NELSPRUIT – Die SAPD in Mpumalanga het ‘n deurslaggewende operasie uitgevoer in reaksie op berigte van ernstige kriminele aktiwiteite, insluitend afpersing, poging tot moord, en verwante misdrywe.
Beamptes het leidrade opgevolg wat verskaf is deur die Intelligensie van die SAPD wat hulle na Kwagga A in Kwaggafontein gelei het – ‘n plek waar ‘n groep verdagtes gister omstreeks 04:00 vergader het.
Toe hulle die polisie gewaar het, het die verdagtes op die beamptes losgebrand. Die polisiebeamptes het teruggeskiet. In die daaropvolgende skietgeveg is een verdagte noodlottig gewond, terwyl twee ander beserings opgedoen en in hegtenis geneem is. Die twee is tans onder polisiebewaking in die hospitaal en ontvang mediese aandag. Nie een van die SAPD-lede het enige beserings tydens die voorval opgedoen nie.
Alhoewel die vierde verdagte daarin geslaag het om van die toneel te vlug om die arrestasie te ontduik, het hy moontlik beserings tydens die konfrontasie opgedoen.
Die SAPD doen dus ‘n beroep op lede van die publiek, veral personeel by hospitale en ander mediese fasiliteite, om waaksaam te bly en enige individue aan te meld wat met skietwonde of erge beserings daar aanklop.