WES-KAAP – Die provinsiale kommissaris van die Wes-Kaap, luitenant-generaal (adv.) Thembisile Patekile, het die pogings van die polisie om die instroming van onwettige dwelms na die provinsie hok te slaan, geloof nadat dwelms met ‘n geraamde straatwaarde van R2 miljoen op die N12 by De Rust in die Tuinroete-distrik gekonfiskeer is.
Lede van die Attaqua K9-afdeling het patrollies gedoen toe hulle ‘n verdagte voertuig op die N12 opgemerk het. Hulle het die voertuig by die voertuigkontrolepunt (VCP) afgetrek waar hulle voortgegaan het met ‘n soektog wat gelei het tot die ontdekking van 40 mandrax-pakkies aan boord, versteek in ‘n kompartement aan die agterkant van die voertuig. Verdere inspeksie van die pakkies het aan die lig gebring dat dit 40 000 mandrax-tablette bevat. Die polisie het op die vonds beslag gelê en die bestuurder in hegtenis geneem op aanklag van handel in dwelms.
Wes-Kaapse provinsiale speurders (narkotika-afdeling) ondersoek hierdie saak.
Die 36-jarige man wat in polisie-aanhouding is, sal na verwagting op Vrydag, 30 Augustus 2024 in die hof verskyn op genoemde aanklag.
Hierdie arrestasie en konfiskering is in ooreenstemming met die polisiëringsprioriteite van die provinsie wat toegewyd bly om dwelmhandel langs toegangs- en uitgangroetes na die provinsie uit te roei.