Skip to main content

Sonnette Lombaard

Die Amerikaanse dramaturg/akteur wyle Sam Shephard het eens ‘n joernalis gesnoer wat gewonder het of hy hulle gesprek vorentoe vir ‘n draaiboek sal gebruik. “We’re not having a dialogue, this is question and answers,” het hy die nuushond reggehelp. “Dialogue is like jazz. Dialogue is creative.”

Wel, Dirk Lotriet het dialoog presies verstaan. Hy het gewis hoe om kreatief met homself en leef om te gaan. Dirk sou hiervan hou, verleë lag oor ek hom in dieselfde asem noem as só ‘n veelsydige, slim, en wel, sexy gees. Sy soort-skewe glimlag sou wyer raak oor wat volg.

Sien, ek sweer die heelal het saam geknoei … gesórg dat Dirk Lotriet en die Franse hartebreker Alain Delon op dieselfde dag finaal op die Aardse verhoog buig. Met sy styl en trefvoorkoms – gebeitelde gelaatstrekke, deurdring-blou kykers en magnetiese teenwoordigheid – het Delon gemesmeraais. Hy is dikwels vergelyk met ‘n kat. Maar sy uiterlike grasie was ‘n masker vir ‘n moreel-soekende anti-held wat soms kon steier en sy bulgeveg-mantel brutaal kon klap.

Kan net sowel Dirk wees wat ek hierbo beskryf. Weliswaar ‘n rowwer Boerseun-weergawe daarvan, maar Dirk wás ‘n looker én ladies man. Nooit skaam om evas nie … tog het die waaksame glinster in sy sagte oë wat seerkry weggee, nimmer gewyk nie. En ek onthou daai gesinskat  … knus langs hom op sy tuisbed in sy twilight-dae laas week.

In ‘n ongenaakbare manswêreld kon vroue verspot maklik Dirk draai, harder realiteite versag. En sagtheid was belangrik vir Dirk. Hy het die lewe, menswees en genade groot volskoot verstaan. Gewis van ontvlugting, dat sy boot ook kalmer waters moet bevaar om dinge draaglik te hou en sy ego te sus. Dat sy enigste dogter Eva heet, verklap veel van Dirk.

Hoewel ons as joernaliste oor dekades saam by Media24 gedraai het, het ons mekaar leer ken in 2008 se winter. Dirk was adjunk-redakteur van die Sondagkoerant Sondag in Johannesburg toe ek ingeval het. My vroulike kollegas het my gou meegedeel ‘n draai in Dirk Lotriet se wit afslaan-sportmotor is tradisie vir álle nuwelinge.

Op dag drie vat ons die pad weswaarts uit die Goudstad. Met die dak afgerol, luister ons na sy musiek en gesels en vra uit tussendeur. Min wetend ‘n voorsmakie van nog baie gedeelde motorritte veel later.

Tipies Dirk, het hy tong-in-die-kies ‘n Wall of Fame in Sondag se redaksiekantoor begin. Kollegas se gesigte is op plakkate van bekende flieks ingetrek vir sy sg. Muur van Beroemdes. Toe ek my oë uitvee, pryk ek op Twilight se poster saam met Robert Pattinson!

Ons paaie sou tydelik skei, maar in 2021 duik Dirk by die boekwinkel in Linden op, wat ek toe bestuur het. Vra of ek fliekresensies vir Die Waarheid wil doen, waar Louis Liebenberg hom as mediabaas aangestel het.

Kort voor lank ploeg ek ywerig vir sy aanlynkoerant. Hy kom met ‘n werkaanbod en so werk ons weer saam en leer mekaar baie beter ken. Interessant, deel ons skrywers by Die Waarheid se redaksie – Dirk, ek en Sonja Brown – al drie Brakpan-slypjare!

Weens visie-uitdagings wat bestuur bemoeilik, het ek saam met Dirk soggens uit Joburg werk toe en namiddag uit Kemptonpark terug gery. In ‘n stadium was beide ek en hy siggestremd en het ons daagliks die besige snelweg heel  “avontuurlik” agter donkerbrille aangedurf.

Dirk was ‘n goeie, veilige bestuurder en kon ná twee oogoperasies weer helder sien. “Lewensveranderend”, het hy verklaar en terstond blomme vir sy vrou, Estene, gaan koop …“omdat ek weer die kleure kan sien”.

Dis Dirk – fyn grootgemaak met outydse maniere deur ma Lenie wie saam met Estene enduit langs sy sterwensbed was. Sy leergierige gees en uitstekende algemene kennis was besonders en het van hom ‘n lekker ry- en geselsmaat gemaak.

Lank laas het ek iemand ontmoet wat soveel oor so baie onderwerpe geweet het én daaroor kon geséls. Lenie vertel juis hy was al kleintyd betower deur boeke en biblioteke. Dat sy onderwysers gou sy wye kennis opgemerk het en dat Dirk sy kennis en boeke vrygewig met sy skoolmaats gedeel het.

Sy omvangryke kennis, asook uiteenlopende en interessante stokperdjies wat hy passievol in sy 58 jaar op Aarde uitgeleef én geslyp gehou het, was lekker om van te hoor. Albei weetgierige en nuusgedrewe wesens wat die lewe wyd wou proe, het ons geselse nooit opgedroog nie.

G’n onderwerp was taboe nie, maar gebeure rondom die menspsige, sport, politiek, mediese wetenskap, musiek, modes, letterkunde, geslagskwessies en godsdiens het ons nuuskierigheid bly vuur. Ons het ‘n afkeur gedeel in mens-sirkusse, hetsy trouseremonies, afskeide of blatante gespoggery.

Vir ‘n manly man en taalreus, kon Dirk nie net meubels aanmekaar timmer en/of restoureer nie, maar vlytige sin gehad in velerlei fynere dinge soos modeneigings. Sy gekoesterde versamelings van manshorlosies en parfuum het van sy liefde (en kennis) daarvoor getuig. Hy was ook nie skugter vir ‘n naaimasjien nie en het sy eie uniek-kreatiewe hemde gemaak, asook die trou-onderbaadjie vir sy seun. Ditto rokke gestik vir Estene, Eva en sy skoondogter en beddegoed vir die huis.

Ná als staan ek die eerlike weergee van ‘n menslewe voor. Eie aan die taai Aardse tog, was daar onder Dirk se deksel dorings, stryde en seer wonde. Die gebalanseerde waarheid is dat hy ‘n komplekse siel en kreatiewe kop moes navigeer. Sy lewenslange versamelgees, bymekaar hark van dinge wat vir hom getel het, het sy rustelose strepe getemper en sy sensitiewe verstaan gevoed. Dit het sy menshart genadig laat punt.

Werklik práát in jazzy-styl, is waar ek en Dirk vlot gekliek het. Oud genoeg om wanneer ons gehaak het, nie daarby te stol nie. Altyd het ons weer gemaklik laat waai met heerlike deeldinge, lang geselse oor wat ons ookal getiep het.

Dít sal ek mis. Wanneer ons hom vanoggend in 2024 se laatwinter met vroeë somerondertone hartseer groet, sal my hart dankbaar klop vir Dirk Johannes Lotriet oor my pad. Die man met die stoute oë en hartseer glimlag, of is dit nou andersom?

Vir hom hierdie raakvat van nog ‘n sonderlinge siel wat hý sou koop: “Pyn, plesier en dood is bloot ‘n proses vir bestaan. Die revolusionêre stryde hiertydens inwaarts en uitwaarts open die deur na intelligensie.” – Frida Kahlo

One Comment

  • George April says:

    Ek het twee jaar gelede ‘n storie op facebook gelees, wat ‘n skrywer van Die Waarheid gepost het. Ek het die online begin volg, omdat die inhoud van berigte my geboei het.
    Ok ‘n dag besluit ek om ‘n epos na die online te stuur, wie weet.
    Op ‘n Vrydagoggend kry ek ‘n apps van Dirk Lotriet, George skakel my vanaand na 7h00 asb.
    Ek onthou daardie oproep nog soos gister, ons het seker maar as ‘n uur gesêls, en na daardie oproep word ek deel van die span.
    Ek kon enige tyd die foon optel en vir Dirk skakel, hy sal terug skakel as hy nie kan antwoord nie. Ek het ‘n band opgebou, met iemand wat ek nooit die geleendheid sal kon kry om te ontmoet nie.
    Sonnette, Sonja, julle twee dames het ek deur Dirk ontmoet, julle is die wonderlikste wesens, mense om mee saam te werk in ‘n span.
    “En glo my, na 28 jaar as vryskut by media24, het Dirk my die groot kans gegee om my uit te leef in my God gegewe talent, skrywe net die feite..!!!
    .

Leave a Reply

error: Content is protected !!