Skip to main content

GEORGE APRIL

Yanga “Bara” Nyalara, wat teregstaan vir ‘n beweerde aanranding in 2016, het Vrydag vlugtig in die Kaapse streekhof verskyn. Hiérdie keer op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie.

Luidens die klagstaat, word Nyalara aangekla vir ‘n beweerde voorval wat reeds op 30 Junie 2016, by of naby ‘n MTN-winkel in St Georges Mall plaasgevind het.

Nyalara het na beweringe ‘n persoon wederregtelik en opsetlik aangerand.

Die beskuldigde het na bewering ook die persoon se Samsung-selfoon ter waarde van R2300, R1000 kontant en ‘n baadjie afgevat.

Die saak is tot 5 September uitgestel vir ‘n voorverhoor, en om ‘n verhoordatum vas te stel.

Dié saak kom ‘n week nadat Nyalara saam met ‘n medebeskuldigde, Wanda Tofile vrygespreek is van 20 aanklagte, insluitend 12 aanklagte van moord in die Goodwood-gevangenis.

Dis nie seker of die beskuldigde in aanhouding is nie.

Die polisie het nie gereageer op navrae nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!