europa Skandinawië en Rusland, asook na die plekke in die Bybel in Israel. Die voortreflike familie Smit word in 1968 met die Scheepersprys vir Jeuglektuur bekroon. Later verfilm, is dit ook in ’n televisiereeks omskep. Deur die oë van ‘n tiener, verwoord dit ‘n opkomende Afrikaner-gesin van die platteland wat in die stad moet oorleef.
Die eerste deel van Anna se tweedelige werk oor Paul Kruger, Die banneling: die lyfwag, verskyn in 1964. Dis gegrond op die dagboeke van sy eers lyfwag en later privaatsekretaris Manie Bredell. Volgens Anna was sy as Kolonialer nie bewus van Kruger as volksheld nie. “Ek was op skool verveeld met ons ’n geskiedenisonderwyser se siening van die Afrikanersaak. Ook op Stellenbosch was ek nie politiesgesind nie. Dit was bloot ’n emosionele ding toe ons Clarens besoek het …”
“Dit was ’n reënerige somerdag en ek het op die groot stoep uitgekyk oor die meer. Skielik het die oorweldigende beeld van die eensame ou man by my opgekom. Hy, die seun van die Transvaalse veld, wat in die vreemde so oor die reën en mis op die meer sit en peins het. Ek het toe geweet waaroor ek wil skryf.”
“Ek het in Den Haag gaan kyk na die hotel waar hy oorgebly het. Ek het die Koninklike Argief gaan lees oor sy verblyf en die ontvangs deur die koningin van Holland. Terug in Suid-Afrika, het ek by die argiewe begin; ek wou alles weet van die Krugerfiguur. Ek het twee keer in Pretoria gaan bly. Was baie by Boekenhoutfontein. Ek het sy hele geskiedenis langs Afrika se ooskus gedoen, deur na die Suez-kanaal, Middellandse See, die pelgrimstog deur Europa tot in Duitsland, en die droewige terugkeer Holland toe met die ballingskap en vredesluiting.”
“Tóé eers het die hele storie vir my reg uitgelê. Ek het vir my ’n kantoortjie in die stad gehuur en daar geskryf. Nege maande lank en die skryf van die opvolgboek Die groot gryse (1968) het my ’n jaar geneem.” Dis in 1971 met die WA Hofmeyr-prys bekroon.
In 1975 wen Kroniek van Perdepoort al die belangrike Afrikaanse pryse: die Hertzogprys, CNA-prys en die WA Hofmeyr-prys. Anna was die vierde vrou ná Elisabeth Eybers, MER en Elise Muller wat die Hertzogprys gekry het. Dit was ook die eerste keer dat een boek al drie hierdie pryse ontvang het.
Aan Audrey vertel sy die storie oor die sewe doodsondes – ’n kruising tussen ’n allegorie en ’n realistiese roman – het begin met ‘n idee wat haar “in die ribbes kom druk het “en drie jaar sou neem om te voltooi. “Jy skenk jou lewensbloed. Daar was tye dat ek wou handdoek ingooi, maar ná ’n slapelose nag, het ek hervat.”
Dapper skryfeva wat sy was, het sy ook al meer taboes by die naam begin noem. Die “lelike woorde” in Kroniek het baie Afrikaanse lesers geskok. Sy begin ook waag met die erotiese liefde in woorde. “Seks is dinamiet. ’n Mens moet van jongs af leer om dit beheer. Maar dis ’n integrale deel van die lewe. Ek wil nie skok nie, net meer oortuigend teken – ek kán nie anders nie,” het sy met Audrey gedeel.
Wanopvattings oor bejaardes toe sy self ’n weduwee geword het, was ‘n verdere motivering. “Die geringskatting van die bejaarde se gevoelslewe. Die begeerte na liefde is tog by alle mense, is hulle nou bejaard, of nie. Dis die groot ding wat darem nog die lewe draaglik maak. Waarom is dit half skandelik en snaaks as ou mense, veral ’n bejaarde vrou, verlief raak?”
Tydens die oorhandiging van die CNA-prys in 1976, het Anna verwys na haar volk se stryd. “Ek wil reageer op skrywers wat kla dat min oorbly waaroor die Afrikaanse skrywers kan of mag skryf. Ek vestig julle aandag op die lotgevalle van ’n wit subspesie van homo sapiens in Suider-Afrika – ’n groep wat ’n bestaanskrisis deurmaak, ’n oorlewingskrisis. Hulle eeue-oue habitat word bedreig: is dit geen tema vir ’n skrywer wat betrokke wil skryf nie?”
Anna het as lid van die nuwe Publikasieraad bedank ná die verbanning van Magersfontein, o Magersfontein! van Etienne Leroux in 1977. Sy het haar uitgespreek oor die “te veel mag mag in sekere mense se hande”. Alleenloper van nature, was sy geen meeloper nie. “Dis my temperament. Ek is agterdogtig teen in die bondel doen.”
In 1981 verskyn Op die rug van die tier. “Die tier is ’n imponerende dier, met ’n metafisiese betekenis in wêreldkulture. Dis ‘n simbool van die lewe in al sy skoonheid en verskrikking. Ons is ruiters op die tier se rug. Om af te klim, is om tou op te gooi, ’n lafaard te wees. ’n Mens moet ry tot aan die einde, totdat jy leer om die dier te tem.”
In 1991 volg haar roman, Wolftyd ná haar tweede man se afsterwe. “Ek het baie skielik te staan gekom voor dinge wat ek moes verwerk en vir die eerste keer self doen. Die skielike eensaamheid, mense behandel jou anders …”
Sy het ‘n jaar lank navorsing gedoen, veral oor die Nazi-tydperk. “Ek het Berlyn besoek, Innsbruck en Tirool en nog twee jaar geskryf daaraan.” Die wolf in die titel word ’n simbool in haar storie. “Dit het ’n groot rol gespeel in die Nazi’s se rasse-mistiek. Die hoofkarakter, Luk Obach, is sielkundig deur Nazisme in homself verdeel en beskadig omdat hy van gemengde bloed was. Hy word die simbool van ’n alleenloperwolf. Dit geld ook die tyd waarin ons vandag leef – weet nie of ek onnodig pessimisties is nie,” het sy immer skerp gemymer.
In 1996 verskyn Die donker kind. Anna het gemeen hierdie roman is baie toeganklik, ‘n soort melodrama, soos Jane Eyre, al verbeeld dit die pynlike gevolge van apartheid op mense. Haar laaste boek Vos verskyn in 1999. Sy vertel in Beeld dat sy haar moes afsonder om dit klaar te kry. “Dis die Evaskruis om oud te word. Oral is ’n oortollige mengelmoes vroue. Dit maak my moeg. Ek is lief vir my eie geslag, maar is bly as ’n klomp mans bykom,” het sy gevat laat hoor.
Oor resensente en kritici was sy ewe pikant: “Kritiek moet jy nederig ter harte kan neem. Maar ek verstaan nie aftakelende kritiek nie. Daar word letterlik op ander mense se drome geloop.”
In 1990 op 77 was sy ’n passasier in ’n Harvard SNJ5 terwyl die vlieënier aërobatiese toertjies gedoen het. “In my jonger jare moes ek ’n kalmeerpil sluk voor ‘n vliegreis. Met ouerword, verloor jy jou vrese vir alles. Dit was wonderlik, ek het daarna 20 jaar jonger gevoel.”
Sy was nooit gesteld op verjaardae nie. “Ouderdom word as ‘n etiket aan jou gehang … binne-in voel ek nog altyd dieselfde,” benadruk sy in 1994. Die voorreg om haar talent te gebruik was wel ’n bittersoet geluk en suiwer dankbaarheid “as ek dink aan die baie mense vir wie hul dagtaak dooie sleur is”.
Op 12 Junie 2003 sterf Anna M Louw op 89 in haar woonstel in Rondebosch. Sy het met hart- en longprobleme gesukkel. Sy is geloof as “een van die oergrootmoeders van die Afrikaanse letterkunde” (LitNet) en “vir haar verruiming van die Afrikaanse taal- en denkwêreld” (Beeld).
Anna het haarself nie as ’n woordkunstenaar beskou nie, eerder as ’n filosoof. Wat sy was. “Ek wil wel hê dat my woorde iets moet sê, maar ek let nie noulettend op elke woordjie nie. Ek skryf net.” En dit het sy gedoen. Dankie, Anna, jy was ‘n voorslag Afrikaner en vrou, waarlik ‘n Karoo-bries wie se pionier-inspirasie ver bestuif en tydloos kragtig waai.