Skip to main content

Sonnette Lombaard

Skaars bevind ’n opname dat ’n kwart van mense tussen 18 en 34 jaar (Gen Z en Millenniërs) nooit hulle telefoon beantwoord nie, of Australië word die jongste land om oorwerkte werknemers wetlik te beskerm wat nie werkverwante boodskappe na-ure wil beantwoord nie.

Australië is nie die eerste land wat sulke wetgewing instel om poegaai werknemers te beskerm nie. Frankryk het reeds in 2016 ‘n reg om te ontkoppel-wet aangeneem, terwyl België, Italië en Spanje, asook lande in Latyns-Amerika, sedertdien soortgelyke wetgewing aanvaar het.

Weens al minder werksgeleenthede en ekonomiese realiteite in heersende tye is die wye en toenenemde misbruik van werkgewers goed gedokumenteer.  ‘n Nuwe Australiese wet beskerm nou voos werknemers wat buite amptelike werkure uitgebuit word.

Met enkele uitsonderings, hoef werkende Aussies nou nie meer werkverwante boodskappe buite hulle werksure te beantwoord nie. Hulle het nou amptelike toestemming om hul base buite werksure te ignoreer, danksy die nuwe wet.

Die wet verbied nie streng dat werkgewers hulle werkers ná werksure bel of boodskappe stuur nie. Maar dit beskerm werknemers wat weier om kontak of poging buite hul werksure te monitor, lees of beantwoord, tensy die weiering onredelik is.

Dit sluit in kontak van hul werkgewer, sowel as ander mense, indien die kontak of poging daartoe werkverwant is.

Die wet het gister in werking getree vir die meeste werkers. Dit voeg Australië by ‘n groeiende lys van lande wat poog om poegaai werkers se vrye tyd wetlik te beskerm.

“Dit gaan daaroor om ‘n gesonde werk-lewe balans terug te bring en te verseker dat mense nie ure se onbetaalde oortyd moet doen vir die nagaan van e-posse en die antwoord op kontak buite werksure,” het sen. Murray Watt, Australië se minister van indiensneming en werkplekverhoudinge, gesê.

Die wet gee egter nie werknemers ‘n volledige vrypas nie. Dit bepaal dat ‘n persoon se weiering om te reageer as onredelik beskou sal word onder sekere omstandighede, met inagneming van die senioriteit van die werknemer, hul persoonlike omstandighede (insluitend versorgingsverantwoordelikhede), die rede vir die kontak, en hoeveel ontwrigting dit vir hulle veroorsaak.

Beskermings is daarop gemik om die tamelet van balans tussen werk en vrye tyd aan te spreek. Daar word gehoop dit sal help om die grens tussen persoonlike en professionele grense – wat toenemend vervaag het met die opkoms van tuiswerk sedert die pandemie – te versterk.

‘n Opname in 2022 het bevind sewe uit tien Australiërs arbei tot ses ure per week buite geskeduleerde werksure, met baie wat fisiese moegheid, stres en angs rapporteer. In 2023 is berig dat Australiërs ‘n gemiddelde van 281 uur onbetaalde oortyd in dié jaar aangeteken het. Teen gemiddelde loonkoerse beteken dit die gemiddelde werker het die ekwivalent van byna $7,500 Amerikaanse dollars elke jaar verloor.

“Dit is veral kommerwekkend wanneer werkers se aandeel in nasionale inkomste op ‘n histories lae vlak bly, loongroei nie tred hou met inflasie nie, en die lewenskoste styg,” het die Australiese Raad van Vakbonde gesê.

Die raad het die nuwe wet geprys as ‘n “lewenskoste-wen vir werkende mense,” veral in bedrywe soos die onderwys, gemeenskapsdienste en administratiewe werke. “Dit spreek terselfdertyd die groeiende krisis van toenemende geestesgesondheidsiektes en beserings in moderne werkplekke aan.”

Inmiddels het ‘n onlangse opname in Brittanje bevind dat ’n kwart van mense tussen 18 en 34 jaar nooit die telefoon beantwoord nie. Die nagenoeg 2 000 deelnmers daaraan het o.a. millennium overload as ‘n rede gegee.

Hulle ignoreer die foon as dit lui, en reageer via teks of soek die nommer aanlyn as dit onbekend is. Die opname het ook gevind dat byna 70% van 18 tot 34-jariges ’n teks bo ’n telefoonoproep verkies, berig die BBC.

Die nuwer generasies is gebore toe landlynoproepe in onbruik verval het en sms’e gedebuteer het. Daarna het selfone, die kuberruim en sosiale media oorgeneem. Volgens sielkundiges het jongmense nie die gewoonte ontwikkel om oor die telefoon te praat nie, en vind “dit nou vreemd”, aangesien dit nie die norm is nie”.

Dit kan jongmense laat vrees vir die ergste wanneer hul telefoon begin lui. Meer as die helfte van die jongmense in die opname het erken hulle dink ’n onverwagte oproep beteken slegte nuus.

Leave a Reply

error: Content is protected !!