Sonnette Lombaard
Die besluit van ons held-hokvegter Dricus du Plessis om senior Springbok-rugbypelers soos Siya Kolisi en Eben Etzebeth in sy binnekring te kry het die deurslag gegee in sy suksesvolle verdediging van sy wêreldtitel in gemengde gevegskuns Doer Onder.
Boonop is Dricus se herinnering gisteroggend in die stadion en voor miljoene TV-kykers oraloor wat net deur álle Suid-Afrikaners ten volle verstaan word: “Hulle weet nie wat ons weet nie,” nou oornag ‘n permanente oorlogskreet vir SA sport.
Dít kan vorentoe goud werd wees vir al ons sportspanne, veral in kontaksporte, meen dr. Bruce Copley, internasionaal-gerekende sportwetenskaplike van Stellenbosch. Copley, pa van die Hollywood-akteur Sharlto Copley, was sportsielkundige en is nou ‘n holistiese lewensafrigter in aanvraag.
Hy het met Die Waarheid gepraat nadat Dricus sy middelgewigkampioen-titel in die Ultimate Fighting Championship (UFC) vir die eerste keer suksesvol verdedig het.
“Dricus se sege in Perth hou waardevolle lesse vir ander Suid-Afrikaanse sportspanne en ondersteuners in,” aldus Copley.
Boonop was dit basies twee Afrikane in die hok gister wat om die titel baklei het. Dricus se teenstander was die legendariese Nigeries-gebore Kiwi-hokvegter Israel Adesanya was hy geklop het om sy middelgewigtitel te behou.
Dis die 30-jarige Dricus se tiende agtereenvolgende oorwinning nadat Adesanya in die vierde ronde opgegee het toe die Suid-Afrikaner hom met ‘n verwoede wurggreep vasgepen het.
Wat die sege soeter maak, is dat dit een van twee Suid-Afrikaanse oorwinnings die afgelope naweek in ons geswore sportvyand Australië se agterplaas was. Boonop beide in die westelike kusstad Perth waarheen derduisende Suid-Afrikaners geëmigreer het. Dit het hoorbaar in die stadion weerklink met die sing van Nkosi Sikilele Afrika en veral die Afrikaanse gedeelte van die Stem is lustig en luid saamgesing.
Dricus se oorwinning was kort op die hakke van die Springbokke se siersege teen die Wallabies Saterdag op die rugbyveld in die einste Perth. Die Bokke het die Aussies vir die tweede keer agtereenvolgend geklop – dié keer met 32-12.
En om die sout verder in ons sportvyande se wonde in te vryf, het ons nasionale krieketspan die Proteas toe hulle kriekettoets in die Wes-Indiese Eilande in Guyana met 40 lopies beklink.
Dié driekuns van ons sporttrots weg van die huis af in net een naweek, gee mismoedige Suid-Afrikaners tuis vars hoop en is ‘n tydige inspuiting vir nasiebou en volkstrots. Pres. Cyril Ramaphosa en Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, was blitsig om Dricus, die Bokke en Proteas met hul skitterseges in een naweek op die wêreldverhoog geluk te wens.
Dit sluit aan by ons atlete wat saam met die res van Afrika s’n ons ewe trots gemaak het by die pasafgelope Olimpiese Spele in Parys. Dié vierjaarlikse sportskouspel was ‘n skittersukses vir Afrika met vele spogvertonings van die vasteland se atlete in die Franse hoofstad.
Afrika het sy beste Spele nog beleef. Suid-Afrika se Olimpiese span het in Parys sy medalje-oes by die vorige Spele in Tokio in 2021 verdubbel met met ‘n totaal van ses medaljes (1 goud, 3 silwer, 2 brons).
Dit was naasbeste van die Afrika-lande met Kenia wat bo-aan met 11 medaljes pryk. Afrika-lande het in totaal 39 medaljes by die 33ste Olimpiese Spele verower.
En met boks wat waarskynlik die eerste keer in 100 jaar nie deel van die volgende Spele in 2028 in Los Angeles gaan wees nie, kan dit die deur vir hok- en gemengde vegters soos Dricus open om na Olimpiese roem te mik.
Boks het ná Parys sy Olimpiese status verloor weens erge verskille tussen die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) en die Internasionale Boksvereniging (IBA). Dié omstrede besluit kom weer in 2025 onder bespreking.
Die Olimpiese Spele kom al meer in voeling met hedendaagse voorkeure wat die weg gebaan het vir ‘n klomp nuwe, eietyds-gewilde sportsoorte wat intussen by die Spele toegelaat is.
Eintlik ironies, sê Copley, wat lank sportproffie by Wits en Ikeys en ook by universiteite in die VSA was. Want dis duidelik die millennium-mensdom is opnuut lus vir oeroue sportsoorte, wat weer gewild raak. Soos hokgevegskuns en gemengde gevegskuns waarin Dricus presteer.
Volgens Copley hou hy van Dricus se herinnering aan die stadiongehoor en miljoene TV-kykers van ‘n uitdrukking wat uniek Suid-Afrikaans is.
Sy interpretasie van “Hulle weet nie wat ons weet nie,” is dat dit blitsig posgevat het as nou reeds ‘n permanent-ingebore Suid-Afrikaanse oorlogskreet. Dit sal beslis vorentoe meer opklink.
Boonop is hokgevegte verreweg die gewelddadigste en wreedste van al die kontakportse – soortgelyk aan die antieke en gewilde gladiatorgevegte, verduidelik Copley.
Hy is oortuig die brute krag en mag, en veral die moed en volharding van baie Suid-Afrikaners maak op vir hul moontlike gebrek aan vaardigheid, fynheid en ervaring in dié soort ou gevegskuns of sportsoorte.
“Dit geld ook vir ander kontaksporte, veral rugby. Ek glo dis ‘n hoofrede waarom Dricus verstandig Siya en Eben in sy span vir hierdie kerngeveg betrek het.”
Copley wys daarop dat foto’s van Dricus voor, tydens en ná sy geveg teen Adesanya, die legendariese Nigeriese EFC middelgewig dubbelwêreldkampioenhokvegter, baie verklap.
“Dricus het die twee Springbok-rugbylegendes Siya Kolisi en die reuse Eben Etzebeth by hom voor en ná die geveg. Dit moes intimiderend vir ‘n niksvermoedende Adesanya gewees het.”
Voorts belig die foto’s van Dricus se vrou saam met hom in die ring ná die geveg die groot kontras tussen die wrede slaan en baklei in die hok en die sagte, liefdevolle aanraking wat hy terselfderttyd ervaar het in sy seermaak en brutale geveg.
Adesanya was tot in die vierde ronde die gunsteling om te wen. “Dricus was aansienlik meer geslaan en geskop tot waar hy sy fisieke stoeikrag en vaardigheid kon gebruik vir daai agternek-wurggreep. As hy dit nie kon doen nie, sou hy op punte verloor het met ‘n eenparige besluit van die beoordelaars.”
Dricus se sportmangees om nie net op te gee nie, maar homself weer slim te posisioneer vir ‘n uitklopgreep spreek boekdele, sê Copley.
As ‘n Suid-Afrikaanse professionele gemengde gevegskunstenaar, het Dricus voorheen aan die middelgewig-afdeling in die Extreme Fighting Championship (EFC) deelgeneem, waar hy die middelgewig- en weltergewigkampioen was.
Hy is sedert 2013 ‘n professionele vegter en beklee sedert Julie 2023 die nommer 1-posisie op die UFC-middelgewigranglys, maar het die titel eers op in Januarie 2024 gewen.
Dricus het kleintyd in Pretoria judo en stoei beoefen, en as tiener na skopboks geskuif. Op 17 was hy in 2012 Suid-Afrika se eerste medaljewenner by die WAKO Wêreldkampioenskappe met goud in K-1-styl skopboks.
Hy het toe besluit op gemengde gevegskuns weens die swak betaling in skopboks. Dricus is ‘n uitgesproke en vurige ondersteuner van die Springbokke.