SONJA BROWN
Om ‘n volwassene te wees is nie altyd maanskyn en rose nie. Die Waarheid het ‘n paar mense gevra of hulle soms sou wou protesteer teen volwassenes wees.
“Beslis!” het Bennetta Swanepoel gesê. “Ek sou graag meer rustyd en middagslapies wou hê.”
Adri du Plessis het gelag oor die vraag. “Natuurlik! Ek sal dadelik ‘n wêreldwye betoging organiseer. Mense bymekaarbing, gewapen met protesborde wat goed op het soos ‘Begrotings moet afgeskaf word’, of ‘Vierdag-weke moet ingestel word’. Ek is moeg om balle in die lug te hou in die meedoënlose verantwoordelikhede wat met volwassenheid gepaard gaan,” het sy half ernstig gesê.
“Hei, wanneer laas het jý pret gehad,” wou Jaco Greyling weet. “Iets wat nie ‘n moet-doen-lys insluit nie? Ek sou graag net vir ‘n hele dag wil tekenprente kyk en graanvlokkies met baie suiker en melk uit ‘n diep bak eet sonder om te dink aan ‘n verband wat betaal moet word.”
Die algemene konsensus onder al die grootmense wat ondervra is, sluit dié lys van eise in:
Verpligte Slaaptyd: Elke werksdag moet ‘n 1-uur-slapie insluit, kompleet met sagte komberse en iemand wat ‘n slaaptydstorie lees. “As kleuterskole slapies kry, hoekom moet ons nie? Ons is baie meer moeg!” lag een ‘betoger’.
Toegang tot speelgronde vir almal: Swaaie, glybane en klimrame moet in elke woonbuurt vir volwassenes beskikbaar wees. “Wanneer het ons besluit dat pret net vir kinders is? Het jy al ooit as volwassene probeer swaai? Dit is magies!” sê ‘n man met ‘n denkbeeldige naamplaatjie wat lees “Herman—Nie Verantwoordelik Vir Enigiets Vandag nie.”
Rekeninge moet opsioneel wees: Verskeie ‘betogers’ se plakkate sal eenvoudige stellings bevat, soos ‘Rekeninge = NEE!’ Sulke ‘betogers’ voer aan dat uitgawes vir volwassenes soos nutsdienste, huur en versekering ‘onredelik ingewikkeld’ is en vervang moet word met eenvoudiger ruilhandelstelsels, wat verkieslik versnaperinge behels.
Pouses en peuselhappies: Volwassenes eis ‘n terugkeer na die eenvoudiger dae van rustyd en geskeduleerde peuselhappies. Een vroulike ‘betoger’ wat ‘n voorliefde vir malvalekker-vissies het, het gesê: “Ons is moeg vir spanboupogings en aanlynvergaderings. Laat ons eerder vir 20-minute om ‘n veld hardloop vir ‘n prys, soos malvalekkers,, en ons sal baie beter werknemers wees.”
Een so ‘n protesdag kan moontlik ‘n chaotiese maar vreugdevolle toneel afgee. Verbeel jou … Volwassenes wat frisbees gooi, vroteier speel, en op hul rûe lê en wolkdiere opmaak. Natuurlik enigiets wat nie ‘lae-rug-kwessies’ insluit nie.
Wie wil nié graag terugkeer na die dae toe ons enigste bekommernis was of die roomyskarretjie verby ons huise gaan ry nie? (En daar steek vele mense hul hande op!)
Die Waarheid vernoem betroubaar dat protesorganiseerders beslis opvolggeleenthede beplan, insluitend ‘n “Pajama Dag by die Kantoor”. Nou ja, stuur dan maar foto’s…
Toe die betoging tot ‘n einde gekom het, het ‘n groep uitgeputte deelnemers in ‘n kring saamgedrom vir wat hulle “verpligte afblaastyd” genoem het, en rustig gesit met sapsakkies in die hand en besin oor ‘n dag wat goed spandeer is.
As niks anders nie, het hierdie betogings ‘n waarheid beklemtoon wat ons almal diep binne voel: Volwassenheid is moeilik, en miskien verdien ons almal ‘n bietjie meer ruskans, peuselbroodjies en af en toe ‘n middagslapie om dit deur te maak.