Skip to main content

Ridder Donki-got, die man van Calitzdorp – Deur Koos Roets

‘n Verhaal geïnspireer deur een van die grootste helde in wêreldliteratuur.

Vinni en die Rot sit in een van die groot gemakstoele in Hyme Goldberg se kantoor toe die gebotokste sekretaresse die vertrek binne getrippel kom. “Meneer Hyme vra om verskoning dat hy nie die lees van die testament kan waarneem nie. Meneer Levine sal dit namens hom doen.”

Vinni ruk hom op. “Is ek nou skielik nie meer belangrik genoeg vir hom nie?”

“Nee, dis glad nie die geval nie; meneer Hyme is in die hospitaal.”

“En wat makeer hom nogal?”

“Ek het ongelukkig geen verdere inligting oor sy welstand nie, meneer.”

Levine, met die testament in sy hand, kom die vertrek binne.

“Meneer Bertelli, ek verneem dat u broer Harold Jones nie hierdie vergadering sal kan bywoon nie. Is dit korrek?”

“Ja.”

“Goed. Dan kan ons seker maar begin?”

Levine gaan sit agter Hyme se lessenaar, sit sy leesbril op en maak die dokument plegtig oop. “Daar is ‘n paar byvoegsels tot die testament rakende Klub Paradiso.”

Levine loer na Vinni. “Die veranderinge is letterlik ure voor jou moeder se afsterwe aangebring.”

Vinni se wenkbroue skiet op; hy skuif ongemaklik rond.

“Meneer Goldberg het dié gedeeltes op ‘n aparte dokument aangebring. Ek lees dit dan nou ook eerste.”

Vinni knik. So ver as wat dit hom betref, kon Hyme dit op ‘n rol toiletpapier geskryf het.

Levine begin plegtig lees. “Paragraaf een. My seun Vincent Bertelli erf die volle inhoud van Klub Paradiso wat die huidige voorraad, alle meubels, toebehore en bybehore insluit.

Vinni glimlag van oor tot oor; hy lyk soos ‘n kat wat ‘n groot piering room gekry het. Levine gaan voort.

Paragraaf twee. Klub Paradiso sal een maal per week ‘n gratis vertoning vir pensionarisse en ander behoeftiges aanbied. Gratis verversings sal tydens dié vertoning verskaf word asook ‘n gratis gekookte maaltyd na die vertoning.

Vinni vlieg op. “Dink sy ek’s die Salvation Army?”

Livine kyk streng oor sy bril. “Sit asseblief, meneer Bertelli.”

Paragraaf drie. Vanaf die eerste Mei sal daar onder geen omstandighede meer ‘stripshows’ in Klub Paradiso aangebied word nie. Die Engelse term ‘stripshows’ word hier gebruik omdat daar, volgens mevrou Bertelli, nie ‘n gepaste woord in Afrikaans bestaan om so ‘n onding te beskryf nie.

Vinni vries vir ‘n oomblik, spring op en trek los. “Daar het jy dit nou, die doodsvonnis van die klub is offisieël, basuin dit uit op die strate!”

Rot fluister benoud. “Sheesh, en nou meneer? Nou’s die plek mos niks werd nie!”

“Orde asseblief, menere, dat ons die saak kan afhandel.”

Vinni gaan sit in ‘n hopie. “Ons sal die verdomde ding moet swaai Rot, daar is darem nog ‘n paar dae voor die eerste Mei oor!”

Levine kyk geïrriteerd na hulle. “Het u nou klaar gepraat, meneer Bertelli? Ek het dringende werk wat wag.”

“Ja jong, neuk maar voort.”

Paragraaf vier. Alleenlik danse met ‘n sterk kulturele inslag, opera-areas, volwasse- en kinderkore, gospelmusiek en komedie-sketse in algemene goeie smaak mag aangebied word.

Levine loer na Vinni. Die groot piering room is voor Vinni weggepluk.

Ons gaan voort … Verder mag daar ook gereelde voorlesings van verse aangebied word, wat eers deur die gewaardeerde doktor Daniël Hugo goedgekeur sal word.

Dit lyk asof Vinni enige oomblik gaan naar word.

Paragraaf vyf. As hierdie instruksies nie volgens die letter van die wet uitgevoer word nie, sal my seun Vincent Bertelli, gebore Vincent le Roux en wat tans die uitvoerende bestuurder van Klub Paradiso is, onmiddellik vervang word en dusdanig alle regte op finansiële ondersteuning en/of erflating van die trust verbeur.

Vinni kreun. “Okei Levine, skip daai shit en kom by die ‘wie-erf-wat’ gedeelte. Ons weet nou die Klub is ‘n fokkop!”

Levine kyk vies na Vinni voor hy verder lees. “Ek, Anna Sophia Bertelli, by my volle verstand en …

Vinni val hom in die rede. ““Ek’s nie so seker van daai ‘by-my-volle-verstand’ gedeelte nie!”

Levin se geduld is op. “Asseblief, meneer Bertelli! Jou moeder was ‘n gewaardeerde kliënt van ons firma!”

Vinni ignoreer die teregwysing. Hy wys met ‘n draaiende vinger dat die ou ‘n bietjie spoed moet optel.

Levin sug. “Dan slaan ons maar dié gedeelte oor, want dit is maar standaard-prosedure.”

Levine blaai om en lees verder. “Ek laat aan my seun, Harold Jones, wat by aanneming aangedring het om sy geboortenaam en -van te behou en wat met groot ywer en toewyding deurgaans gepoog het om homself as mens te verbeter …

Weer vlieg Vinni op en maak asof hy ‘n viool bespeel. “Blêddie saint! Speel viole, speel!”

Levine kners op sy tande. “… die bedrag van nege-miljoen-vyf-honderd-en-vyftig-duisend rand in trust waarmee hy in oorleg met die trustees na goeddunke kan handel.”

Vinni se mond val oop. “Ek het nie die vaagste idee gehad dat sy so dik in die geld was nie. Lyk my ek gaan after all oukei wees, Rot.”

Levine gluur na hulle en gaan dan voort. “Aan my seun, Vincent Bertelli, laat ek al my aandele in Klub Paradiso …

Vinni glimlag nou van oor tot oor; die piering room is nou weer binne bereik. “Daarsy, nou gaan ons die plek blitsvinnig kan verkoop, Rot!”

Levine glimlag voor hy voortgaan. “… maar slegs op die volgende voorwaardes: Nommer een. Die besigheid mag aan geen persoon anders as Harold Jones verkoop word nie, of in welke geval die genoemde persoon nie in staat is om dit weens keuse of afsterwe in ontvangs te neem nie, die Klub aan die Oudtshoorn Rooms Katolieke Kerk geskenk sal word.”

Vinni word bleek.

Nommer twee. Die Klub sal deur Vincent Bertelli, onder die direkte toesig van my lewenslange getroue vriend, Vader Aldo Venturi, van die Rooms Katolieke Kerk van Oudtshoorn bestuur word.

Vinni gryp sy kop vas. “Ag heiland tog! Tog net nie daai ou suurgat nie!”

Levine sukkel om sy schadenfreude te onderdruk. Hy lees voort.

Nommer drie – Die uitsluitlike doel van Klub Paradiso sal wees om die lewenskwaliteit van senior persone en hulpbehoewendes te verbeter. Hierdie aspek sal ook deur Vader Aldo Venturi deurlopend gemonitor word. Sy besluite is finaal en onbetwisbaar.

Vinni is ‘n verslane man; die bakkie room lê omgeskop op die vloer.

Nommer vier – Die Rooms Katolieke-kerk is geregtig op veertig persent van alle winste.

Vinni vlieg op en gooi sy hande desperaat die lug in. “Daar het jy dit! Daai Klub is nou so dood soos die spreekwoordelike donnerse mossie!”

Levine blaai om. “‘n Verdere bedrag, wat tans in ‘n trust-rekening by Goldberg, Ledwaba en Levine in trust bewaar word, sal aan Vincent Bertelli beskikbaar gestel word as hy stiptelik by bogenoemde bepalings bly.

Vinni se oë helder op. Is daar lewe na die dood?

Levine haal tydsaam sy sakdoek uit sy sak en blaas ewe tydsaam sy neus.

“Komaan, hoeveel kry ek?” wil Vinni weet.

Die prokureur vou die sakdoek netjies toe en bêre dit in sy baadjiesak voor hy voortgaan. “Genoemde fondse sal op Vincent Bertelli se vyf-en-sewentigste verjaarsdag of …” Levine loer vir Vinni oor sy bril,  “… of op sy eersgeborene se vyf-en-dertigste verjaarsdag aan hom beskikbaar gestel word. Wat ook al die eerste sou kom.”

Vinni snak na sy asem. “Sy kan nie dit staan en doen nie, ek het daai geld nóú nodig!”

“Ongelukkig vir jou, meneer Bertelli, kan sy met haar geld doen net wat sy wil!”

”Dis nie meer haar geld nie! Teen die tyd is sy al lankal …!”

Hy sluk sy woorde, spring op en storm uit, met Rot kort op sy hakke. By die deur draai Rot om en dreig. “Ek dink nie julle het al gesien hoe lyk meneer as hy die dag regtig die moer in is nie!”

Leave a Reply

error: Content is protected !!