Sonnette Lombaard
Vier dae voor wat sy 55ste verjaarsdag sou wees, is vyf mense gearresteer oor die dwelmdood van die Hollywood-akteur Matthew Perry.
Dié deelstaat se owerhede het gister ’n breë kriminele netwerk wat verband hou met Perry en nog ‘n dwelmverslaafde se dood, oopgevlek.
Perry (54) is in Oktober laas jaar dood by sy huis in Hollywood aangetref. Die nadoodse ondersoek het hoë vlakke van die gevaarlike dwelm ketamien in sy bloed gewys.
Die Kanadees-Amerikaanse akteur het wêreldwye roem verwerf as die minsame Chandler Bing in die NBC-televisiereeks Friends van 1994 tot 2004. Hy was ook in ander gewilde TV-reekse en talle flieks te sien.
Perry se stryd met sy dwelmverslawings wat drank ingesluit het, was goed gedokumenteer. Hoewel hy met rukke skoon was, was hy teen sy einde weer verslaaf.
Die Kaliforniese polisie het gister in Los Angeles bekend gemaak dat vyf mense aangekla is rakende die dwelmverwante dood van Perry in 2023. Dit sluit in twee dokters en die akteur se persoonlike assistent.
Die BBC berig die polisie het bekend gemaak die ondersoek na Perry se dood, wat in Mei begin het, het ‘n “breë ondergrondse kriminele netwerk” oopgevlek van dwelmverskaffers wat groot hoeveelhede ketamien versprei.
Tydens Perry se nadoodse ondersoek, is ‘n hoë konsentrasie ketamien in sy bloed gevind. Daar is bevind die “akute newe-effekte” van dié beheerde middel het tot sy dood gelei.
“Die beskuldigdes het voordeel getrek uit Perry se verslawingskwessies om hulself te verryk,” volgens die departement van justisie. “Hulle het geweet wat hulle doen hou groot gevaar vir hom in, maar het steeds voortgegaan,” het ‘n prokureur gesê.
Drie van die beskuldigdes – insluitend Perry se assistent – het reeds skuld beken op die dwelmverwante klagtes, terwyl twee ander – ‘n dokter en ‘n vrou bekend as “Die Ketamienkoningin” – gister gearresteer is.
Ketamien – ‘n kragtige narkosemiddel – word gebruik in die behandeling van depressie, angs en pyn. Dit het ná sy dood aan die lig gekom dat Perry ketamieninfusie-terapie ondergaan het.
Maar sy laaste sessie was meer as ‘n week voor sy dood. Die mediese ondersoeker het bepaal die ketamien in sy stelsel kon nie daarvan wees nie. Die ketamienvlakke in sy liggaam was so hoog soos dié tydens algemene narkose.
‘n Aanklag wat in die federale hof ingedien is, ontbloot die ingewikkelde dwelmhandelnetwerk wat vervolgers meen tot Perry se dood gelei het.
Volgens die aanklaers het Perry se assistent, Kenneth Iwamasa, saam met twee dokters gewerk om die akteur met meer as $50 000 se ketamien te voorsien in die weke voor sy dood.
Hulle voer aan diegene betrokke by die netwerk wou voordeel trek uit Perry se bekende stryd teen dwelmsverslawing. Een van die dokters, Salvador Plasencia, het na bewering in ‘n SMS-boodskap geskryf: “Ek wonder hoeveel hierdie idioot sal betaal.”
Perry se assistent het aan ‘n dokter duisende dollars in kontant betaal vir die ketamien. Plasencia het die ketamien verskaf “buite sy gewone professionele praktyk en sonder ‘n wettige mediese doel”, volgens die aanklag.
Hy het ook glo Iwamasa geleer hoe om Perry ketamien in te spuit sonder behoorlike veiligheidsprosedures en toesig. In die vier dae voor sy dood het Iwamasa na bewering Perry minstens 27 keer daarmee ingespuit.
Ander aangeklaagdes sluit in Jasveen Sangha, die sg. “Ketamienkoningin” wat weer die dwelm aan Plasencia voorsien het met die hulp van twee ander mede-beskuldigdes, Erik Flemming en dr. Mark Chavez.
Sakke vol dwelms en dwelmtoerusting is gevind by Sangha se “stoorhuis”. Chavez, Flemming en Iwamasa het almal skuld beken.
Sangha en Plasencia sal nou in die hof in Los Angeles verskyn. Volgens die aanklaers het die beskuldigdes probeer om hulle beweerde misdade toe te smeer ná Perry se dood.
Sangha het glo vir ‘n ander verdagte ‘n SMS-boodskap gestuur met die opdrag om “al ons boodskappe uit te vee”. Plasencia het ook mediese rekords vervals.
Op die hoogtepunt van sy roem, het Perry gesukkel met verslawing aan pynstillers en alkohol, en was verskeie kere in rehabilitasie. Hy het sy stryd met dwelmmisbruik in sy memoir, Friends, Lovers, and the Big Terrible Thing, beskryf.
In 2016 het hy aan BBC Radio 2 gesê dat hy weens drank en dwelms nie drie jaar van die verfilming van Friends kan onthou nie.
In sy laaste pos op Instagram het die ster foto’s van homself in sy swembad gedeel. Hy is later bewusteloos in sy borrelbad gevind.
As een van die ses hoofkarakters in die sitcom Friends, was Perry deel van een van die gewildste televisieprogramme nog. Die reeks is genomineer vir 62 Primetime Emmy-toekennings. Die ensemble-rolverdeling met Perry, Jennifer Aniston, Courteney Cox, Lisa Kudrow, Matt LeBlanc en David Schwimmer handel oor ses vriende in hul 20’s en vroeë 30’s in Manhattan.
Perry, wat op 19 Augutus 1969 in die VSA gebore is, se ma was ‘n Kanadese joernalis en perssekretaris vir die destydse Kanadese eerste minister Pierre Trudeau. Sy pa, John Bennett Perry, is ‘n Amerikaanse akteur en oudmodel.
Perry se ouers het geskei toe hy een jaar oud was, en sy ma is toe getroud met ‘n Kanadese radiojoernalis. Hy is meestal deur sy ma in Kanada grootgemaak. Perry se probleme het jonk begin en op tien het hy geld gesteel, gerook, en sy skoolpunte het verswak. Hy het ook ‘n mede-skolier en die toekomstige Kanadese eerste minister Justin Trudeau geslaan.
Perry het dit toegeskryf aan sy gevoel van buitestaanderwees in sy gesin. Hy het op 14-jarige ouderdom begin drink en teen 18 elke dag gedrink. Perry het wel op die tennisbaan uitgeblink, en was ‘n top-gekeurde junior speler in Kanada. Hy het egter toe by sy pa in Los Angeles gaan woon en so met toneelspel kennis gemaak.