Skip to main content

George April

Matthew van Wyk (19 jaar) van Bayview Strandfontein moes vlug vir sy lewe nadat ‘n baksteen deur sy bakkie se kantruit sy kop getref het.

Die Waarheid het Maandag berig oor die “smash en grab”-gevalle wat byna daagliks in die Kaapse Skiereiland met onskuldige motoriste gebeur.

Op die 12de Julie het van Wyk ook byna sy lewe verloor as gevolg van ‘n soortgelyke misdaad.

Hier is sy storie…

“Ek was van die lughawe industriële gebied op pad. Deur Phillipi, op die Eisleben pad na Mitchell’s Plain. Dit was ongeveer 7 uur die aand toe ek by die rooi verkeerslig op die kruising van die nuwe Eisleben en Sheffield pad gestop het, en dis waar my nagmerrie begin het.

“Die jong het verby my bakkie geloop, skielik omgedraai, my ruit stukkend geslaan en my teen my skedel getref. Ek het my bewussyn begin verloor, maar het in my half-bewustelose toestand my stuurwiel vasgehou, en gery. Om steeds weg te ry kon was ‘n wonderwerk, aangesien agterna bevind was dat my skedel stukkend geslaan was, en ek bloeding op my brein gehad het.

“Die enigste manier waarop ek kon wegkom, was om op die grondpad te ry, waarna ek in twee voertuie vasgery het. ‘n Bussie het langs my gestop, en ek het gehoor iemand skree ‘Klim uit die voertuig!’ terwyl ek tussen die geweldige pyn net probeer het om aan die lewe bly.

“Dis toe dat ek agterkom dis die polisie wat my beveel om uit die voertuig te klim en my hande in die lug te hou.

“Ek het vir die polisie gesê ek bloei, maar hulle het my uit die voertuig getel, en teen die kant van die bakkie staangemaak. Iemand het na hulle gehardloop en vir hulle gesê ek was amper gekaap en was aangeval.

“Ek was vol glas toe hulle my uit die bakkie gehaal het. ‘n Ambulans wat gebel was het nie opgedaag nie, en my pa wat ontbied was, het my hospitaal toe geneem.

“By die Mitchell’s Plain Mediese hospitaal kon hulle nie ’n operasie aan my kop kan doen nie, en ek moes oorgeplaas word na die Gatesville Melomed privaat hospitaal, waar ek twee weke in die in ICU-eenheid was.”

‘n Deel van Matthew se kopbeen moes weggesny word weens die erge aanranding met die baksteen.

“Ek is lewenslank geskend, en ek het as gevolg van die aanval my werk verloor,” het Matthew sy teleurstelling uitgestippel.

“Ek is ‘n gebroke mens, sonder enige inkomste, en steeds dreig die eienaars in wie ek vasgery het my om op te dok vir die skade aan hulle voertuie.”

Die jongman herstel steeds van die aanval en gaan nog daagliks vir berading.

Leave a Reply

error: Content is protected !!