Skip to main content

Marius Broodryk

GAUTENG – Veertien verdagtes tussen die ouderdomme van 26 en 51 sal na verwagting Donderdag, 15 Augustus 2024 in die Johannesburgse landdroshof verskyn vir aanklagte wat verband hou met die bedryf van onwettige goudverwerkingsfasiliteite in Eikenhof.

Die groep is op Dinsdag, 13 Augustus 2024 in hegtenis geneem ná ’n operasie deur owerhede ná talle klagtes vanaf die gemeenskap in en om Eikenhof oor die bestaan ​​van die fasiliteite. Die verdagtes wat almal Zimbabwiese burgers is, sal teregstaan ​​op aanklagte van die onwettige besit van onbewerkte edelmetale asook oortreding van die Immigrasiewet en Omgewingswet.

Die Wes-Rand-gebaseerde Valke se Ernstige Georganiseerde Misdaad Ondersoekspan, gewapen met ‘n deursoekingslasbrief, het omstreeks 10:00 by die onwettige fasiliteite aangekom. Die wetstoepassingsgroep het bestaan uit die polisie se taktiese reaksiespan (TRT), Gautengse verkeershelikopters, lede van die plaaslike gemeenskapspolisieforum,  die departement van gesondheid en veiligheid, Gautengse verkeersdepartement, departement van binnelandse sake, Departement van Minerale Hulpbronne en Energie sowel as die Suid-Afrikaanse Diamant- en Edelmetaalreguleerder.

Die miernes van bedrywighede wat in erwe weerskante van die R554-pad aan die gang was, is dadelik tot stilstand gebring. Tonne grond met gouddraende materiaal ter waarde van meer as R2,5 miljoen is deur die mynsektor-belanghebbendes herwin en van die toneel verwyder.

Ebrahim Kadwa, provinsiale hoof van die Valke in Gauteng, het die toneel besoek en die multidissiplinêre spanpoging geloof. “Die bestaan ​​van sulke fasiliteite, veral in woongebiede, hou ‘n gesondheids- en omgewingsuitdaging in. Die gebruik van sianied om goud in so ‘n ongereguleerde omgewing te ontgin, is ‘n resep vir ‘n ramp. Die onwettige aktiwiteite het ook ‘n negatiewe impak op die land se ekonomie. Ons doen ‘n beroep op alle gemeenskappe wat soortgelyke onwettige aktiwiteite vermoed om dit by die owerhede aan te meld,” het Generaal-majoor Kadwa gesê.

Leave a Reply

error: Content is protected !!