Skip to main content

George April

Wetstoepassers het Maandag namiddag omstreeks 18:00 ‘n motorfietsryer vir ‘n verkeersoortreding in De Wet Straat, Lotusrivier, afgetrek.

Terwyl die beamptes besig was om ‘n boete uit te skryf, het omtrent 20 mans die beamptes omring om soedoende hulle uitsig te belemmer.

‘n Gespanne atmosfeer het geheers, omdat die beamptes nie geweet het wat aangaan nie. Hulle was ook nie konfronteer deur die mans nie en het dus nie geweet waarom hulle omsingel word nie.

Intussen, sonder dat die beamptes dit geweet het, het ‘n gewapende rooftog oorkant die pad plaasgevind.  Jongens met maskers aan was besig om die Engen-motorhuis oorkant die pad te beroof.

Die Wetstoepassings-beamptes het kennis geneem daarvan toe hulle opmerk het dat persone by die geriefswinkel uithardloop met kartonne sigarette, ander items en die kasregister.

Voordat hulle kon reageer, het die verdagtes wat die winkel beroof het, gedreig dat hulle geskiet sal word as hulle nader kom. Dit het die beamptes genoop om stil te staan.

Die beamptes kon ook nie dadelik reageer nie, aangesien daar baie lede van die publiek by die vulstasie en geriefswinkel gestaan het, en hulle beseer kon word indien ‘n oor-en-weer skietery sou plaasvind.

‘n Groep mans het vinnig in ‘n wegkomvoertuig wat naby geparkeer was, ingespring en weggejaag.

Twee ander mans uit dieselfde groep rowers was op pad na ‘n ander voertuig. Die wetstoepassingsbeamptes het die twee agternagesit en hulle aangekeer.

Albei verdagtes is in hegtenis geneem op aanklag van sakeroof.

Die polisie het nie op enige navrae van Die Waarheid reageer nie.

Leave a Reply

error: Content is protected !!