Skip to main content

Sonnette Lombaard

Vlieënde insekte is gewoonlik lastig. Muskiete se byt laat jeukerige rooi kolle. Bye en perdebye steek seer. Vlieë is jiggie. Maar daar is ‘n unieke insek wat mooi en magies is – ‘n antieke en migrerende lugkampioen met reuse-kykers en brose maar supersterk vlerke, afgerond met ‘n blink brein.

Die flinke naaldekoker gryp nie sonder rede die mens se verbeelding vanaf die vroegste tye aan nie. Dié vlieënde insek, fraai in veelkleurige voorkoms, is ‘n superslim dierspesie.

Hulle is die meestervlieëniers van die natuur en kan soos ‘n helikopter sweef, regop en af vlieg, en selfs in die lug paar. Ons leer en kyk af by hulle vermoëns om sywaarts en agteruit te vlieg, en span dit in vir die ontwikkeling van eietydse tegnologie soos hommeltuie en robotte!

Naaldekokers se vindingrykheid is oor millennia geslyp waartydens hulle die kuns van jag, vlieg en ’n buitengewone lang lewe (vir ’n gogga!) kon vervolmaak. As een van die heel eerste insekte wat ons planeet bewoon het, het hulle nagenoeg 300 miljoen jaar gelede verskyn.

Hierdie insekte met die wetenskaplike naam Anisoptera, het ‘n gemiddelde lewensduur in die natuur van ses en ‘n halwe jaar – die meeste daarvan in die nimfstadium. Hoewel amptelike getalle ontbreek, verskyn naaldekokers afhangend van die spesie, van die minste tot kritiek bedreigd op die rooi spesielys.

Lees jy oor naaldekokers se vernuf, verstaan jy waarom hulle in meeste kulture as magies beskou word.

Naaldekokers kan prooi in die lug onderskep, vreesaanjaend dus vir ’n muggie, muskiet of ander klein gogga. Hulle jaag nie net hulle prooi nie; maar gryp dit sommer luglangs. Naaldekokers bereken die spoed en trajek van ’n prooidoelwit, en pas hulle vlugte aan vir onderskepping. Hulle suksessyfer met jag is tot 97%, het ‘n Harvard-studie bevind.

Hulle is dalk klein, maar beskik oor ongelooflike skerp kake. Tydens jag vang naaldekokers hulle prooi met hulle voete, skeur die prooi se vlerke af met hulle skerp kake sodat dit nie kan ontsnap nie, en vreet die vangs op, alles luglangs!

O ja, die meeste naaldekokers se kake is gelukkig nie sterk genoeg om mense te byt nie. Die kleiner handvol groter spesies kán, maar sal net uit verdediging byt.

Min spesies in die diereryk kan meeding met die naaldekoker se buitengewone vliegvermoëns. Naaldekokers het twee stelle, deursigtige vlerke wat onafhanklik werk – spiere in die borskas beweeg elke vlerk apart, en elke vlerkhoek kan dus verander.

Boonop kan naaldekokers in enige rigting vlieg, insluitend sywaarts en agteruit, én in een plek kortliks sweef. Dit dra by tot hulle sukses as lugaanvalsjagters – hulle slaan vanuit enige rigting op ‘n niksvermoedende prooi toe.

Hulle is ook vinnig – sommige spesies bereik ‘n topspoed van 29 tot 61km/h, en hulle spog met buitengewone uithouvermoë. Een spesie, die globe skimmer (Pantala flavescens), is net 3,8cm lank maar vlieg 17 700km aaneen oor oseane, wat dit die wêreld se langste insekmigrasie maak!

Naaldekokers kan dus vir langer tydperke vlieg as enige ander insek op Aarde, insluitend die monarg-skoenlapper.

Dan is daar naaldekokers se onmisbare, deurdringende kykers. Die oë beslaan byna die hele kop van die naaldekoker. Die enorme saamgestelde oë het ongelooflike visie wat amper elke hoek beslaan, behalwe een blinde kol reg agter hulle. Hulle sien waarskynlik beter as mense, selfs ultraviolet lig.

Naaldekokers se oë het 30 000 lense, wat bykans 360 grade visie gee. Elke lens samel inligting oor die omgewing in. Met dié buitengewone sig kan ’n enkele insek binne ’n swerm dopgehou en gejag word, wyl hulle botsings met ander swermgenote vermy.

Naaldekokers kan ook jare onderwater leef! Hulle lê eiers in water, en wanneer die larwes uitbroei, leef hulle tot twee jaar onderwater. Sommige spesies kan tot ses jaar in die larwestadium bly. Hulle sal tot 17 keer vervel voordat hulle na die oppervlak kom en verander in die naaldekokers wat ons in die lug sien.

Spesiaal aangepas vir waterlewe in hierdie stadium, kan hulle dan prooi teen ligte spoed gryp. Hulle eet daartydens ’n groot verskeidenheid kos, insluitend ander inseklarwes, paddavissies, visse en selfs ander naaldekokerlarwes!

Sommige lê ook eiervliese in soutwater. Relatief min insekte kan in die soutwater oorleef, maar die seegrasnaaldekoker (Erythrodiplax berenicei), sorg selfs vir nageslagte in omgewings meer souterig as seewater.

Die seegrasnaaldekoker is ’n uitsonderlike spesie waarvan die verspreidingsgebied beperk is tot southabitats soos soutmoerasse, Mangrove bome en struike en soutmere.

Die mens baat lank by naaldekokers se vernuftigheid. Hulle help om die populasies van plaaginsekte, soos muskiete en bytende vlieë, te beheer. ’n Enkele naaldekoker kan tussen 30 en honderde muskiete per dag vreet.

Vanweë hul ongelooflike vliegvaardighede en visie, inspireer naaldekokers ons ook om nuwe tegnologie te ontwikkel, van hommeltuie tot kunsmatige visuele stelsels!

Naaldekokers benodig beskerming teen gevare deur die mens geskep, van besoedeling tot habitatverlies. Bewusmaking oor hulle kernrol is belangrik. Brittanje het sy eerste naaldekoker-park in 2009 gekry. In Amerika is daar die Naaldekoker-Parkdam in Albuquerque, Nieu-Mexiko. Dit huisves ’n diversiteit van naaldekokerspesies. Ditto die Shimanto Naaldekokerpark in Japan.

By naaldekokers leer ons dus veel. Ons kan ons dank wys deur die bewaring van hulle habitats te ondersteun sodat hulle nog 300 miljoen jaar kan voortbestaan.

Nog interessante feite oor naaldekokers:

  • Terwyl moderne naaldekokers vlerkspanne van 5-12cm het, het fossiel-naaldekokers vlerkspanne van tot 60cm gehad.
  • Wetenskaplikes kon supergroot naaldekokers kweek (15% groter as normaal) met naaldekokerlarwes in kamers wat die Aarde se suurstofvlakke van 300 miljoen jaar gelede naboots. Sommige kenners meen hoë suurstofvlakke tydens die Paleozoïese era het naaldekokers tot monster-grootte laat groei.
  • Daar is meer as 5 000 naaldekokerspesies. Almal behoort tot die orde Odonata, wat “getande een” in Grieks beteken. Die kleinste naaldekoker het ’n vlerkspan van 17-18mm. Die grootste lewende naaldekoker is Petalura ingentissima van Australië, met ’n vlerkspan van tot 16cm.
  • Naaldekokerlarwes eet enigiets, en selfs mekaar. ‘n Naaldekoker kan eet terwyl dit vlieg en kan sy/haar mond so wyd oopmaak soos hulle hele kop.
  • Naaldekokers klap hulle vlerke vinnig om hulle liggame op te warm. Sommige kantel hul vlerke as reflektors om sonstrale op die liggame te rig. Naaldekokers klap hul vlerke 30 keer per sekonde (teenoor bye se 300 keer per sekonde).
  • Naaldekokers het vars water nodig om hulle lewensiklusse te voltooi, en vlieg rond by mere of riviere.
  • Hoewel naaldekokers ses bene het, soos alle insekte, kan hulle nie loop nie. Die manlike naaldekoker bêre sy sperm apart en moet met paring dit na sy penis oordra.
  • Baie kulture heg simboliek aan naaldekokers. Land een op jou kop, wag goeie geluk. Gesien as ‘n simbool van mag en oorwinning, word dit gekoppel aan positiewe transformasies. In Indonesië is naaldekokers ’n heerlike peuselhappie!

Leave a Reply

error: Content is protected !!