Moles by die rugbyklub – Deur Jason Mada
“Pa, check, dis daai antie wat vir ma geklap het toe die skeidsregter háár seun van die veld af gejaag het!”
Al die mense in die vertrek raak skielik stil.
Chappie Vraagom is ‘n groot man met groot, growwe hande, en fris arms. Niemand sukkel met hom of sy familie nie. Dié wat voorheen die fout gemaak het, het intussen besluit dat dit veiliger is om ver weg te trek.
Die vrouens reik met bewende hande na hul duinende halse; die mans wat rook druk vinnig die goedkoop sigarette dood om beter te konsentreer, en die kinders koes met groot oë agter die plêstiek stoele in.
“Hier kom kak,” fluister een man en sy vrou skop hom genadeloos teen die maermerrie. Haar oë pleit en dreig dieselfde tyd dat hy niks verder moet sê nie.
Hy byt sy lip vas en vryf vies oor die brandpyn aan die voorkant van sy been.
Chappie draai sy enorme lyf om in die stoel waar hy by die kroeg sit. Sy oë volg die rigting van sy sestien-jarige seun se stompie-nael vinger. “Die een met die groen sweetpak broek?” vra hy kil.
Almal se koppe draai daarheen.
“Nee, die een reg langs haar. Met die bont kopdoek en swart Harley Davidson-hemp.”
Chappie vat sy glas en gooi die laaste van die brannas en Coke in sy keel af voordat hy stadig opstaan.
Dit is so stil dat jy die hare op die mense se arms kan hoor rys van adrenalien-gebasseerde afwagting.
Chappie gee een tree vorentoe. Die mense skuif weg asof hulle die Dooie See is en hy Moses.
Iemand hik senuweeagtig toe Chappie weer ‘n paar treë vorentoe gee. Hy knak sy kneukels stadig en rol sy skouers terwyl hy met koue oë na die vrou kyk. Uiteindelik staan hy voor haar.
Mense wil flou word van asem op hou.
“Ek kan nie kyk nie,” fluister ‘n haasbek seun van so ses jaar oud met sy hande voor sy gesig. “Sê my wanneer die antie ophou bloei.”
Die Harley-vrou weier om eerste oogkontak te verbreek. Sy lig haar hande stadig na haar kopdoek, maak die doekspeld los wat dit in plek hou, en begin die swart lap stadig van haar kop afdraai. Dan smyt sy dit eenkant toe en vou haar arms oor haar plat bors.
Chappie lyk of hy ‘n aar in sy kop gaan bars. Niemand weet dit is van skok nie. Hy herken natuurlik die tattoëermerke op die vrou se kopvel, maar probeer ongeërgd voorkom. ‘Wat maak die ses-en-twintigers hier?’ wonder hy benoud. ‘Hulle is soos kikoejoe gras. Kom nou oral op.’
“Wetter haar, Pa,” fluister die pokgesig seun. “Ma se neus is gebreek. Sy sal dit so wou hê.”
Die mens in die vertrek brom instemmend. Niemand weet in elk geval wie die wilde kat is wat sommer net so een van hulle Krommedammers te lyf gegaan het nie. Sy is ‘n ‘outsider’ en moet pak kry. Jy kan nie net by ‘n gemeenskap inkom en jou lyf kom rondgooi nie! Buitendien, haar seun is die een wat die gemors begin het. As hy nie vir Jakkals op die rugbyveld gebyt het nie, was Girlie se neus nog reguit. Die skeidsregter het vir haar seun ‘n rooi kaart gegee, en hom van die veld afgejaag. Arme Girlie het spontaan uitgebars van die lag. Sy was gewoonlik so bymekaar mens, maar te veel papsak doen snaakse dinge aan mense. Jy is naderhand nie wie jy moet wees nie.
Na die klap het haar neus soos ‘n bang konyn aan haar wang vasgeklou en in haar oor se rigting gekyk. Gelukkig was daar paramedics langs die veld wat dadelik kon help.
Chappie het nou nie meer ‘n keuse nie. Sy familie se eer is op die spel. Hy bal sy vuiste, vasberade om haar onkant te vang. Het hy maar eerder onthou dat sy pa hom van kleins af geleer het dat mans nie aan vroumense slaan nie…
Harley-vrou se oë vernou en almal kan sien dat sy bewus is van elke beweging wat hy maak.
“Pa!” skel die kind agter Chappie se rug. “Ma gaan nie baie hêppie wees as sy hoor dat pa niks gedoen het nie…”
Chappie oorweeg die stelling. ‘Willempie is reg. Girlie sal kop verloor,’ dink hy. ‘En dis nie mooi om te sien nie. Sy is klein, maar getryn.’ Hy trek sy regterarm terug.
Voordat hy die vrou kan moe … moker, bring sy haar knieg op en tref hom vol in die ‘what-en-what’. Sy kyk met ‘n glimlag hoe sy oë in hul kaste omrol en dan vorm skuim spontaan om sy breë mond. Pyn is ‘n bôgger.
Chappie sak in stadige aksie op sy knieë neer, sy hande beskermend op die kloppende plek net daar waar sy bobene bymekaar kom. Dan val hy vooroor op sy gesig sonder om ‘n poging aan te wend om te keer. Sy ligte is af.
Die stilte, gevolg deur éérs ongeloof, en dan verbasing, duur net twee sekondes voordat dit klink of die jaarlikse basaar geopen is. Party vrouens kry heimlik lekker dat Chappie op sy jis gekry het. ‘n Paar mans pluk selfone uit en neem aanmekaar foto’s wat dalk later ‘n paar rand werd kan wees. Ander lag luidkeels oor wat hulle pas gesien het.
Dit was Chappie se seun wat die kalm chaos oor die afgrond laat rol het. Vir wat spring die maergat toe op die Harley-vrou se rug met sy sening-rige arms om haar keel? Die arme kind het in een beweging deur die lug getrek en ‘n tafel middeldeur geval. Glasstukke van half-vol drankglase wat op die tafel was het oral gespat, en van die skerwe het die kinders agter die stoele getref. Alle hel het los gebars.
Klein kinders met klein bloedspikkels op hul bene se monde was groot oop soos sopborde soos hulle geskreeu het. Die groot-oopmond-kinders se moeders het hulle stywe lywe in rat gebring en na alles wat voor kom geklap om hulle kinders se pyn te wreek.
Dit word toe sommer ‘n ‘free-for-all’ geveg.
Anna Plaatjies trek Getruida aan die hare oor ‘n stoel, want sy het laas jaar kritiek gelewer oor iets wat Anna gedoen of gesê het. Sprinkaan, Getruida se man sien dit, en hy bespring Anna se man, Louwtjie.
Riekie haal haar nuwe valstande uit, vou dit versigtig in ‘n sakdoek toe, en druk dit in die rakkie agter die kroeg se toonbank in. Net in geval. Dan gee sy ‘n hengse oorlogskreet en skop met haar nommer drie tekkie teen Chappie, wat steeds op die grond lê, se bobeen. Sy maak seker dat sy nou wel nie hard skop nie, maar dit is vir haar lekker om deel te wees van die geveg.
‘n Paar opportunistiese kinders glip agter die kroeg in en steel van die drankbottels. Niemand sien dit eers raak nie.
Wie die dienders gebel het weet niemand nie, maar die sirenes maak almal se los hande skielik vas in broeksakke. Bebloede Krommedammers glip by die sydeur uit en hol bloekomplantasie toe. Dis nou dié wat nog kan hol…
“Wat de duiwel gaan hier aan?” skel Sersant Tieties.
“Absoluut niks,” sê Getruida met haar een arm om Anna. “Ons is lief vir mekaar, né Anna-kapat?” Haar ander arm druk sy agter haar rug en knyp arme Anna op die vetrol net onder haar blad. Jy weet mos, daar waar dit ekstra seer maak.
Anna vloek so ‘n string en bespring vir weer Gertruida.
“Kyk hoe lyk die rugbyklub,” fluit Andrew Baadjies. “Dis heeltemal gef … kis!”
“Maak bymekaar wat julle kan,” beveel Sersant Tieties.
Twee konstabels drafstap kroeg toe en begin bottels drank voor by hul hemde indruk.
“Wat maak julle?” skreeu die sersant. “Ek bedoel mense, idiote! Nie dop nie! Hier is baie vangwaens. Maak hulle vol! Die hof gaan weer lekker besig wees volgende week.” Hy draai na ‘n seun wat teen die muur staan. “Waaroor gaan die nonsens?”
“Oor ‘n plat neus wat skeef geword het, en ‘n knieg in kwebels. Dis al,” sê hy verontwaardig. “Plaas julle regte kriminele gaan aankeer, nou druk julle jul neuse in die rugbymense se ontspanning.” Hy klap sy tong en loop by die deur uit.
*****
Chappie bly nie meer in Krommedam nie, verstaan ek. Na die operasie op sy … twaksak was hy ongeskik verklaar om enigiets te doen, en bly nou iewers in Haga Haga aan die Transkei se kus. Almal wonder of die stil praatjies oor perlemoenduikers wat skielik aan die werk is in daai omgewing dalk sy toedoen is, maar niemand sê enigiets hardop nie.
En die rugbyklyb is nou ‘n rolbalklub. Net die buurdorp se mense gebruik dit. Waar sal jy onse mense kry om so half gebukkend agter ‘n dronk bal aan te loop? Nie hier nie, daarvan kan ek jou verseker…