George April
Misdaad is heeltemal buite beheer op die Kaapse Vlakte, met gemeenskappe wat daagliks in vrees lewe.
Só het ‘n gemeenskapleier wat verkies om anoniem te bly, Sondag telefonies aan Die Waarheid gesê. “Niemand is nêrens meer veilig nie, of jy nou loop of ry, jou lewe is in gevaar”.
Die Waarheid kan twee voorvalle bevestig waar twee mense die afgelope twee weke in afsonderlike voorvalle byna hul lewens verloor het, nadat bakstene deur hul motorruite gegooi is. Die eerste voorval het in Eersterivier plaasgevind, nadat die jongman die namiddag op pad van sy werk was.
Die afgelope naweek is ‘n man ook met ‘n baksteen gegooi terwyl hy deur ‘n woonbuurt gery het. Hy veg tans vir sy lewe in die Groote Schuur hospitaal. Mense wie die inligting verskaf oor voorvalle wat plaasgevind het waar gangsters betrokke is, verkies dat hulle name nie genoem word nie, uit vrees vir vergelding.
In twee ander afsonderlike voorvalle in dieselfde omgewing is twee Uber-bestuurders beroof. Inwoners word gewaarsku dat ‘n sindikaat moontlik verantwoordelik is vir die aanvalle. Donderdag middag omstreeks 16:45, is ‘n Uber-bestuurder van sy selfoon, geld en motorsleutels beroof deur die passasier. Die man het ‘n bakkie in Prunus Str in Bonteheuwel aangevra om hom op die h/v Heideveldweg & Rembrandtstraat in Welcome Estate te gaan aflaai. Met die aankoms by die bestemming, het die passasier die bestuurder gevra om om die draai in Rembrandtstraat – wat ‘n doodloop straat is – net langs Heideveldweg oorkant Welkom Primêre Skool te stop. Die passasier het die bestuurder toe met ‘n vuurwapen beroof en daarna deur die park na Bonteheuwel ontsnap.
Vrydagoggend om 08:05 het nog ‘n Uber-bestuurder presies dieselfde trauma deurgemaak. Dit het ook in Prunusstraat in Bonteheuwel begin, en ook in Rembrandtstraat in Welcome Estate geëindig. Die vermeende rowers was hierdie keer drie jong mans, een met ‘n mes en nog een met ‘n vuurwapen. Hulle het ook die Uber-bestuurder se selfoon, geld en motorsleutels geneem. Daarna het hulle deur die park na Bonteheuwel ontsnap.
Die bestuurders is nie enige leed aangedoen nie, en geen saak was by enige polisiestasie aangemeld oor die voorvalle nie. Die polisie se W/O Joseph Swartbooi het bevestig dat daar geen klagtes gemaak was van Uber bestuurders wat beroof is nie.